Hier is Maroela se Winterbruid 2023

Vooraansig (Foto: Zimbali/Dream Hotels & Resorts)

Dis ʼn groot voorreg om die liefde van jou lewe te ontmoet – en ʼn groter voorreg as julle trou aan mekaar kan beloof. Dis natuurlik heerlik om daarna, net julle twee, ʼn bietjie weg te breek vir ʼn wittebrood.

Met Maroela en Dream Hotels and Resorts se Bruid van die jaar-kompetisie is dit heerlik om ʼn tweede wittebrood weg te gee aan ons Winterbruid.

Maroela Media gaan met elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers ook die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys.

Ons het reeds ons Somerbruid en Herfsbruid aangewys.

Paartjies wat tussen Junie 2023 en Augustus 2023 getrou het, het vir die Winterbruid in aanmerking gekom. Uit honderde inskrywings moes ʼn beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap en ons lesers kon uit die die top-10 Winterbruide hul gunsteling aanwys. Die Winterbruid dring ook uiteindelik deur na die finale ronde as Maroela se Bruid van die Jaar.

Deur die loop van die jaar gaan ons ook nog ‘n Lentebruid (September – November 2023) aanwys. Hou dus Maroela dop as jy wil seker maak jy skryf vir dié opwindende kompetisie in!

Ons Winterbruid

Baie geluk aan Antoinette du Plessis van Heidelberg (Gauteng) wat verreweg die meeste stemme ontvang het.

Antoinette du Plessis

Antoinette en Déan het op 23 Junie 2023 by The Stone Cellar getrou.

“Ek en Déan ken mekaar al sewe jaar lank en het nie lank uitgegaan voor hy die groot vraag gevra het nie. Ons dag het ʼn hele paar foute en draaie gehad. Ons het die oggend opgestaan met baie mis en gevriesde pype, ons platejoggie was baie vreemd en my rok het geskeur en is reggemaak met vislyn omdat ons nie naald en garing in die hande kon kry nie (haha!). Ons dag was egter gevul met soveel liefde. Ons albei is wintermense en wou ʼn warm gevoel by ons troue geskep het – met lekker sop en baie rooiwyn dink ek het ons dit perfek reggekry. Ons vriende het tot die vroeë oggendure met ‘n luidspreker, rooiwyn en oorskiet malvapoeding in die plaashuis gekuier. Daar is eintlik nie woorde om hierdie dag op te som en te beskryf nie. Nie net het ek aan my lewensmaat ewige trou beloof nie, maar elke gas wat teenwoordig was, het dit in oorvloed saam met ons gevier.”

Wat wen die Winterbruid?

Antoinette wen twee nagte vir twee persone wat deel by Zimbali Lodge (insluitend ontbyt) naby Ballito aan die noordkus van KwaZulu-Natal. Dream Hotels and Resorts borg wonderlike pryse vir die wenpaartjies.

Baie geluk!

Maroela se Bruid van die Jaar-kompetisie

Dream Hotels & Resorts het seker gemaak daar is groot pryse, ter waarde van byna R60 000, op die spel. Ons gaan elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys

Ons gaan deur die loop van die jaar ook nog ʼn Lentebruid (September – November 2023) aanwys. Hou dus Maroela dop as jy wil seker maak jy skryf vir dié opwindende kompetisie in!

Jy staan met die stemmery vir elke seisoenebruid telkens kans om ʼn wonderlike prys te wen – bly dus ingeskakel!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.