Genade vir gestremdes in dié krisistyd

Suzette van Rooyen by die komberse wat vir San Michele ingesamel is. (Foto: Verskaf.)

In Brakpan is daar ʼn tehuis wat gestremdes in ʼn huislike omgewing versorg en hulle help om ʼn gesonde leefstyl te handhaaf. Dié toevlugsoord se naam is San Michele en daar word 200 verstandelik en liggaamlik gestremdes, asook psigiatriese pasiënte, gehuisves.

Marius Bosman, wat die afgelope vier jaar San Michele se sentrumbestuurder is, vertel dat die Covid-19-pandemie, en veral die nasionale inperkingstyd, ʼn groot impak op San Michele se daaglikse doen en late gehad het. Pasiënte was nie toegelaat om tuisbesoeke te doen nie en families kon nie besoek aflê nie om sodoende kontak tot die minimum te beperk. Vir ten minste drie maande kon geen nuwe pasiënte opgeneem word nie as gevolg van die voorsorgmaatreëls.

Mariette van de Werken van Helpende Hand vertel dat die pasiënte tydens die inperkingstyd nie kon verstaan hoekom hulle nie meer hul familielede kon sien nie en hulle was maar emosioneel. “Die bestuur het ook hul hande vol gehad met die pasiënte wat rook omdat die verbod op sigarette die gestremdes se gemoedstoestand erg benadeel het.”

Sy voeg by dat die mediese benodigdhede so duur geraak het dat die tehuis nie alles kon bekostig wat hulle gewoonlik koop nie. Hulle het ook ’n tekort aan warm komberse gehad. Die aankoop van noodsaaklike persoonlike beskermende toerusting en noodsaaklike produkte het groot druk op die tehuis se finansies geplaas.

Fondse wat vir ander projekte begroot was, moes herkanaliseer word. Dit het gelei tot die opskorting van onder andere instandhoudingsprojekte. “Vitamienbehandelings is vir die pasiënte en werkers aangekoop om hul immuunstelsels te versterk en groot hoeveelhede vars vrugte is vir dieselfde doel aangeskaf,” sê Bosman.

Die Solidariteit Beweging se krisisfonds het verligting gebring in ʼn baie moeilike tyd en San Michele in staat gestel om van die persoonlike beskermingsprodukte aan te koop.

Nog skenkings aan San Michele, ‘n tehuis vir gestremdes in Brakpan. (Foto: Verskaf.)

Buiten hul fisieke versorging word San Michele se inwoners ook gestimuleer en ontwikkel. ʼn Groot aantal aktiwiteite is spesiaal vir San Michele se inwoners ontwikkel en word voortdurend aangepas om aan die veranderende vereistes te voldoen. Die stimuleringsprogramme word drie keer per dag aangebied – tussen maaltye en teetye.

“Aktiwiteite sluit handvaardighede vir die dames in soos breiwerk, hekelwerk, mosaïekwerk, kerse maak, en ʼn verskeidenheid van lapwerk. Sommige inwoners help in die kombuis en die wassery, terwyl ander tuinwerk doen of by die groenteprojek hand bysit. Die inwoners kan ook die biblioteek besoek,” sê Bosman.

Van de Werken voeg by dat San Michelle altyd op soek is na boeke, want daar is heelwat pasiënte wat daarvan hou om deur boeke te blaai. Hulle het ook wol vir breiwerk nodig.

Die arbeidsterapiesentrum sorg vir stimulering op ʼn verskeidenheid van ontwikkelingsvlakke en fisioterapiediens word gelewer aan pasiënte ná operasies, asook gebrekverwante terapie. Verder is daar ʼn verskeidenheid van sportaktiwiteite om ʼn gesonde balans te handhaaf.

Op geestelike vlak word weekliks op ʼn Dinsdag biduurgeleentheid vir die personeel en pasiënte gehou, en op Sondae bied een van die kerkgroepe van die omgewing ʼn erediens aan.

San Michele se grootste uitdaging is samewerking – of gebrek daaraan – van ondersteuningstelsels soos hospitale en staatsapteke waarvandaan die tehuis mediese voorrade moet ontvang. Maar die frustrasie word verminder deur die onbeskryflike vreugde wanneer pasiënte presteer en floreer. “Ons pasiënte hou baie van musiek en geniet daarom die konsertoptredes tydens die jaarlikse opedaggeleentheid sommer baie. Hierdie geleentheid is ook die hoogtepunt van die jaarlikse kalender,” vertel Bosman.

Vir hom is dit ʼn voorreg om in beheer te wees van hierdie organisasie waar ʼn mens ʼn verskil kan maak in die lewens van pasiënte wat nie altyd in staat is om hul stem te laat hoor nie. Pasiënte wat dikwels deur die samelewing afgeskryf word. “Ek maak staat op God as my bron van krag, en gebed wat my die nodige uithouvermoë gee.”

  • As jy ook ʼn verskil wil maak, maak ʼn skenking aan die Solidariteit Beweging se krisisfonds. Lesers kan skenkings maak aan die Solidariteit Beweging se noodfonds by Helpendehand.co.za of by Krisisfonds.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.