Geloftelappoppe: Elkeen wil ’n stukkie onthou hê

V.l.n.r. is Nakkie Janse van Rensburg, Rentia Venter en Joey Opperman die span wat die mooi Geloftelappoppe maak. (Foto: Verskaf.)

Nie eens die Covid-19-pandemie en gevolglike landwye afsondering kon oumas in die Pretoriase middestad keer om spesiale Geloftelappoppe te maak nie.

Waar hulle voorheen weekliks byeengekom het om dié poppe te maak, het elkeen nou regdeur die afsonderingstyd dié poppe in hulle kamers by die Blommefonds se Union Park-woonstelgebou in Arcadia, Pretoria, gestop, die gesigte borduur, hulle aangetrek en die wolhare gevleg.

Weens die wegholsukses van hierdie poppe, wat die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) spesiaal laat maak het vir Geloftedag verlede jaar, het die oumas vanjaar vroeg aan die werk gespring.

“Op Geloftedag verlede jaar het hierdie poppe en hulle spesiale storie harte aangegryp. Besoekers aan die Voortrekkermonument en die FAK se Liedjietuin het in rye gestaan om ’n pop te koop en lank nadat die poppe uitverkoop is, het bestellings nog ingestroom. Die oumas – soos ons hulle noem – het dadelik weer begin werk aan die nuwe poppe,” sê Marianda Schlebusch, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke.

Schlebusch sê bestellings het selfs van Nederland en Australië gekom.

“Iemand in Kuruman, Kakamas, Pretoria, Kaapstad en Secunda wou elkeen ook ’n pop hê,” sê sy.

Rentia Venter maak seker ‘n lappop se kappie sit net reg. (Foto: Verskaf.)

Uit Kuruman skryf Bianca Husselman oor haar dogtertjie, Lu-Mari Ann, wat haar lappop vir Kersfees gekry het, en wie se ouma en oumagrootjie albei vir haar ’n spesiale briefie geskryf het. Lu-Mari Ann se oumagrootjie skryf in die briefie hoe sy as kind in die Anglo-Boereoorlog van hulle ossewa afgeval het. Dít is nou omtrent ʼn onthoustorie vir Lu-Mari Ann en haar nageslag.

“Maritsa Main se dogter, Mikeala (7), was net so opgewonde om haar pop te kry. Sy het haar dadelik oopgemaak en vat nou haar lappop oral saam – fliek en winkels toe. Selfs toe sy op Kersvader se skoot gaan sit het, moes haar pop saamsit. En sy het vir volgende Kersfees reeds ’n boetiepop bestel,” vertel Marianda.

Nog ’n ma het twee poppe, wat net soos haar tienerdogters lyk, bestel. Die poppe se haarkleur en oë moes net soos haar dogters s’n lyk. Middeljarige vroue koop poppe om vas te hou, want dit bring heimwee van hulle kleintyd, oupas bestel vir elke kleindogter ’n lappop en nog ’n vrou bestel ’n pop vir haar ongebore kind.

“Hierdie handgemaakte poppe is uniek. Elkeen se gesig word met die hand borduur. Die oumas het voorheen altyd saamgekuier om die poppe klaar te maak, maar weens afsonderingsregulasies het elkeen van hulle die poppe in hulle onderskeie woonstelle klaargemaak.”

Schlebusch het kort voor die aankondiging van die landwye afsondering ’n sak met leë poppe, dons en hulle onderskeie rokkies en broekies by die opsigter van dié woonstelblok gaan aflaai. Tussenin die ongebleikte linneslopies het sy sjokolade weggesteek sodat die oumas darem aan iets kon smul terwyl hulle die Geloftepoppe aanmekaargesit het. Met die onlangse afhaal van die nuwe Geloftelappoppe het Schlebusch die oumas ook van nuwe voorraad voorsien.

Een van dié oumas, Joey Opperman, sê: “My kind, dit is die lekkerste om hulle so mooi aan te trek en hulle hare te strik.”

Hierdie projek het nie net ’n kreatiewe werksomgewing geskep nie, maar ook drie niewinsgewende organisasies laat hande vat. Die FAK is ’n Afrikaanse kultuurorganisasie sonder winsbejag, die Blommefonds bied verblyf aan behoeftige bejaardes en Eleos ondersteun minderbevoorregte gesinne in die weste van Pretoria deur hulle te bemagtig met vaardigheidsprogramme.

‘n Voorbeeld van een van die spesiale lappoppe vir Geloftedag. Foto: Verskaf.

Buiten die oumas by die Blommefonds se Union Park-woonstelgebou, wat die poppe aanmekaargesit het, maak nog ’n ouma, Vironica Roos, die poppe se rokkies, broekies en kappies sodat sy na haar kleinkinders kan omsien. ’n Mamma, Grizelda Snyders, sny die poppe uit lap, werk hulle aanmekaar en werk ook hulle wolhare vas sodat sy weer met die ekstra inkomste voedsame kos vir haar vierjarige dogtertjie kan koop.

Bestel vandag jou stukkie “onthou” teen R280. Prys sluit koerier uit. As jy as vriend by die FAK aansluit, kan jy gratis ’n Geloftepop kry.

Jy kan ook die Blommefonds help deur ’n skenking van R15 per SMS met die woord “Support” na 490 40 te stuur sodat hulle die bejaardes na wie hulle omsien, kan help of besoek dié webwerf vir meer inligting.

Vir navrae oor die projek kan lesers ʼn e-pos aan Marianda na [email protected] stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sarel ·

Mooi dankie Ouma’s..Mag ons vra dat die Ouma’s se name genoem word asook alle borge vir die Projek. Seker nie net die FAK nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.