Gee ’n bietjie skiet dié Kersfees

(Foto: Lizma van Zyl)

Dit was die rekkies op die Yorkie-hond se kop wat die mymeringe oor “te vas” en “te veel” aan die gang gesit het. Ek het in die hondepark onder ʼn geelhout koelte gesoek vir my en my twee vierbeendogtertjies (wel, een het eintlik net drie bene) toe die klein terriër op ons afpeil en kaplaks op my skoot te lande kom. Toe begin sy haar kop heen en weer teen my sy skuur. So asof sy verligting soek.

Dis ʼn algemene ding om Yorskhire terriërs se hare vas te bind, maar dié patroontjie se “ma” het dit te ver gevat. Die twee rubberrekkies was so styf om die klossies hare gebind dat haar kopvel snaarstyf gespan was. Om sake te vererger was die pienk halsband net so styf om haar nek en sou ʼn onsie ekstra gewig haar lugtoevoer begin afsny. Ek het albei stilletjies verstel, terwyl haar hondestapper oor koeitjies en kalfies met sy meisie ge-FaceTime het.

Maar dit het my laat dink aan ons neiging om alles te vas te wil maak en ook hoe vasgevang ons dikwels is. Ek dink nie ons besef eers hoe diep ons naels elke dag ingegrawe is nie.

En nou lê die Kerstyd voor met al sy plesierigheid én pyne.

Krakies verskyn dié tyd van die jaar in die meeste van ons se mens-enemmel, want die moeg van die afgelope jaar lê diep maar die druk is groot om Kersfees vrolik en eksie-perfeksie te maak – van die Krismiskoek wat al van Augustus af lustig lê en whisky opsuig, tot die krat kerse vir atmosfeer én Eskom.

Maar op Oukersdag word daardie voordeur met gulheid en vrolikheid oopgegooi en “liefde” en “dankbaarheid” is die werkwoorde vir die volgende paar dae. Selfs wanneer klein Klasie op ʼn stoel klim en die kersies uit die goed-dronk koek grawe, bly die gasvrou en -heer se glimlag (ferm) in plek. En dit ís ʼn Krismiswonderwerk as iemand mekaar nie êrens tussen die skiet van die crackers en die laaste bottel Bolandse rooi die hare in vlieg nie.

(Foto: Lizma van Zyl)

Maar volgende jaar doen ons presies dieselfde en lag lekker oor die vorige jaar se Kersmanewales.

Ek erken dit nou sommer ruiterlik; ek is nie ʼn Kersfeesmens nie en sien elke jaar op na al die gemaal, “gemens” en “gemerry”. Ek mis my ouers; ek bekommer my oor diere wat verwaarloos word, bejaardes wat sonder kind of kraai in ʼn tehuis by ʼn venster sit en uit tuur en oor ouers wat nie ʼn geskenkie onder die kersboom kan bekostig nie.

So die steil bult lê nou weer voor my, maar ek het besluit dié jaar gaan anders wees. Dit het begin by daardie Yorkie-hond, met ʼn stywer-as-styf haarrekkies wat haar van die volle vreugde van hondwees ontneem het. Ek gaan daardie rubberrek, wat so in my nekvel begin beur, skiet gee. Ek gaan oorgee en ingee aan hierdie Kerstyd-wipplank met sy vinnige op en harde af. Surrender… My “kerskommers” gaan dié jaar kraal toe.

Dalk moet ons almal vir mekaar ʼn bietjie skiet gee – minder verwagtings, groter geduld en meer deernis, want die “feesseisoen” trek maar die meeste van ons se rekkies styf.

En… (hier herinner ek myself eintlik) om lekker te lag verlaag die bloeddruk en verhoog bloedtoevloei na die hart, so behou die humor.

Soos ek onlangs op ʼn e-kaartjie gelees het: Kersfees is (afterall) die enigste tyd van die jaar wat jy voor ʼn dooie boom kan sit en lekkergoed uit ʼn sokkie eet.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

(Foto: Lizma van Zyl)

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.