Gedenkmuur by Voortrekkermonument sal brawe brakke vereer

Die Savannah Veterane tydens die gedenkdiens. (Foto: Verskaf)

Die Savannah Bond van Veterane het onlangs planne bekendgemaak vir die oprigting van ʼn spesiale gedenkmuur om hulde te bring aan die brawe vierpotiges wat in diens tydens die Bosoorlog gesterf het.

Dié nuus is Sondag bekendgemaak tydens ʼn diens vir die 48ste gedenkjaar van die bevel vir Operasie Savannah, wat by die Voortrekkermonument se gedenktuin vir die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) gehou word.

Dit is die agtste keer dat dié gedenkdiens by die Voortrekkermonument aangebied word.

“Daar is drie redes hoekom ons parade hou. Eerstens, om erkenning te gee aan die Skepper, wat ons veilig huis toe gebring het. Tweedens, om hulde te bring aan die manne wat die hoogste prys betaal het en derdens, om erkenning te gee aan die diere wat geen keuse gehad het nie en met hul lewe betaal het,” het lt.kol. Renaud Booysen, voorsitter van die Savannah Bond van Veterane, tydens dié gedenkdiens gesê.

Rochè Vermaak en Inga, ‘n K9-eenheid hond wat nog in opleiding is. (Foto: Verskaf)

Die beplande “Markus K9-gedenkmuur” sal ook by die SAW-gedenkterrein opgerig word en is vernoem na die vierpotige Markus, wat saam met sy operateur, oudsers. Roché Vermaak, met elke parade ʼn krans lê vir die diere wat tydens die Bosoorlog die hoogste prys betaal het.

Markus is vroeër vanjaar aan natuurlike oorsake dood.

Volgens Booysen is daar slegs een plek in Suid-Afrika waar ere gebring word aan diere wat tydens diens op die grens gesterf het.

Hierdie gedenkmuur is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAP) se Teen-insurgensie-eenheid Veteranebond in Montana, Pretoria, te vinde. Die muur wat by die Voortrekkermonument opgerig gaan word, is byna ʼn spieëlbeeld van die een by die SAP.

Die bevel van Operasie Savannah, wat op 3 September 1975 plaasgevind het, is die enigste operasie waarby die weermag, vloot en lugmag saam betrokke was. ʼn Spesiale gedenknaald is tydens die 40-jaar-herdenking van Operasie Savannah ook by die Voortrekkermonument se terrein onthul.

Booysen het tydens Sondag se gedenkdiens ook in besonder eer betoon aan die vloot en lugmag vir hul betrokkenheid in die operasie. Meer as 100 veterane en hul families het die geleentheid bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Manie ·

Dis nie weermag, lugmag en vloot nie skrywer, dit moet leër, lugmag en vloot wees. Al die dele saam, vorm die weermag.

Marthinus W ·

Daar is nog baie jongmans wat gesterf het, wie se name nie daarop is nie, bv Paul Willemse (1965), Dawie Botha (1989) om net twee te noem.

trotsNAMSA ·

Fantastiese gedagte ! Waar is ons dapper SAPD honde ? Vereer hulle ook :( SAPD se honde was ook betrokke by veldslae. Hulle hoort ook by die Voortrekker Monument.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.