‘Dís hoe borskanker regtig lyk’ wys Kaapse sakevrou

Lené Heck, ‘n sakevrou en kankervegter, deel graag eerlike boodskappe en foto’s van haar stryd. (Foto: Facebook/ Lené Heck)

“Om iets te sugarcoat gaan na ʼn ruk gate in jou tande los. Partykeer het ʼn mens nodig dat iemand die waarheid ook vertel.”

Só lui een van vele rou en eerlike inskrywings op Lené Heck, ʼn Kaapse sakevrou en borskankervegter, se Facebook-blad, “Dis hoe kanker lyk”.

Lené, eienaar van Poppie, wat rokke verhuur, en die leefstyl- en grimeerateljee, Opgedollie, het dié blad in Februarie 2021 as ʼn ondersteuningsgroep te midde van haar stryd teen aggressiewe borskanker geskep. Dit het sedertdien in ʼn aanlyn gemeenskap verander waarop sy ʼn werklike blik gee op die verskillende en komplekse gesigte van kanker.

“Mense het nie ʼn benul waardeur vroue moet gaan nie. Baie mense het die wanpersepsie dat dit maklik geneesbaar of behandelbaar is, maar dit is net die realiteit as jy geld, goeie mediese sorg en die innerlike krag het. Andersins lyk jou paadjie heeltemal anders,” verduidelik sy.

Sy wou die werklikheid wys en goed aanspreek waaroor mense nie noodwendig skaam is nie, maar nie weet waar daar ʼn veilige omgewing is waarin hulle dit kan verwoord nie.

“Ek wil hê die waarheid moet daar wees, sodat mense ondersteuning kan kry, of weet hoe om dit vir iemand anders te bied.”

Skokdiagnose laat Lené inmekaarsak

Sy is in 2020 op die ouderdom van 29 met metaplastiese borskanker – ʼn gevorderde stadium van dié soort kanker – gediagnoseer nadat ʼn korsetuitrusting haar van ʼn knop onder haar arm bewus gemaak het.

“Ek het ʼn korsettoppie gedra na ʼn entrepreneurs-toekenningsgeleentheid en het aanvanklik gedink dat dit my net op ʼn ongemaklike manier gedruk het, en wys dit toe vir my ma. Ons voel toe ʼn baie pertinente knop, maar ek het nie gedink dat dit ernstig kon wees nie.”

Die ma van twee bieg dat sy sku is vir dokters en het daarom eers vir toetse gegaan nadat haar seuntjie hospitaal toe moes gaan weens ʼn ernstige besering.

Die dag wat Lené vir haar eerste chemoterapie-behandeling gegaan het. (Foto: Facebook/ Lené Heck)

“My man was bewus van die knop en het dit onder die dokter se aandag gebring toe my seuntjie sy arm by die kleuterskool gebreek het. Die dokter was baie besorgd en het gewaarsku dat ʼn mens nooit ʼn knop moet ignoreer nie, of jy nou oud of jonk is.”

Ná vier maande, ʼn sonar en biopsie is haar dokter se bekommernisse op 8 Februarie 2020 regverdig.

“Toe ons die nuus hoor, het ek daar in sy spreekkamer inmekaargesak en dadelik net gedink: wat gaan van my kinders word? Ek is ʼn sterk mens, maar ek het nie geweet watse kant toe nie. Ek het so ʼn woede in my gehad dat daar moontlik twee klein kindertjies sonder ʼn ma gaan wees as sy nie alles in haar vermoë doen om te bly lewe nie.”

In April daardie jaar het sy ʼn dubbele mastektomie ondergaan en vyf weke daarna met chemoterapie begin wat 18 maande geduur het.

“Die naaste waarmee ek chemo kan vergelyk, is die dood. Vir my is dit hoe die dood moet lyk, ruik en voel. Jy is nie jouself nie; ek kon baie dinge nie onthou nie. Dit voel asof ek twee jaar van my lewe verloor het, maar tog onthou ek die seer en die pyn,” vertel sy oor haar behandelingsreis.

Om haar dik, gesonde bos blonde hare te verloor, was vir Lené “hartsverskeurend en traumaties”.

“Ons het my hare op Bloubergstrand gaan sny, want ek wou my man en kinders deel daarvan maak. Ons wou sommer ook ʼn gesinsfotosessie hê, maar my vierjarige dogtertjie was daarna bang vir my en wou nie naby my kom nie.

“My kind het gedink ek lyk soos ʼn monster. Ek het nog lank daarna gehuil. Sy het nie verstaan hoekom ek haar nie altyd kon vashou, of so siek was nie. My seuntjie het nou weer alles saam met my gevoel en my kop gereeld gevryf.”

Benewens chemoterapie het Lené ook 17 herseptin-behandelings ontvang nadat sy positief getoets het vir HER2, ʼn geen wat verantwoordelik is vir die groei van borste en om kankerselle daarin te laat groei.

Sy hoef nou al ʼn jaar lank geen behandeling te kry nie, en onlangse toetse het gewys of dat daar geen tekens van die siekte in haar liggaam is nie. Weens die aard van die kwaadaardige kanker is daar wel nie die moontlikheid om haar gesin verder uit te brei nie.

“Dit is nie amptelike remissie nie, maar is tog die beste nuus wat ek kon kry.”

Kanker tas alle dele van vrouwees aan

“Al jou hare, selfs jou wimpers val uit. Ek maak vroue mooi vir ʼn lewe, maar het vir amper drie jaar soos ʼn opgeswelde aartappel vir myself gelyk,” sê Lené met ʼn byna moedelose laggie oor die newe-effekte van chemoterapie.

Sy glo wel dit is belangrik om nie altyd net die mooi of positiewe van kanker te wys nie, maar om erkenning aan negatiewe emosies te gee. Aanmerkings soos “jy laat kanker maklik of mooi lyk” staan haar ook nie aan nie.

“Depressie en angs kom wanneer jy voel dat jy die heeltyd perfek moet wees, want dit is wat die wêreld van jou verwag. Daar is niks mooi in kanker nie, maar wel iets kragtig, en vroue moet hul letsels met trots kan wys.”

Tog glo Lené ook in die krag van moeite doen met ʼn mens se voorkoms, ongeag jou gesondheidsuitdagings.

“Skoonheid gaan nie net oor hoe jy vir ander lyk nie, maar oor hoe jy oor jouself voel. As jy in die oggend opstaan en aaklig voel én lyk vir jouself, gaan jy moeiliker deur die dag kom.”

Oktober nie al maand wat “pienk” moet wees nie

Die wêreld word in Oktobermaand pienk geverf ter bewusmaking en ondersteuning van borskanker, maar Lené meen besighede moet sorgsaam wees om nie dié siekte vir eie gewin te misbruik nie.

“Ek, persoonlik, is nie ʼn aanhanger van enige organisasie wat nie aktief betrokke is by kanker of kankerbewusmaking deur die jaar nie, maar dan Oktobermaand gebruik om geld daaruit te maak. Natuurlik skiet ek nie die goeie werk wat baie organisasies doen, af nie, maar intensies en sinvolle, waardevolle bewusmaking wat lei tot verandering is belangrik.”

Haar advies aan diegene wat ʼn bydrae wil lewer, is om in hul direkte omgewings te begin.

“Deel plasings van organisasies soos Kansa wat kliniese borsondersoeke bied, of van iemand wat ʼn Back a Buddy-fonds vir ʼn geliefde geskep het, eerder as wat jy geld in ʼn inisiatief of produk stoot wat nie vir jou kan sê waarheen die geld gaan nie.”

Kanker definieer haar nie

“Ek sê altyd: ek het kanker, ek is nie kanker nie. Ek wil onthou word as ʼn goeie ma, vrou of sakevrou, nie as ‘die vrou of vriendin met kanker nie’,” sê Lené.

Vandag huil sy ook nie meer sommer as sy oor haar diagnose of reis gesels nie.

“Ek was altyd ʼn emosionele mens, maar het my emosies afgeskakel toe ek kanker beveg het, want dit was amper asof dit net té rou en seer was.”

Lené in 2023. (Foto: Facebook/ Lené Heck)

Toe haar hare begin teruggroei, en die werklikheid inskop dat sy op die herstelpad is, het die sluise egter weer oopgegaan.

“Ek voel nou sterker emosioneel as ʼn paar maande vantevore. Hoe meer ek daaroor praat, hoe meer krag ek in my liggaam terugkry, hoe meer my hare teruggroei, hoe sterker word ek. Emosioneel en fisies.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Roek ·

Vasbyt my meisie , nie een mens is die selfde nie , ongeag van Boland se nooi se nare ondervinding , hou moed bid en leef jou lewe , ek dra jou op en glo ek aander ook, sterkte en vasbyt !

Rerig ·

Om in remissie te wees beteken beslis nie jy is gesond nie. Ek is 11 jr in remissie en sit nog daagliks met nagevolge, lelike letsels, pyn, ongemak en bekommernis as dit by toetse kom. Ek is super bly vir Lené dat sy so pragtig lyk maar ongelukkig het nie almal van ons die fondse om nog steeds soos vrou te lyk nie, al wil ons ook hoe graag! Well done Lené en mag jou pad vorentoe kankervry wees!

vuurvliegie ·

“Dis hoe kanker lyk”. Lene, Dankie vir ‘n kykie in jou wereld. Jy is beslis ‘n inspirasie vir miljoene ander vrouens. Jy het guts en deursettings vermoee. Onthou, God sal NIKS in jou lewe plaas sonder om jou die gereedskap te gee om dit te oorwin nie. Sterkte met jou toekoms. Jy lyk pragtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.