Heerlike vermaak, inspirerende verhale by dié spogtee verwag

Vroue het opgetof vir die KANSA-spogtee in 2022. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Hartroerende verhale, heerlike vermaak, en dít boonop oor ʼn warm koppie tee.

Dít en vele meer kan deur gaste van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se jaarlikse spogtee, wat vanjaar op 25 Oktober by die Heartfelt-arena in Pretoria plaasvind, verwag word.

Dié geleentheid, met die tema Denim en Diamante, poog om bewusmaking te kweek en geld in te samel vir kankerslagoffers en hul geliefdes wat deur die siekte geraak word.

“Kansa is daar uit-en-uit om ʼn verskil in die gemeenskap te maak deur navorsing, opvoeding en ondersteuning. Sonder geleenthede soos hierdie sal dit nie vir ons moontlik wees om hierdie belangrike werk te doen nie,” het Anita Snyders, Kansa se nasionale volhoubaarheidsbestuurder, voorheen in die Maroela Media-ateljee oor dié belangrike geldinsamelingsgeleentheid gesê.

Die Kansa-spogtee het deur die jare ook bekendgeword vir die gashere en -vroue se kreatiwiteit en toewyding, wat jaarliks net groter en beter word.

Gasvroue van die Kansa-spogtee het jaarliks die kans om hulle eie stempel op die geleentheid af te druk deur hul tafels te versier en dek. ʼn Tafel bestaan ​​uit tien sitplekke wat neerkom op ʼn totale skenking van R2 500 of R250 vir ʼn sitplek aan ʼn tafel.

 

Onafhanklike beoordelaars evalueer elke tafel op grond van ʼn stel kriteria en beoordeling vind die vorige aand op 24 Oktober plaas. ʼn Verskeidenheid van pryse vir die kreatiefste tafels kan in die verskillende kategorieë gewen word.

Bibi du Preez, aktrise, komediant en sangeres, en die sanger Fanus Pienaar sal vanjaar vir vermaak sorg, terwyl inspirerende verhale deur kankeroorwinnaars ook deur die loop van die program gedeel sal word.

Du Preez is deesdae veral bekend vir haar komieklike rolle in Afrikaanse musiekvideo’s en sy was ook voorheen op Die groot afskud te sien. Pienaar se stem sal beslis aan sommige radio-luisteraars bekend wees: hy werk die afgelope paar jaar as omroeper by LekkerFM, en is verantwoordelik vir dié gemeenskapsradiostasie se ontbyt- en middagprogramme.

“Dit is vir Maroela Media ʼn groot voorreg om vanjaar die mediavennoot van dié tee te wees. Kanker is iets waarmee talle Maroela-lesers bekend is, en ons vertrou dat ons ondersteuning van die tee vir ons lesers sal wys dat ons daar is vir hulle, in goeie en in slegte tye,” sê Susan Lombaard, uitvoerende hoof van Maroela Media.

  • Kontak vir Anita Snyders van Kansa by 012 329 3036 of 083 633 5798 om meer inligting of om vir vanjaar se tee te registreer. Jy kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected].
  • Kyk na Maroela Media se video oor verlede jaar se spogtee hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.