Dít was jou 67 minute

lienka-en-lizma-op-7-maart

Lienka op haar aanneemdag op 7 Maart 2018 saam met Lizma van Zyl by die DBV Grassy Park. Foto: Verskaf.

Deur Lizma van Zyl

Dis een van die groot dae op Maroela Media se kalender – die jaarlikse radiokursus vir gemeenskapstasies. Dié keer net buite Rawsonville in die Boland. ’n Dag wat ek bevoorreg genoeg was om by betrek te word en ’n dag waarna ek lank uitgesien het.

Ook Mandeladag, 18 Julie…

Stormweer is vir die Wes-Kaap voorspel en swaar druppels het al hoe harder op my voorruit begin val net duskant die Hugenote Tonnel. Ek het vroegoggend in die pad geval nadat ek my hondekinders (Buddy en Lienka) by ’n vriendin in Vredehoek, Kaapstad gaan aflaai het vir die dag. Daar was oorgenoeg tyd en ek kon die Du Toitskloofberg se skakerings van groen behoorlik inneem. In die agtergrond, op my radio, huldeblyke aan Madiba en ritmiese Johnny Clegg-treffers wat my ’n paar dae terug sou laat saamsing, maar my nou hartseer maak.

By die ATKV Goudini Spa aangekom waar Maroela Media die Klankgolf-konferensie aanbied, was dit ’n warm ontvangs van bedryfsbestuurder Annelize Brits. Die koffie- en teetafel het reggestaan om die winter se byt te verdryf. Ek het ook van die ander lede van die span ontmoet wat soveel moeite gedoen het met die groot uitreik- en opleidingsdag. Lekker mense met gedeelde passies. Voorwaar ’n dag vol belofte!

Tyd om my nuusskryfkursus aan te bied.

Die konferensielokaal was spiekeries en my PowerPoint reg vir net ’n knoppie se druk. Die kursusgangers het begin instap, vrolik en gretig om te leer.

En toe die oproep…

’n Onbekende nommer met ’n byna histeriese, jongerige vrouestem op die lyn. “Het jy ’n hond? Lienka?”

Mens hoor dikwels mense se hul “hart het gaan staan” of “ore het begin suis” in ’n oomblik van skok. Ek beleef dit alles toe ek tussendeur die vrou se snikke hoor my dowe Lienka, ’n driebeen Jack Russel, het op die vlug geslaan toe my vriendin met die honde oorkant haar huis (teen ’n snelweg), gou gaan stap het.

Ek maak vaagweg uit dat die vriendin ’n nood-WhatsApp aan almal in die buurt gestuur het waarop drie mense dadelik gereageer en alles net so gelos het om te gaan help – een van hulle, die vrou wat met my praat. Ek hoor hoe hulle strate deurkruis en bulte op en af gehardloop het om my besete, vreesbevange hondjie te vang. Ek hoor hoe ’n vierde weldoener by hulle aangesluit het, maar uiteindelik uitasem die aftog moes blaas. Lienka, met net drie bene, is rats en blitsvinnig en lynreg op pad berg toe waar dit die laaste sien sou wees…

Ek hoor hoe sy in ’n laaste verbete poging om uit die “kloue” van die drie doodmoeë hardlopers te kom, haar een weldoener – die vrou op die foon – stukkend byt… Ek hoor hoe haar bek met ’n leiband vasgebind word sodat sy nie meer skade kan aanrig nie. Ek hoor hoe industriële handskoene gebruik word om haar lyfie, steeds vol baklei ná kilometers op drie beentjies, in die kar te kry. Ek hoor hoe die vrou op die foon snikkend sê sy moet by ’n hospitaal uitkom.

En ek hoor dit alles terwyl my klas hulle sit kry.

Dit het elke greintjie selfbeheer gekos om nie onmiddellik in my motor te spring en terug te jaag Kaap toe nie. Soos die noodlot dit wou hê, het die twee vriendinne wat ek naarstigtelik gebel het om te gaan help, se selfone net gelui. Ek kon nie méér doen nie. Die klas moes begin.

My mond was kurkdroog en my hart aan flarde vir my hondekind én die uitgeputte jong vrou op die foon. Ek was versteen en het nie geweet hoe ek dit gaan regkry om ’n enkele radioverwante woord oor my lippe te kry nie. (Dis ook maar goed ek het eers later gehoor hoe die vrou met bloeiende hande en arms self hospitaal toe gery het.)

lienka-op-die-berg

Lienka is ’n ‘rescue’ en ’n klein wonderwerk op drie bene. Sy stap graag op die berg rond saam met Lizma en haar ander honde. Foto: Verskaf.

Lienka is ’n rescue en ’n klein wonderwerk op drie bene. Ek het haar op 7 Maart 2018 aangeneem nadat die DBV haar op straat gekry het met beserings wat, sonder uitsondering, mense na hulle asem laat snak as hulle die before-foto’s sien. My deernis vir die klein survivor wat nog net pyn en lyding ervaar het, ken geen perke nie. Dit het maande gevat om haar vertroue te wen, want haar lewe op straat – daardie voortdurende stryd om oorlewing – het haar vreesbevange gemaak vir mens en dier.

My hande was afgekap. Minute het nou getel en ek was byna ’n uur en ’n half se ry (op die gevaarlike nat pad) van die huis af.

Soos hulle sê, the show must go on en ná ’n sluk water en ’n vinnige verduideliking oor wat aan die gebeur is, het ek die eerste skyfie geaktiveer. Wat is Nuus

Ek kan nie veel van die eerste paar minute onthou nie, wel dat Annelize se rustige teenwoordigheid en begrip my wonderbaarlik laat fokus het. So ’n uur voor die einde kry ek weer ’n oproep en verskoon myself vinnig. Lienka is veilig, terug by my vriendin maar haar redder is in die hospitaal…

Toe Morné, die groep se “hoofseun”, my na so net minder as twee en ’n half ure se radiogesels met mooi woorde uit die hart uit bedank, het die trane vlak gesit.

En vrylik gevloei toe ek agter my stuurwiel inskuif vir die lang, onweerspad huis toe.

Lienka is weer knus onder haar geblomde donskombersie, maar ek kon sien sy het ’n knou weg. Daardie stertjie wat die afgelope paar maande so lekker begin swaai het, is weer styf onder haar beentjies ingevou. Maar ek weet dis net tydelik. Die liefde oorwin alles.

Ek sal 18 Julie 2019 nie sommer vergeet nie. Dit het nie by die Vredehoekers se dapper spanpoging om Lienka te red, geëindig nie. Op pad terug, in digte mis en swaar reën, kom ’n minibustaxi (met sleepwa) van voor af aangejaag, aan die verkéérde kant van die pad en mis my met ’n haarbreedte. En dit word toe ook my beurt om ’n hond te vang – ’n uitgeteerde swart brakkie, desperaat aan die kos soek langs die besige pad. (My poging was egter tevergeefs en al wat ek daarvoor kon wys, was ’n deurdrenkte trui en ’n kapsel in slierte.) My beskermengele kon seker net soveel op een dag doen.

carla-erasmus

Carla Erasmus van Anti Animal Trafficking wat gesorg het dat hierdie storie ook ‘n gelukkige einde het. Foto: Verskaf.

Om terug te kom by Lienka… Carla Erasmus, die stem op die foon, moes ses steke kry en gaan vir ’n rukkie sukkel om die mees basiese take te kan verrig. “Piranha”, soos sy Lienka ná afloop gedoop het, se vlymskerp tandjies gaan merke laat wat haar seker altyd daaraan sal herinner dat, soos die Engelsman (eintlik baie morbied) sê, no good deed goes unpunished.

Ek het laatmiddag vir Carla met ’n bos blomme gaan kuier. Die dinamiese diereliefhebber (sy staan aan die stuur van Anti Animal Trafficking) het my of Lienka nie vir een oomblik verwyt nie, maar in die koue, met haar seer arms, saam kar toe gestap waar Lienka kiertsregop op die bestuursitplek vir my sit en wag het. Met Lienka se tandmerke nog rou en vars op haar arm het Carla steeds haar hand uitgesteek en “Piranha” se koppie gevryf…

Carla Erasmus, al was jy nie eens daarvan bewus nie, was dít jou 67 minute…

  • Ek hoor intussen Klankgolf was ’n groot sukses en die Facebook-foto’s getuig ook daarvan. Maroela Media, ek hoop om volgende jaar weer deel van jul wonderlike inisiatief te wees. Wees egter gewaarsku: ek bring vir Lienka en Buddy saam. 
  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

SjN ·

Ek het 67 minute geneem om te probeer bepaal hoe om n land in 25 jaar in die toestand te kry.

Vreugde ·

Lekker storie. Lizma en Carla julle is pragtige mense en Lienka is ‘n pragtige pirannatjie.

honourable member ·

Dis so mooi positiewe storie. Jack russels is lieflike honde.

Hanna ·

So ‘n pragtige skrywe oor jou liefde vir verskeie goed in die lewe. Mooi korrekte gebruik van goeie Afrikaans wat amper foutloos was. Ek glo jy is maar net nie bewus van die foutjie nie. Daar bestaan nie ‘n woord soos “naarstigtelik” nie. Die korrekte een is “naarstiglik”. Nogtans, baie dankie vir die goeie skrywe.

Cora Simpson ·

EN TOE HUIL EK SO LEKKER SAAM. TRANE VAN BLYDSKAP OOR LIENKA EN TRANE VAN HARTSEER VIR DIE SWART BRAKKIE IEWERS VERLOOR OP DIE VLAKTES. DANKIE WELDOENER

Marthinus Willemse ·

Die kommuniste het `n verskynsel wat hulle die “kultus van persoonlikheid” noem. Daarmee word `n leier of bekende opgehemel, en aan alles wat die persoon sê en doen word uitsonderlikhede toegeskryf. Die persoon word aanbod as `n sekulere god.

In SA het ons nou daardie kultus vir Nelson Mandela. Dis 67 van dié, en 27 van daai, en 46664 van dit, en baie wat dit gebruik en bemark verdien `n stewige fooi. Kan die man nie nou maar in vrede rus nie? Waarom hom misbruik?

JohanL ·

Dankie Marthinus – stem saam met jou. Genoeg is darem wraggies genoeg.

En terloops, hy het maar ‘n donker kant ook gehad.

Vlooi ·

Mandela is dood en het my nooit geken nie. Daarteenoor leef Jesus Christus en ken my. Ek doen dus alles vir Hom, in woord en daad.

Wimpie ·

My 67min was om al sy en die ANC se slagoffers te herdenk.

Patriot ·

Ek sluit aan by die honde storie. Ek laat elke jaar my rottweiler los om met die bure se kindertjies te speel vir 67 minute.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.