Hier is planne vir daguitstappies in Gauteng dié vakansie

Laat die kinders stap, klim en klouter by Wolwespruit. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

As jy en jou gesin hierdie vakansie met Jan Tuisbly se karretjie net hier in goeie ou Gauteng gaan ry, is daar steeds ʼn heerlike paar plekke in en om die Jakarandastad om te gaan verken.

Die hele span by Maroela Media het koppe bymekaargesit vir uitstappies om die jongspan in die tyd besig te hou. Hier is ʼn paar van ons gunstelingplekke waarheen jy jou kinders vir gehaltetyd in die vakansie kan neem:

  1. Gaan stap of trap fiets by Wolwespruit

Wolwespruit is ʼn bergfietspark in Erasmuskloof net langs die Kloof-hospitaal in die ooste van Pretoria. Hierdie is een van ons gunstelingplekke in die Jakarandastad, want jy kan gaan stap, fietsry of draf, en boonop kan jy die hele gesin saamvat, selfs jou viervoetige vriende is ook welkom.

Daar is genoeg roetes om jou te toets, van beginnersvlak tot die meer ervare avonturiers wat ʼn ekstra uitdaging benodig. Ná daar behoorlik van al die oortollige energie ontslae geraak is, kan almal herlaai en uitspan by een van die restaurante op die terrein. Jonger kinders kan met hulle kleiner fietse die grasperke om die speelarea plattrap terwyl mamma en pappa op sagte boontjiesakke onder ʼn sambreel ontspan. Daar is ʼn heerlike speelplek vir die kinders, en talle waterbakke word voorsien vir honde wat ook gaan stap het.

Besoek Wolwespruit.co.za vir meer inligting.

  1. Kom ons gaan speel padeltennis

Maroela Media het in September die geleentheid gehad om ʼn potjie padeltennis op die Wingate Park-buiteklub se bane te gaan speel, en ons almal was dadelik verlief of die spel. Ons sal graag hierdie Desember ʼn hele paar familielede wil vat om die kombinasie van tennis en muurbal te gaan speel, want dit is maklik om dié spel te bemeester.

Jy kan jou volgende padeltenniswedstryd op die Playtomic app bespreek. Vir meer inligting besoek Proactivepadel.com.

  1. Maak ʼn draai by die dieretuin

Maar is die dieretuin dan nie ʼn vertrapping nie? Ons het ʼn geheim met ʼn besoek aan die Pretoria Nasionale Dieretuin en ek deel dit graag hier: sorg dat jy vroegoggend reeds aanmeld, sodra die hekke open, en as jy dit ná ʼn dag met ʼn hewige reënbui kan doen, soveel te beter. Die stad is tjoepstil in die oggend en die dieretuin ook. Die diere is nuuskieriger en kom maak dan ook graag van naderby kennis.

Pak ʼn piekniekmandjie met versnaperinge vir later die oggend as die honger magies begin kla. As jou begroting dit toelaat, huur ʼn gholfkarretjie om by die groot katte hoër op in die dieretuin te gaan kuier – dit is alles deel van die avontuur.

Gaan maak weer ‘n draai by die Pretoria Nasionale Dieretuin. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Ons het nie onlangs by die Johannesburgse dieretuin gaan inloer nie, maar daar is talle smaakmakers op sosiale media wat dit aanbeveel. Miskien kan jy daar gaan kuier en vir ons laat weet wat jou ervaring was?

Mense het dikwels vrae oor die diere wat in hokke is, maar ek kan jou verseker, jou ondersteuning aan ons dieretuine help met die bewaring en navorsing van ons biodiversiteit. Ondersteun hulle gerus, hulle doen goeie werk en as jy nie binnekort by ʼn natuurreservaat of wildtuin ‘n draai kan gaan maak nie, is dit ʼn heerlike manier om met wilde diere van reg oor die wêreld kennis te maak.

Besoek Pretoriazoo.org of www.jhbcityparksandzoo.com vir meer inligting.

  1. ʼn Dag by die museum

Ons en ons gesinne gaan maak vir die laaste twee jaar reeds elke Desember ʼn draai by die Natuurhistoriese Museum in Paul Krugerstraat, Pretoria. Daar is verskillende uitstalsale en verlede jaar was die kinders gek oor die prehistoriese diere en plaaslike voëls. Ons was self gefassineerde met die klippe, minerale en edelmetale wat in Suid-Afrika gevind kan word. Daar is ook uitstallings van amfibieë, visse, reptiele, soogdiere en ander skelette. Die oorspronklike Afrikaanse name pryk ook saam met die Engelse en Sesotho-benamings op naambordjies by die uitstallings.

Navorsers en wetenskaplikes bied ook reg deur die jaar praatjies by dié museum aan, en so het ons al toegang tot die argiewe van die museum verkry, asook ʼn besonderse uitstalling van insekte en skoenlappers gesien. Volg die museum op Instagram vir meer inligting hieroor.

Onthou daar is veilige parkering agter die museum in Minnaarstraat.

Maak sommer ʼn plan om by al die Ditsong-museums te gaan kuier. In Pretoria sluit dit die Kultuurhistoriese Museum in Visagiestraat, die Willem Prinsloo-museum in Silverton, die Kruger-museum in WF Nkomostraat, die Pionier-museum in Silverton, die Sammy Marks-museum op die ou Bronkhorstspruitpad in Donkerhoek, en die Tswaing-krater in Onderstepoortweg in. In Johannesburg is ook nog die Militêre-museum.

Besoek Ditsong.org.za vir meer inligting oor al die museums, hulle besoektye en kaartjiepryse.

  1. Kom stap op Hedianga-plaas

As jy aktiewe kinders en honde het, en kans sien om ʼn bietjie verder te ry, kan jy beslis op Hedianga-plaas in Olympus gaan stap. Ingang kos R55 vir volwassenes, R35 vir kinders en studente en kinders onder 12 kan gratis gaan stap. Die ingangsfooi is geldig vir ʼn week en daar is ʼn heerlike 5 km-roete wat jy kan aandurf. Die mense wat vir meer kans sien kan ook 10 km of 15 km gaan stap.

Gaan beloon jouself met ʼn koffie en eetgoed by die IC Coffee en Hemels Cafe daarna.

Lees gerus ook Mariska Koortzen se aanlyn reisjoernaal vir meer inligting oor haar besoek aan Hedianga hier.

As jy aktiewe kinders en honde het kan jy beslis op Hedianga-plaas in Olympus gaan stap. (Foto: Zandeleen Thygesen/Maroela Media)

  1. Klim teen die mure uit by Irene City Rock

Goed, teen hierdie tyd wil jou kinders dalk al die mure uitklim van verveeldheid, en jy voel of jy saam wil klim.

Hou die jongspan gelukkig en gesond en laat hulle sommer letterlik die mure gaan uitklim by die Irene City Rock-rotsklimgym. Daar is van 18 Desember tot 11 Januarie ʼn sessie van 10:00 tot 12:00 beskikbaar, Maandag tot Donderdag, en die kostes sluit al hulle klimtoerusting, ʼn instrukteur en twee ure se klimpret in.

Onthou daar is ook ʼn City Rock in Johannesburg en Kaapstad. Besoek www.cityrock.co.za vir meer inligting of om te bespreek.

Irene City Rock se rotsklimgym is ‘n plek waar almal gerus die mure kan uitklim. (Foto: City Rock Irene/Instagram)

  1. Besoek Buyuk Chamlija-ekosentrum in Centurion

Die ekosentrum langs die R55-pad in Zwartkop, Centurion, bied eindelose spasie en ʼn heerlike koservaring by die Turkse restaurant, die Karinja Cafe. Kom geniet heerlike Turkse kebabs en baklavas, en daar is ook schwarmas, snoek en selfs potjiekos op die spyskaart.

Buyuk Chamlije bied van 22 Desember tot 3 Januarie ʼn kersie-en-bessiefees aan en die sentrum is gedurende die fees daagliks oop van 10:00 tot 22:00. Die opbrengste uit die fees word aan die opleiding van minderbevoorregte studente gewy.

Die sentrum beloof ʼn familievriendelike atmosfeer met aktiwiteite soos ʼn hoekie vir kinders, ponieritte, vlugbal, basketbal en verskillende diere wat op die terrein ontmoet en gevoer kan word.

Besoek Buyukchamlija.co.za vir meer inligting of aanwysings na die sentrum.

  1. Maak gereed vir ʼn boomklim-avontuur

Daar is 11 Acrobranch-sentrums in Suid-Afrika wat ʼn boomklim-avontuur vir kinders en volwassenes beloof.

Ons het onlangs by die Big Red Barn naby Irene gaan klim. Die Big Red Barn is geleë in ʼn 20 hektaar bloekomboomwoud wat uitkyk oor grasveld en die Kaalrivier. Hier kan jy ook kom bergfietsry en draf. Daar is hope groot, oop ruimtes vir die kinders om te verken.

Bespreek maar betyds jou plek by die restaurant, want die Big Red Barn kan vinnig besig raak.

Vir meer inligting oor ʼn Acrobranch-sentrum na aan jou, besoek Acrobranch.co.za

Ons het onlangs Acrobranch Irene by die Big Red Barn naby Irene gaan besoek. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

  1. Besoek Kimiad-gholfbaan se grasperke

Kimiad in Moreletapark spog met ʼn heerlike gholfbaan waar jy die balle kan slaan, so ver as wat jy kan sien. Selfs die jongspan kan die geleentheid kry om ʼn gholfbal of twee af te slaan. Geniet daarna iets te ete of te drink by die Rustica-restaurant terwyl die kinders op die pragtige grasperke speel. Besoek Kimiad se Facebook-blad vir meer inligting.

  1. Irene se melkplaas

Kom kuier by die koeie van Irene se eie melkplaas. Hier kan jy sien hoe word koeie gemelk – dit vind gewoonlik van 14:30 tot 15:30 plaas – en terselfdertyd kan jy dan die kalfies van naderby leer ken. Kom ontdek die plaas, en onthou om jou fiets saam te bring.

Daar is ʼn heerlike swaai in die ou bome, klimrame en ʼn ou trekker om op te speel.

Die deli is daagliks van 08:00 tot 18:00 oop, en die Deck- en Barn-restaurante bied heerlike etes aan, waar jy kan ontspan terwyl die jongspan die vars lug van dié plaas geniet.

Besoek www.irenefarm.co.za vir meer inligting.

Irene melkplaas bied ‘n plaaservaring in die stad. (Foto: Nataniël News Page/Irene Farm/Facebook)

Nog idees:

Gaan verken Gauteng se natuurreservate. Daar is ʼn hele paar in en om Pretoria; ons dink byvoorbeeld aan die Rietvlei-natuurreservaat en Moreletakloofnatuurreservaat, om net twee te noem. Die Dinokeng-natuurreservaat is net 30 minute se ry noord van Pretoria en spog met die Groot Vyf. Besoek Dinokeng se webblad vir meer inligting.

Dinokeng (Argieffoto: Marianne Styan)

Die Voortrekkermonument is nog ʼn heerlike uitstappie vir die hele gesin en bied iets vir elkeen se smaak. Hier kan jy alles leer van die voortrekkers se reis na vryheid, maar daar is ook ʼn natuurreservaat om te voet of met jou fiets te verken. Die jongspan kan die plaaswerf se diere van nader leer ken en daar kan heerlike piekniek gehou word op die terrein. Besoek die Voortrekkermonument se webwerf vir nog inligting.

Die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto verskaf)

Vat ʼn daguitstappie na die Hartebeespoortdam, want daar is soveel om te doen en te ontdek. Besoek die Ann van Dyk-sentrum se jagluiperds of neem ʼn rit op Hartbeespoort se kabelkarretjie teen die berg uit. Julle kan ʼn besoek gaan aflê by die Elephant Sanctuary, Bush Babies Monkey Sanctuary of Hartbeespoort se slang-en-dierepark. Nog prettige gesinsuitstappies wat maar gerus op jou lys kan kom, is ʼn besoek aan die The Aloe Farm, Pretville of Jasmyn se markte, en ʼn besoek aan Van Gaalen se kaasplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.