FAK se familie-erfenisfees nou aanlyn

Isabel Groesbeek spoor al langer as 30 jaar familielyne na. Sy is nou die hoof van die FAK genealogiese navorsingslessenaar. (Foto: FAK/Verskaf)

Die FAK nooi almal uit om môre (10 April) om 12:00 op sy Facebook-blad in te skakel vir die tweede FAK-Genealogie- en Familie-Erfenisfees Digitaal.

Dié digitale genealogiefees bestaan uit vyf video-uitsendings waarin die gerekende genealoog Isabel Groesbeek, hoof van die FAK se Genealogielessenaar, met kenners gaan gesels oor hulle genealogiese navorsing.

In die eerste uitsending gesels Groesbeek met Otto Diedericks, ’n bedryfsingenieur van beroep, oor die rol van die rekenaar in genealogiese navorsing. Hy is ’n ingenieur en ontleder wat genealogiese navorsing as stokperdjie bedryf. Otto is kundig oor ’n verskeidenheid doelgerigte genealogieprogramme en die benutting van die internet.

Diedericks verskaf as vrywilliger rekenaarondersteuning aan die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA). Hy is ook betrokke by die ontwerp van ’n nutsprogram “Gen2Word” wat genealogiese data vanuit ’n databasis na woordformaat kan omskakel.

Dit is die 13de genealogiefees, waaronder twee in Groesbeek se hoedanigheid as hoof van die FAK se Genealogielessenaar, wat aangebied word. Die eerste fees is in Mei 2008 aangebied.

“Die doelstellings van die Genealogie- & Familie-Erfenisfees was, van dag een af, tweeledig: Om genealogie as wetenskap en erfenis aan die wyer publiek in ’n feesatmosfeer bekend te stel, asook om ’n netwerkgeleentheid vir navorsers, familiebonde, genealogie-, erfenis- en kultuurverenigings, bewaringsinstansies en Africana-boekwinkels te skep,” verduidelik Groesbeek.

Weens Covid-19-inperkings verlede jaar is dié fees vir die eerste keer digitaal aangebied met ’n uitsending ter viering van ons erfenis met die gerekende spreker prof. Jaco Greeff, waar hy oor “Die Kruger-familie uit ’n ander hoek: genetiese insigte” op video gesels het.

Vanjaar is daar weens Covid-19-inperkings weer besluit om die digitale roete te volg.

  • Die tweede uitsending van die fees vind op 17 April om 12:00 plaas. Annemarie Dreyer gesels oor die tema: Die Dreyer-Familie – nie ’n eenvoudige storie nie.
  • Uitsending drie en vier vind onderskeidelik op 24 April en 1 Mei om 12:00 plaas. Fanie Buys gesels oor die tema: Die BUYS/BUIJS-familie: nageslag van Barend Buys. Fanie deel ook graag sy praktiese navorsingservaring.
  • Uitsending vyf vind op 8 Mei om 12:00 plaas. Derek Bissett gesels oor die tema: Die Andrew Murray Familiebond: projekte en toekomsplanne m.b.t. 200-jarige fees ná aankoms van ds. Andrew Murray.

(Grafika: FAK)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.