Bethlehem se museum: ‘Waar ons die toekoms van ons verlede verseker’

Besoekers geniet die uitstalling in die Waenhuis op die museumterrein in Bethlehem. (Foto: Verskaf)

Deur Susan Maré

Die Bethlehem-museum is een van die mees aktiewe dorpsmuseums in die Vrystaat indien nie dié aktiefste nie. Sowel die bestuur as lede is passievol om aan te sluit by museums wat wêreldwyd ten doel het om kultuurgoedere te bewaar en te beskerm. In Suid-Afrika is hierdie bewussyn egter om verskeie redes in ’n stryd om oorlewing.

Die Bethlehem-museum is in die ou sendingkerk gevestig waar verskeie ander strukture, soos ’n waenhuis met vervloë waens op uitstalling, gesien kan word. Vir kinders is daar ’n miniatuur-spoorwegstasie aangelê met ’n treintjie wat klein kinders die ervaring van eerste treinritte op die ysterspore bied. Kinderpartytjies word gereeld by die Nazareth-stasie met sy eie kaartjieskantoor aangebied. Die stasiekafee is in die historiese eenvertrekgebou, Riddle – ’n sinkgebou wat van elders in die dorp hier hervestig is. Die kafee is ideaal ingerig vir funksies, vergaderings en kuiergeleenthede.

Met weinig finansiële ondersteuning genereer die Vriende van die Museum-vereniging jaarliks fondse om hul ideale vir kultuurhistoriese bewaring uit te leef en te verwesenlik. Hulle het vir sowat drie jaar boepensbroodjies (jafels) gebak en verkoop om ’n 1949-John Deer Model A-trekker te restoureer. Die Vriende het nog talle projekte in die mou. ’n Kultuursentrum is in wording waar funksies gehou kan word en ablusiegeriewe in aanbou sodat mense naweke op die terrein kan gaan kamp.

Die Bethlehem-museum huisves interessante uitstallings soos hierdie. (Foto: Verskaf)

Die interieur van die hoofgebou wat ’n nasionaal-verklaarde gedenkwaardigheid is, is met die hulp van museumkundiges van die nasionale museums van Bloemfontein en Pretoria asook die Voortrekkermonument opgeknap. Die uitstallings is volgens tema en elke afdeling het sy eie plaaslike kurator wat ook na die artefakte omsien.

Teen toegangsgeld van slegs R10 per persoon is die Bethlehem-museum seker die enigste toerisme-aktiwiteit in die dorp wat noemenswaardig is. Bethlehem beskik ook oor ’n sandsteenroete waar toeriste per voet historiese sandsteengeboue van betekenis kan verken. Plundering en vandalisme bly egter nie agterweë nie – en al die plakette van die geboue wat nasionaal-verklaarde gedenkwaardighede is, is onlangs uit sandsteenmure gekap en gesteel.

Tertius du Preez, voorsitter van die Museum Trust, die Vriende van die Museum-vereniging en Bethlehem Erfenis-vereniging (BEV) sê die Dihlabeng-munisipaliteit is die eienaar van die erf- en hoofgebou, maar die Museum Trust dien as bestuurder en eienaar van die inhoud en nuwe geboue. Die museum oorleef op geldskenkings, toegangsgeld, borgskappe en allerlei verkope van lede.

“Die BEV het ten doel om Bethlehem se nasionale gedenkwaardighede op grond van Wet 25/1999 vir geboue ouer as 60 jaar te help bewaar. Ons was onlangs genoodsaak om as waghond na vore te tree toe plunderaars die eerste landdroskantoor gevandaliseer het en Anglo-Boereoorlog-grafte in die English Cemetery beskadig is. Twee klagte is by die polisie gelê, maar die plunderaars loop nog vry. Verskeie restourasies in samewerking met die Suid-Afrikaanse Erfenisstigting en die Commonwealth is reeds gedoen. Ons sal onverskrokke as waghonde teen plunderaars van erfenisgoed bly optree.

“Ons vriendelike versoek aan inwoners en mense van ons streek, is dat hulle sal help met kundigheid en selfs arbeid. Sluit gerus aan by ons as museumgroep teen ’n ledegeld van slegs R100 per jaar. Met geldskenkings uit die gemeenskap kan ons historiese erfenisgoed bewaar sodat die jeug en dorp ’n nalatenskap van insig oor die verlede kan hê. Dit is in ons beplanning om meer skoolgroepe te ontvang as deel van die museum se opvoedingstaak.

Die Bethlehem-museum wat in die historiese sendingkerk gevestig is. (Foto: Verskaf)

“Ons droom is om die eienaarskap van die terrein oor te neem. Die munisipaliteit het die versekering gegee dat dit ’n erfenisterrein is en so sal bly. Mense dink as hulle ’n geldskenking maak, is dit vir die munisipaliteit. Nee, dit is vir die Museum Trust. Ons verwelkom ook artefakte van historiese belang wat mense aan die museum wil skenk.

“Dit word voorts beplan om aan die grootste kultuurgroep in die Oos-Vrystaat, die Sotho-groep, ruimte te gee waar hulle hul kultuurerfenisse kan uitstal. Die twee strukture in rondawelvorm sal as ook as inligtingskantoor vir Bethlehemse en Oos-Vrystaatse toerisme dien, waaraan ’n groot behoefte is.

“Bethlehem het nog altyd die toon aangegee in die Vrystaat. Dit is presies wat ons by die museum wil doen en wees, waar ons (soos ons leuse lui) ‘die toekoms van ons verlede verseker’. Ons erfenis is vir ons mooi.”

Alana Bailey, hoof van kultuursake van AfriForum sê dit is prysenswaardig om te ervaar hoe die Bethlehem-museum vir die gemeenskap bedryf word, danksy ’n groep vrywilligers wat hande neem om kultuurerfenisse te bewaar. Die Bethlehem-museum blink veral uit omdat daar heeltyd vernuwing is en nuwe projekte aangepak word waarby die gemeenskap betrokke kan wees. Daar word nie net staties uitgestel nie.

“Waar owerhede museums bestuur, gaan dit nie altyd so goed nie omdat museums ’n stiefkind is in die tyd waarin ons leef.

“Ongelukkig kan museums ook nie meer staatmaak op toerisme nie omdat dit wisselvallig geword het weens Covid-19 en ander redes.

“Die Bethlehem-museum is ’n voorbeeld van hoe ’n museum bedryf kan word. Hiervoor het AfriForum groot waardering.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.