Hier is Maroela Media se Supervroue vir 2023

Hier is Maroela Media se Supervroue van 2023. V.l.n.r. is Lindi Janse van Rensburg, Delanie Bezuidenhout en Anne-Marie Jacobs.

Ons is daagliks omring deur vroue wat lyk of hulle enigiets kan vermag, en wat ʼn ware inspirasie is omdat hulle weet waar hulle Krag vandaan kom.

Delanie Bezuidenhout, Anne-Marie Jacobs en Lindi Janse van Rensburg se stories het Maroela Media se lesers se harte aangegryp en hulle is as vanjaar se Supervroue vir 2023 aangewys.

Kom lees hierdie drie vroue se inspirasiestories hier:

Delanie Bezuidenhout

Delanie Bezuidenhout

Delanie Bezuidenhout van Pretoria is genomineer deur haar man, Marius Bezuidenhout. Só skryf Marius:

“My vrou is voorwaar ʼn supervrou! As ek net haar energie en omgee kan bottel, sal dit ʼn blitsverkoper wees. Sy is nie net my vrou en ma van ons pragtige twee dogters nie (en sy word binnekort ouma!), maar sy het ook al vir 100 000 kinders in Suid-Afrika elkeen ʼn paar skoolskoene geskenk. Hierdie skoene kom van ʼn projek, My Walk, wat sy begin het en wat nou ten volle geborg word deur Netcare en Adcock Ingram. Deur dié projek word drupsakkies by hospitale opgetel en in ʼn fabriek, wat sy van die been af gebring het, herwin in splinternuwe pragtige blink skoolskoene. Die projek skep tans werk vir 15 mense. Verder het sy ook onlangs haar honneursgraad in teologie voltooi en is sy tans besig met haar diensleraarjaar by die NG Kerk Kuratorium. Aan die einde van die jaar is sy ʼn dominee. Sy is ook aktief betrokke by ons gemeente en die gemeenskapspolisiëringsforum waar sy dag en nag slagoffers van misdaad bystaan. Sy is ook lief vir bergfietsry en enige kunsprojek!”

Anne-Marie Jacobs

Anne-Marie Jacobs

Anne-Marie Jacobs van Karos in die Noord-Kaap is deur haar skoonsus, Gillian Esterhuyzen, genomineer. Só skryf Gillian:

“Anne-Marie is op 23-jarige ouderdom gediagnoseer met Stargardt-siekte, ʼn degeneratiewe oogsiekte wat veroorsaak dat sy stelselmatig besig is om haar sig te verloor. Vandag, op 54-jarige ouderdom, het sy slegs 7%-sig oor. As jy haar egter ontmoet, sal jy dit nooit sê nie, want Anne-Marie het nie in sak en as gaan sit nie. Haar twee kinders vertel dat hulle kleintyd kon sweer sy het ʼn ekstra stel oë, want sy het baie gou agtergekom as hulle met die een of ander onheiligheid besig was! Ten spyte van haar swak sig behartig sy haar hele huishouding eiehandig. Sy is ook bekend vir haar heerlike gebak, soos koekies, wat sy op bestelling maak. Haar man, Marius, het vir haar ʼn spesiale toestel gemaak waarmee die deeg die regte dikte uitgerol word, asook ʼn toestel wat koekies presies die regte lengte afsny. In my oë is sy ʼn supervrou, omdat jy haar nooit hoor kla nie, ten spyte van haar uitdagings.”

Lindi Janse van Rensburg

Lindi Janse van Rensburg

Lindi Janse van Rensburg van Bloemfontein is genomineer deur Imke Hennop. Só skryf Imke:

“Sy is die definisie van onselfsugtigheid, onvoorwaardelike liefde, deursettingsvermoë en lojaliteit. Sy is altyd positief, fluks, hoopvol en goedhartig. Sy inspireer en motiveer selfs wanneer sy dit ook soms nodig het. Sy is ʼn mamma, broodwinner en swot deeltyds om haarself te bevorder. Sy bestuur ʼn span van 16 mense en doen dit briljant. Haar span is opreg lief vir haar omdat sy ʼn ware leier en inspirasie is. Haar kinders floreer in haar liefde, ondersteuning en moederskap. Haar vriendinne se lewens is verryk om haar eenvoudig net deel te hê van hulle lewens. Haar sin vir humor en goedhartigheid het die vermoë om selfs ʼn vreemdeling op straat se dag te maak. Sy oorkom struikelblokke met ʼn lied in die hart en ʼn glimlag op haar gesig. Haar lag en glimlag versprei soos ʼn veldbrand onder diegene wat haar omring. Sy bring lig in enige vertrek waarin sy stap en raak harte aan sonder dat sy dit besef of selfs probeer. Sy is ʼn sprekende voorbeeld van ʼn supervrou.”

Wat wen hierdie supervroue?

Die drie Maroela-supervroue het elkeen ʼn middel-van-die-week (Sondag 14:00 tot Donderdag 10:00) in ʼn standaard eenheid by een van die ATKV se sewe selfsorgvakansieoorde van haar keuse gewen.

Dié oorde is ATKV-Buffelspoort naby Rustenburg, ATKV-Drakensville aan die voet van die Drakensberge naby Bergville, ATKV-Eiland Spa naby Tzaneen, ATKV-Goudini Spa naby Worcester, ATKV-Hartenbos langs Mosselbaai, ATKV-Klein-Kariba naby Bela Bela en ATKV Natalia by Illovo in KwaZulu-Natal.

Vir meer inligting oor die oorde, besoek gerus die webwerf atkvoorde.co.za.

Die prys sluit akkommodasie vir vier persone in. Omdat dit selfsorgoorde is, moet hulle self voorsiening maak vir alle etes. Daar is wel restaurant- en winkelgeriewe indien hulle daarvan gebruik wil maak.

Ons wil dankie sê vir elke leser wat die mooiste stories van die vroue wat ʼn verskil in hul gemeenskap maak, gedeel het. Ons by Maroela Media vertrou dat elkeen van hierdie byna 800 vroue spesiaal op Vrouedag bederf sal word deur elkeen wat hulle genomineer het, selfs al het hulle nie gewen nie.

Hou Maroela Media dop vir nog opwindende kompetisies en skryf in!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sê maar net ·

Baie geluk aan elkeen van julle!! Geniet julle pryse saam met julle geliefdes! :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.