Jong Akademia-dosent word Taalraad-voorsitter

Annelise de Vries is onder meer ʼn dosent in Afrikaans by die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse Taalraad (ATR) het Dinsdag ʼn nuwe direksievoorsitter aangewys. Dr. Annelise de Vries, ondervoorsitter van die direksie, sal die leisels by die uittredende voorsitter, Michael Jonas, oorneem.

“Die ATR doen nou fantastiese werk en oral waar ek kom en die ATR ter sprake is, ervaar ek regtig ʼn gees van versoening deur Afrikaans.

“Verskillende organisasies wat nooit in die verlede saamgewerk het nie, werk nou saam om Afrikaans as versoeningstaal eerder as onderdrukkerstaal weer te hervestig. Ek is verskriklik opgewonde om deel van hierdie bemiddelingsproses te wees,” sê sy aan Maroela Media.

De Vries is ʼn dosent in Afrikaans by die private Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia en sy is ook een van die Afrikaanse Taalkommissie se taalkundiges vir die termyn 2022 tot 2024.

Sy is ʼn kenner op die gebied van toegepaste linguistiek, wat taalbeplanning en forensiese linguistiek insluit, en sy beywer haar vir die bevordering van moedertaalonderrig.

De Vries se visie is veral om op die ATR se projekte wat die afgelope jaar van stapel gestuur is, voort te bou en daarna te streef om selfs ʼn groter invloed op die bevordering van Afrikaans te hê.

Sy verwys onder meer na ʼn demografieprojek wat wil vasstel waar gebruikers van die verskillende variëteite van Afrikaans hulself bevind en waarheen hulle op pad is, veral met betrekking tot onderwys op hoër en basiese vlak.

Daar is ook ʼn opleidingsplan vir hoëronderwysinstellings wat daarop gemik is om dosente by te staan in die beoefening van Afrikaans as wetenskapstaal.

“Ons het met verskillende Afrikaanse departemente by hoëronderwysinstellings geskakel en al die dosente, wat taalkundiges en letterkundiges insluit, bymekaar gekry.

“Hierdie projek is uiters belangrik omdat die tendens geïdentifiseer is dat die aanbieding van Afrikaans as vak stelselmatig besig is om te verskraal en selfs afgeskaf word.”

De Vries noem ook ʼn kurrikulumsinisiatief wat leemtes in die kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV, ook bekend as CAPS) ondersoek met die doel om inklusiwiteit, maar ook gehalte, van Afrikaans as vak in basiese onderwys te verseker.

“Dit is van besondere waarde omdat daar besin word oor hoe Afrikaans as Huistaal en Eerste Addisionele Taal op basiese onderwysvlak aangebied word.”

De Vries beskou dit eintlik as ʼn groot taalbeplanningsproses en dit maak haar verskriklik opgewonde. “As dit nie vir taalbeplanning in die geskiedenis van Afrikaans was nie, was ons nie nou waar ons is nie.”

Verdere sittende lede van die Taalraad sluit dr. Hendrik Theys (nuwe direksielid en ondervoorsitter), prof. Anne-Marie Beukes (uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) en Ismail Ely (president van die Kaapse Maleier-koorraad) in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

ABDP ·

Baie geluk en ek wens alle voorspoed toe. Haar visie maak my opgewonder vir Afrikaans.!

Republikein in die Wes Kaap ·

‘n Opdraande stryd lê voor waar jy die handskoentjies moet uittrek en kaalvuis baklei. Die geveg sal polities word. Bemark julle werk met ons gewone sterflinge asseblief. Ons strompel oningelig die toekoms in. Nietemin sterkte.

Treurwilger ·

Voorspoed met die harde werk.
Goed om te lees dat die ‘versoeningsfase’ nou uiteindelik na 30 vernietigende jare oorgaan in ‘n ‘red wat nog te redde is fase’.
Liewer laat as nooit.

annie ·

Is dit professor, doktor of net me? Ons hoop die voornaam kry binnekort iets vooraan, nie net mevrou nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.