Borskanker: ‘Dit het my laat besef jy is kosbaar, net omdat jy bestaan’

Nanette Vorster en haar gesin. Sy is nou sewe jaar in remissie. (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Nanette Vorster se verhaal begin in 2016 toe sy ʼn geswolle klier onder haar regterarm ontdek het. Min het sy geweet van die uitdagende reis wat sou voorlê.

Nanette het eers gedink dit is weens die verkoue wat sy onder lede gehad het, maar toe dit steeds daar was toe sy gesond word, het sy besluit om vir ʼn ondersoek te gaan.

“Voordat ek na die kliniek gegaan het, het ek eers ʼn doktersvriend genader vir advies. Ek is aangeraai om van meet af ʼn biopsie aan te vra. Die dokter het ʼn biopsie gedoen en die uitslag het bevind dat ek kanker gehad het.” Sy is gediagnoseer met tipe HER2-positiewe kanker, wat beteken dat daar ʼn spesifieke proteïen teenwoordig was wat die groei van die kankerstelle aangemoedig het.

Ná die daaropvolgende toetse en skanderings is streeksmetastase (regional metastasis) in van haar limfkliere in die sleutelbeenarea en in dele onder haar arm gevind. Geen orgaan- of beenmetastase was teenwoordig nie. “Op dié stadium het dit eers ingeskop wat werklik aan die gebeur was. Ek het ʼn een-minuut-huilsessie gehad toe ek my man sien en vinnig myself reggeruk vir die tyd wat voorgelê het. Dit was asof ek dadelik tot besef gekom het dat ek vir hierdie stryd gereed is.”

Voor Nanette se behandeling en operasies, was sy bekommerd oor hoe om die situasie met haar 5-jarige dogtertjie te bespreek. Sy het met haar dokter gesels oor hoe om dit aan haar dogter te verduidelik sodat sy sal verstaan en nie bang wees nie. “Die dokter het aangeraai dat ek haar saambring met my volgende afspraak sodat sy vir haar kon verduidelik met behulp van poppe en speelgoed. Sodoende het sy vir haar verduidelik dat Mamma gaan siek word, dalk haar hare gaan verloor en dat daar sekere dinge gaan wees wat sy nie kan doen nie, maar dat sy medisyne gaan kry en uiteindelik beter sal word en weer die mamma sal wees wat sy ken.”

Kort ná die diagnose is daar met behandeling begin. Sy vertel dat die behandeling en newe-effekte nie te sleg was nie, maar dit was ook nie ʼn plesierige ondervinding nie. Vir die eerste ses maande het sy chemoterapie ontvang wat haar uiters moeg en naar gemaak het. Ná die eerste ses maande het sy begin met ʼn een jaar behandeling van Herceptin – ook bekend as trastuzumab – een keer elke drie weke. Herceptin is ʼn teenliggaam wat gebruik word om borskanker en maagkanker, wat spesifiek HER2-positief is, te behandel. Die simptome wat geassosieer word met Herceptin-behandeling is nie so erg soos met aktiewe chemoterapie nie, maar dit het steeds ʼn negatiewe uitwerking op ʼn mens se daaglikse lewe. “Ná die behandelings wat die groei van die kanker help beheer, het ek ʼn mastektomie aan my een kant ondergaan en die spiere en vet van my oorspronklike bors gebruik vir rekonstruksie.”

Nanette en haar dogters. Haar oudste was maar net 5 toe sy gediagnoseer is en ‘n ware steunpilaar. Haar jongste is gebore te midde van fertiliteitsprobleme en na chemoterapie en bestraling. (Foto verskaf)

Nanette vertel dat een van die grootste dinge waarmee sy moes vrede maak, was haarverlies. “Ek het nie net aan my hare gedink as ʼn kroon en ʼn simbool van wie ek was nie, maar ek was senuweeagtig om byvoorbeeld ook my wimpers te verloor, omdat ek so lief is om maskara te dra.”

Sy is ingelig dat haar hare ongeveer twee weke ná haar eerste chemobehandeling kan begin uitval.

Sy het haar hare bob gesny sodat dit nie so ʼn radikale verandering was vir almal om te prosesseer nie. “Ek het eendag toe ek nie lekker voel nie by ʼn vriendin gaan aanklop. Sy het my versorg. Ons besef toe dit is dag 14 en my hare begin uitval. Ek het my man gebel en hom gevra om ná werk ʼn skeermasjientjie op te laai by ons huis en dit na my vriendin, waar ek was, te bring.”

Sy was senuweeagtig en het uitgestel, maar haar dogter het gesê: “Ok Mamma, kom ons wees braaf,” waarna sy die skeerder geneem het en Nanette se hare begin skeer het. “Almal in die vertrek was verbaas, maar ek het almal verseker en my dogter aangemoedig om aan te hou skeer. Die ondersteuning was daar van my man, my dogter, my vriendin en haar kinders. Daarna het ons almal beurte geneem, ek, my man, my dogter, vriendin en haar kinders, om my hare af te skeer. Om eienaarskap van hierdie oomblik saam met my ongelooflike ondersteuningsnetwerk te neem is wat my deurgedra het.”

Sy het teen die dra van ʼn pruik besluit. “Dit was jeukerig en het my net nie die vreugde gegee wat ek gedink dit sou nie. So ek het voortgegaan om my lewe normaal te lei en net so met my kaalgeskeerde kop uit gegaan en baie terugvoer van vreemdelinge gekry dat ek ʼn inspirasie is. My kaalgeskeerde kop het verander in ʼn ereteken.”

Nanette sê sy het tot die besef gekom dat ʼn mens nooit weet wie se lewe jy aanraak en op watter maniere nie, selfs al is dit bloot om in die oggend op te staan en winkel toe te gaan om melk te koop.

Die gesin het eers bewus geraak van haar fertiliteitprobleme ná die geboorte van hul dogter. Sy het gelukkig embrio’s gevries gehad. “My onkoloog het my ingelig dat daar geen versekering was dat my eierstokke normaal sal funksioneer na die chemoterapie, bestraling en spanning nie.”

Daar was die hangende onsekerheid of hul nog kinders sou kon hê, en Nanette se plan was om haar behandeling en operasies agter die rug te kry en daarna ʼn heerlike, ontspanne eilandvakansie te onderneem. Hierna kon hulle aan die volgende stappe dink om nog ʼn baba te hê. Dié het toe nie volgens plan verloop nie. “Ek was eendag op pad werk toe en het iets in my maagarea gevoel. Dit het gevoel asof my buik vergroot het. Ek het my man gevra om ʼn swangerskapstoets te kry en waaragtig, ek het natuurlik swanger geraak, deur die fertiliteitskwessies, chemo, bestraling en operasies!” Die tweede swangerskap was moeiliker. “Ek besef nou my lyf was nog nie werklik sterk na die chemo sy tol geëis het nie. Ek het baie seer gehad deurlopend, maar kon normaal aangaan met my daaglikse lewe ongeag. Dit was wel ʼn noodkeiser op 34 weke weens ʼn knoop in die koord. Ons baba was ʼn week in die neonatale waakeenheid en toe is ons huis toe met ons gesin van vier.”

Nanette sê haar man was haar troos en rots in die stryd teen kanker. (Foto verskaf)

Nanette is nou sewe jaar in remissie en daar is nog een laaste rekonstruksie wat vir vroeg volgende jaar geskeduleer is. Sy praat net met lof van haar man wat haar troos en rots was deur hierdie reis. “Die dag wat ons my hare geskeer het, was op die uiteinde seker een van my gunsteling-herinneringe van die reis. Dit het net so perfek afgespeel en ek koester die herinnering vandag en is dié gesin ewig dankbaar vir hulle rol in ons stryd.” Een van die belangrikste lesse wat sy geleer het, is dat ʼn mens se waarde nie gekoppel is aan hoe produktief jy is en watse resultate jy kan lewer nie. Jy is kosbaar net omdat jy bestaan. Jy mag stilstaan en net wees, leef, liefhê en lag. Jy hoef nie die heeltyd jou plek onder die son met bloed en sweet te verdien nie. Jy verdien dit, want jy is kosbaar geskape en dit is genoeg.”

Haar boodskap is dat mense meer ingelig moet word, veral dié wat borskanker nie ernstig opneem nie want elke geval is so verskillend van mekaar. Die regte behandeling vir elke pasiënt kan hemelsbreed verskil van mekaar. Vra vrae, kry ʼn tweede opinie, en maak seker dat jou spesifieke tipe kanker effektief met ʼn spesiale behandelingsplan behandel word. Neem die tyd om die regte dokter met die regte vlak van inligting te kry, beman jouself deurentyd met die nodige inligting om so gou as moontlik hierdie reis te takel. Goeie finansiële beplanning is noodsaaklik sodat dit nie bykomende stres veroorsaak nie.

Nanette sê sy dink omdat sy so ʼn ernstige ding oorkom het, het sy soveel minder vrees in die lewe. “Ek is nie bang vir klein dingetjies nie. Om geld of iets materialisties of jou ego te verloor, dit maak nie saak nie. Want op die einde van die dag het ek besef dit is nie dit wat ons maak nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.