Geskiedenisfoendie kry FAK se eerste olimpiadeprys

Annalette du Plessis is die wenner van die eerste FAK geskiedenisolimpiade. (Foto: Verskaf.)

Annalette du Plessis, ’n gr. 9-leerder aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, is uit honderde leerders van oor die land as die wenner van die FAK se eerste nasionale Afrikaanse geskiedenisolimpiade aangewys.

Annalette (15) sê geskiedenis was nog altyd vir haar en haar familie baie belangrik gewees.

“Die geskiedenisolimpiade is ’n wonderlike inisiatief, aangesien ons nie meer Afrikaanse geskiedenis op skool leer nie. Dit was vir my ’n lekker geleentheid om vir dié olimpiade meer oor hierdie geskiedenis te leer en ook my kennis te toets.”

Een van haar oumagrootjies, Maria Potgieter, het as inspirasie gedien vir die opstel, getiteld “Watter invloed het die Anglo-Boereoorlog op die Afrikaner gehad”, wat sy vir die tweede ronde van die geskiedenisolimpiade ingeskryf het. Dít het haar uiteindelik R10 000 in die sak gebring.

“Ek kan steeds nie glo dat ek gewen het nie. Ek het vier minute voor die spertyd om middernag my opstel aanlyn ingedien.”

Met haar prysgeld gaan Annalette ’n leesstoel vir haar kamer koop, want sy is gaande oor lees. Sy wil ook ’n virtuele deel, oftewel ’n granietsteen van die Voortrekkermonument, koop om haar wenprestasie te verewig en dan sal sy ook graag van die geld aan ’n liefdadigheidsorganisasie wil skenk.

Die FAK het in Februarie vanjaar die geskiedenisolimpiade, ’n aanlyn toets vir leerders van gr. 8 tot 12, bekendgestel. Die klem het op Suid-Afrikaanse geskiedenis met drie hoofafdelings, nl. Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis, geval en het uit twee rondes bestaan. Die eerste ronde het uit ’n aanlyn vraestel bestaan en die tweede ronde het deelnemers se standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets deurdat hulle ’n opstel ook aanlyn moes indien. Om deur te dring na ronde twee moes ’n kandidaat minstens 70% in die eerste ronde behaal het.

Chrisna Nel, projekkoördineerder van die geskiedenisolimpiade, sê: “Annalette se opstel was aanvanklik te lank en sy het nog minute voor dit aanlyn opgelaai moes word daaraan gewerk en verander. En toe wen sy! Dit is ’n lekkerlees-opstel met goed saamgestelde subopskrifte en goeie bronaanhalings en bronnelys vir ’n gr. 9-leerder. Bronaanhalings was nie deel van die vereistes nie, maar sy en heelwat van die leerders het dit wel ingesit.”

Die FAK se geskiedenisolimpiade is juis op die been gebring om aan elke leerder wat geskiedenis as vak op skool het of net lief is vir geskiedenis, die geleentheid te gee om sy of haar kennis te toets.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Roman Kraft/Unsplash.)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, sê die entoesiasme en terugvoer oor die geskiedenisolimpiade getuig van die behoefte aan só ’n projek waar ’n breë historiese kennis getoets word en eie standpunte geformuleer word.

“Die FAK wens nie net die wenners nie, maar elke deelnemer geluk met die hoë gehalte van die werk en standpunte wat goed deurdink is.”

Leerders van onder meer Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Kempton Park, Hoërskool Diamantveld, Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria, Afrikaanse Hoër Seunskool, Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Bellville, Hoër Meisieskool Bloemhof, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Menlopark, Potch Girls High, Hoërskool Warmbad en Tuisskoolleerders het aan die tweede ronde van die Geskiedenisolimpiade deelgeneem.

Jandré du Plessis, ’n gr. 12-leerder aan die Hoërskool Diamantveld in Kimberley, het ’n tweede plek behaal en R5 000 gewen. Daniël Arlow, ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Fichardtpark in Bloemfontein, het R2 500 met sy derde plek losgeslaan.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool is as die wenskool met die meeste deelnemers aangewys.

Alle deelnemers aan die tweede ronde ontvang ’n medalje, ’n sertifikaat en ’n R500-koopbewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.