Familiefotosessie toe eintlik verrassingtroue

Wynand sou op 4 April met Marelie Prinsloo trou, maar dié geleentheid is weens die Covid-19-pandemie onbepaald uitgestel. Hulle het op 10 Oktober tydens ‘n intieme geleentheid getrou (Foto: AG Photography/Facebook)

Lynn Dodds, ʼn ma van Phalaborwa in Limpopo, het gedink sy woon op 10 Oktober ʼn familiefotosessie by, maar toe daag sy onwetend by haar seun se troue op.

“Almal het geweet, behalwe ek en die bruid se ouers,” het Lynn in ʼn onderhoud met Maroela Media gesê. “My man én die salon waar ek op die dag my hare laat doen het, het ook geweet, maar sowaar niks gesê nie.”

Die Dodds-egpaar se jongste seun, Wynand, sou op 4 April met Marelie Prinsloo trou, maar dié geleentheid is weens die Covid-19-pandemie onbepaald uitgestel.

Wynand en Marelie het besluit om eers te wag en sien wat gebeur voordat hulle weer ʼn datum kies en reëlings tref. Die twee het ʼn groot troue beplan omdat Marelie baie familielede wou nooi, insluitend tannies wat in die buiteland woon en wat met die troue se blomme en koördinering sou help.

Die onsekerheid oor wanneer groot sosiale geleenthede, soos troues, weer toegelaat sal word, het dié paartjie ondergekry en daarom het hulle op ʼn intieme troue besluit wat binne enkele weke gereël is.

Lynn onthou dat Wynand ongeveer drie weke voor die tyd vir haar ʼn boodskap op Whatsapp gestuur het om te laat weet dat Marelie ʼn familiefotosessie gewen het. Die paartjie het glo by Anelli’s Tea Garden (waar hulle later getroud is) by die Big 5-gastehuis in Witbank gaan koffie drink toe Marelie dié kompetisie “gewen” het.

Die bruidspaar, Wynand en Marelie, se fotograaf, Anzel Roux, het spesiaal ʼn geskenkbewys ontwerp om die situasie meer geloofwaardig te maak.

Die bruidspaar se fotograaf, Anzel Roux, het spesiaal ʼn geskenkbewys ontwerp om die situasie meer geloofwaardig te maak.

Lynn het aanvanklik nie besef dat dit die ouers en sibbe insluit nie. Toe Wynand vir haar vra of sy omgee dat Marelie se naaste familie ook daar gaan wees, was sy aangenaam verras en het dadelik ingestem.

“Ek het toe eers gehoor dat ons almal daar gaan wees en vir hom gesê dit sal lekker wees om almal te sien,” sê sy.

Marelie het kort daarna so ewe vir Lynn gevra: “Wil tannie nie Saterdagoggend saam met my salon toe kom nie? Ek gaan my hare vir die fotosessie laat doen.” Sy het gedink dit sal nogal lekker wees om só bederf te word.

Lynn het tydens die inperkingstyd van Ellisras na Phalaborwa verhuis, grootliks om met die versorging van kleinkinders uit te help. Haar man Jakkie, werk op die oomblik nog op Ellisras, maar beplan om aan die einde van die jaar, wanneer sy werkskontrak tot ʼn einde kom, ook Phalaborwa toe te verhuis.

Jakkie het ook nie op hom laat wag om vir ʼn bietjie opwinding te sorg nie. Hy is nie lief vir die kamera nie en stel toe sommer voor dat hulle sy gesig later met behulp van Photoshop by die foto’s invoeg. Lynn was min beïndruk met hom.

“Bel jou seun en sê self vir hom dat jy dit nie gaan bywoon nie en dat hulle jou foto maar net kan byvoeg,” het sy kwaai vir hom gesê.

Nou ja, so het die bruidspaar, hul ouers en sibbe die Vrydagaand voor Wynand en Marelie se troue in Witbank bymekaar gekom en heerlik saam gekuier.

Die volgende oggend het Lynn-hulle almal ʼn draai by die salon gemaak en toe hulle by die huis kom het Marelie laat weet dat sy en Wynand ʼn uur voor die geskeduleerde tyd net vinnig die fotograaf by die gastehuis moet ontmoet. Die fotograaf het nie geweet waar presies hulle foto’s wou neem nie.

Teen 11:00 het die res van die familie daar aangekom en op versoek voor die gastehuis bymekaar gekom. Voor Lynn mooi geweet het wat aangaan het die bruidspaar hand aan hand by die trap afgestap en aangekondig dat dit eintlik hulle troudag is.

Wynand en Marelie het op 10 Oktober tydens ‘n intieme geleentheid getrou (Foto: AG Photography/Facebook)

Lynn sê sy was oorstelp van vreugde en die troue was ongelooflik spesiaal. Die hele familie het eers die seremonie bygewoon en daarna het die venue ʼn buffet-ete bedien en albei families kon rustig saam kuier.

“Die bruidspaar was nie so oorweldig nie, omdat daar aansienlik minder mense was. Hulle kon heerlik saam met al die gaste kuier,” vertel sy.

En natuurlik hét die familiefotosessie plaasgevind, maar deel van ʼn heerlike en intieme verrassingtroue.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Mersca ·

So lekker om mooi, gelukkige storie te lees vir n slag tussen al die hartseer.

Cecilia ·

So man moet styf vasgehou word. Baie gelyk julle 2 pragtige mense

Marlene ·

KOSBAAR, lekker om ‘n slag ‘n mooi storie te lees. Memories bymekaar gemaak. Mag hulle twee baie gelukkig wees.

Nonnie ·

Wat ‘n pragtige storie om die dag mee te begin!! Mag julle 2 ‘n wonderlike Godsgeseënde huwelik hê. ????

Salome ·

Ag dis nou lekker om so mooi storie vir n slag te lees. Alles wat mooi is vir die nuwe egpaar.

Karina ·

Dit is regtig lekker om ‘n mooi storie soos die te lees. Baie geluk aan die egpaar – pragtige jare vorentoe vir julle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.