Inskrywings vir SA se eerste slimfoonfotokompetisie nog welkom

(Foto: Tandem X Visuals/Unsplash)

Die eerste South African Mobile Photography Awards het in November verlede jaar afgeskop en die land se beste slimfoonfotograwe staan die kans om groot pryse te wen.

Slimfoonkiekies kan in ʼn verskeidenheid kategorieë vir dié kompetisie ingeskryf word. Albert Bredenhann, professionele fotograaf, eienaar van Pixel Pro Photography en meesterbrein agter dié nuwe fotografiekompetisie, sê daar is reeds meer as 7 000 foto’s ontvang.

“Daar is baie mooi foto’s wat ingeskryf is vir die kompetisie en met ʼn kennersoog kan ek sien almal van hulle is definitief met ʼn slimfoon geneem. Op die oomblik is landskappe die voorloper wat betref die aantal inskrywings,” sê Bredenhann.

“Dit is ongelooflik om te sien hoeveel amateur-fotograwe professionele foto’s kan neem. Selfoontegnologie het van almal fotograwe gemaak.”

Die kompetisie het tien kategorieë waarin ʼn deelnemer soveel as vyf foto’s per kategorie kan inskryf. Die kategorieë is portrette, diereryk, argitektuur en ontwerp, swart-wit fotografie, makro en detail, straatfotografie, landskappe en die natuur, mense en abstrak, asook die eg Afrikaanse kategorie.

Maroela Media borg die eg Afrikaanse kategorie in dié kompetisie. Met hierdie afdeling word ʼn splinternuwe weg gebaan vir professionele en amateur-fotograwe om hulle slimfone te gebruik om dié onderwerp op ʼn unieke wyse te interpreteer.

“Die kwaliteit van die foto’s is fantasties. In die eg Afrikaanse kategorie is daar talle foto’s van brandewyn, Coke en braaivleis,” skerts Bredenhann.

“Ek het tot dusver geen vreemde of onvanpaste foto’s ontvang nie en elke foto het ek met die hand goedgekeur. Ek het bykans die hele vakansie gesit en na foto’s gekyk.”

Dit is die eerste keer dat dié kompetisie aangebied word, maar beslis nie die laaste keer nie, sê Bredenhann. “Ons sien al klaar uit na 2021 se kompetisie.”

Die pryse vir die fotografiekompetisie is ook nie te versmaai nie. King Price Insurance het as hoofborg prysgeld van R150 000 beskikbaar gestel. Die algehele wenner sal met R35 000 wegstap, terwyl daar ook ʼn eerste prys van R5 000 in elk van die tien kategorieë toegeken sal word en twee pryse vir die algehele naaswenners.

Blackview Suid-Afrika skenk ook ʼn splinternuwe, robuuste slimfoon aan die algehele wenner as deel van die prys.

Alle inwoners van Suid-Afrika, maak nie saak waar jy jou tans in die wêreld bevind nie, kan vir die kompetisie inskryf.

Inskrywings kan op die webwerf www.mobilephotoawards.co.za gedoen word. Foto’s mag slegs geneem en geredigeer word met ʼn mobiele toestel, ʼn slimfoon of ʼn tablet.

Die kompetisie het reeds geopen en inskrywings sal tot middernag op Vrydag 15 Januarie 2021 aanvaar word. Daarna sal lede van die publiek ʼn maand kry om vir hulle gunsteling-foto’s te stem, waarna die beoordelaars hul finale keuses sal maak. Die wenners van elke kategorie asook die algehele wenners word op 26 Februarie aangekondig.

Sommige van die inskrywings is op die South African Mobile Photography Awards se Facebook-blad en Instagram-profiel gedeel. Om deursigtigheid te verseker word geen krediete aan die foto’s op sosiale media gegee totdat die wenners aangekondig is nie.

Besoek www.mobilephotoawards.co.za vir meer inligting oor hierdie kompetisie.

  • Albert Bredenhann, professionele fotograaf en eienaar van Pixel Pro Photography, is die meesterbrein agter die nuwe Suid-Afrikaanse slimfoonfotografiekompetisie. Hy het met Maroela Media oor die kompetisie gesels. Luister na die volledige onderhoud bo-aan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.