Hoenderbedryf spring in om hulp te verleen

Die plaaslike hoenderbedryf het vleis aan die Atterbury Trust en WeCan se voedingsprojek in die weste van Pretoria geskenk. (Foto: Verskaf.)

Die hoenderbedryf het in Julie saam met die nie-winsgewende organisasies WeCan en die Atterbury Trust 222 kwesbare gesinne van Pretoria-Wes asook vyf kinderhuise van broodnodige proteïen verskaf.

Izaak Breitenbach, algemene bestuurder van die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging, sê die produsente in hierdie bedryf is maar net te bewus van die impak wat die Covid-19-pandemie se afsonderingmaatreëls op Suid-Afrikaners se bestedingskrag het.

“Ons het ʼn merkbare afname in aanvraag gehad vir hoender, wat die land se gewildste vleis is. Verder sien ons dat wanneer mense wel nou hoender koop, hulle dikwels goedkoper snitte verkies wat op die realiteit wys waarin Suid-Afrikaners hulle nou bevind.

“Vir werklik benadeelde gemeenskappe is alle vorme van vleis dikwels net nie bekostigbaar nie en daarom het die lot van Laerskool Westerlig ons harte geraak.”

Dit is waarom die produsente ʼn ekstra voedsame hupstoot wou gee aan die kospakke van groente en mieliemeel wat WeCan en Atterbury Trust in dié tyd uitgedeel het.

Breitenbach het na die lede van die pluimveevereniging uitgereik en Country Bird Holdings (CBH), wat die Supreme Chicken-handelsmerk besit, het onmiddellik ingestem om te help.

Marthinus Stander, uitvoerende hoof van CBH, het bykans twee ton hoendersnitte vir WeCan se voedingsprojekte beskikbaar gestel.

“Ons het ʼn noue verhouding met die gemeenskappe waarin ons verwerkingsaanlegte geleë is en dit is ook waar ons gewoonlik ons hulp toespits,” verduidelik Stander.

CBH se aanlegte kon in die afsonderingstyd voortgaan, en die maatskappy het nie werk verloor nie, maar dit het nietemin meer as vyf ton hoender aan gemeenskappe in sy omliggende omgewing in die inperkingstyd geskenk.

“Ons het gevoel ons het selfs meer om te gee en wou graag ʼn betroubare organisasie vind waarmee ons kon saamwerk, wat sal verseker dat vleis mense bereik wat dit die nodigste het. Daar is tans so ʼn so groot nood in Suid-Afrika dat dit net vir ons ʼn eer is om ʼn klein rol in die stryd teen honger te kan speel.”

Daar is vroeër vandeesmaand 440 kg se kospakkies aan die gemeenskap van Laerskool Westerlig versprei. Elke pakkie het ook 6 kg groente en 2,5 kg mieliemeel bevat.

Talle van die gesinne wie se kinders skoolgaan by Westerlig leef elke dag net van die hand tot die mond. (Foto: Verskaf.)

Emosies het hoog geloop terwyl mense wat hul werk onlangs verloor het en nou sukkel om hulle gesinne te voed, hul beurt afgewag het om ʼn kospakkie te midde van streng sosiale afstandmaatreëls te ontvang.

Volgens die skoolhoof, Erich Cloete, leef talle van die gesinne wie se kinders skoolgaan by Westerlig elke dag net van die hand tot die mond. Die situasie het vererger nadat die afsonderingsmaatreëls ingestel is en die kombuis van die skool, wat dikwels die kinders se enigste maaltyd in ʼn dag voorsien het, gesluit was.

Breitenbach se produsente het ʼn bykomende 200 kg vleis aan die skool self toegeken vir die daaglikse maaltye wat die kombuis aan die leerders voorberei. Daar is ook meer as 920 kg se hoendervleis geskenk vir die tweede WeCan-projek wat kospakkies aan vyf kinders huis in die Pretoria-omgewing afgelewer het.

“As ʼn trots Suid-Afrikaanse bedryf hoop ons om hierdie projek verder uit te brei om ʼn tasbare verskil in die stryd teen honger te maak.

“Covid-19 het ons ʼn duidelike les geleer; ons is almal afhanklik van mekaar as Suid-Afrikaners, en of ons nou individue of nywerhede is, ons moet op mekaar se steun kan staatmaak om ons deur hierdie uitdaging te kry en die ekonomie aan die anderkant weer op te bou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.