‘Jou planne en hoop moet nooit ophou nie’

(Foto: Helpende Hand.)

Toe die afsonderingtyd in Maart aangebreek het, was Jaco Koekemoer sy werk kwyt. Dit was vir hom baie swaar, want hy glo in harde werk en kon nog altyd vir sy vrou en drie kinders sorg.

“Ek is ʼn nutsman, maar ek is nie permanent aangestel nie en daarom nie vir werkloosheidsversekering geregistreer nie,” sê hy.

Hy kon nog vir so ʼn week of wat vir die gesin sorg, maar daarna het dit begin knyp. Nou moes hy sy trots sluk en vir hulp vra.

In hul nood het hy Solidariteit Helpende Hand in April gekontak en vir koshulp gevra. Tanya Rossouw het sy omstandighede geassesseer en die gesin bygestaan.

“Vroeg in Mei het Jaco laat weet dat hy bitter skaam kry om te vra, maar dat hulle elektrisiteit amper klaar is en of ons met die koop van krag sal kan help. Ongelukkig was dit nie moontlik om ook aan die enorme behoefte van koopkrag te voorsien nie,” vertel sy.

Net daar besluit Jaco toe dat hy self ʼn plan sal móét maak, want sy gesin moet darem warm water hê om skoon te kom in die ysige Bloemfonteinse winter.

“Ek het ʼn drom hier buite die huis, en daar is gelukkig baie hout hier waar ons woon,” verduidelik Koekemoer.

“Toe besluit ek om ʼn donkie vir warm water te bou. Dit het eers met ʼn emmer gewerk, wat ons bad toe gedra het. Later het ek dit verbeter sodat ʼn pyp sommer van die donkie af bad toe loop om die water in te tap. Dit werk baie goed!”

Jaco Koekemoer het self ‘n plan beraam om te verseker sy gesin het warm water om in te bad. (Foto: Verskaf.)

Hy het vir Rossouw ʼn foto van sy handewerk gestuur.

“Hy was bitter trots daarop en ons was beïndruk! Ons kon op twee geleenthede daarna weer vir die gesin met koshulp ondersteun totdat Jaco op vlak 3 van die inperkingstyd weer kon begin werk. Hy stuur nog gereeld boodskappies aan om te sê hoe dit gaan, maar hulle het nie weer nodig gehad om hulp te vra nie,” vertel Rossouw.

Die Solidariteit Beweging se krisisfonds het Helpende Hand in staat gestel om mense in oorlewingsnood te help.

“Duisende mense landwyd, soos Jaco en sy gesin, het vandat die inperking op vlak 5 ingetree het tot nou toe koshulp ontvang. Ons beker van dankbaarheid loop oor vir elke skenking wat ons ontvang het tot nou,” sê Rossouw.

Die enorme volume hulpversoeke het effens afgeneem met die inperkingsvlakke wat tot vlak 3 gelig is omdat baie mense weer kon begin werk, voeg sy by. Daar is egter mense wat hul werk permanent verloor het, of besighede wat heeltemal toegemaak het omdat hulle nie die finansiële terugslag kon absorbeer nie. Daar is ook gesinne waarvan die broodwinners nog nie weer heeltyds terug by die werk is nie en werksure en salarisse gesny is.

“Ons kry ontsettend baie mense wat nou navraag doen na ander werkgeleenthede – meer as ooit in die verlede. Hierdie gesinne gaan heel waarskynlik vir ’n langer tydperk steeds koshulp versoek. Ons het geen illusie daaroor dat ons nog lank hierdie tipe verligting sal moet bied nie, maar ons assesseer regtig streng en monitor gesinne se omstandighede soos wat die inperkingsvlakke verander en meer moontlikhede vir werk teweegbring,” sê sy.

Die volhoubaarheid van hul vermoë om op ’n gestruktureerde wyse te help waar hulp regtig noodsaaklik is, asook verantwoordbaarheid teenoor elke skenker vanuit die gemeenskap, is vir Helpende Hand baie belangrik. Omdat niemand weet vir hoe lank die inperking nog kan duur nie en vir die feit dat die land ekonomies ’n geweldige knou gekry het, hoop die organisasie om steeds hulp te kan bied aan gesinne en instansies wat vir basiese oorlewing by hulle gaan aanklop.

“Ons het steeds hulp van die gemeenskap baie nodig om hierdie taak voort te sit. Hierdie is een reusetaak wat saamstaan verg. Om hierdie saamstaan landwyd in aksie te sien, maak ure en ure se harde werk ʼn absolute vreugde,” sê Rossouw.

Met die hulp van Helpende Hand en hope vasberadenheid, is die Koekemoer-gesin besig om weer op die been te kom. Behalwe vir die donkie het die gesin groente geplant, een van hul drie varke geslag en selfs tarentaal vir die pot gevang.

“Ek het wel nou so bietjie skuld om af te betaal, maar ek is gelukkig om weer by die werk te wees. Baie ander ouens wat saam met my gewerk het, is afgelê,” sê Koekemoer.

Hy voeg by dat ʼn mens arm kan wees, maar jou planne en hoop moet nooit ophou nie.

“Moenie moedeloos raak nie, die Vader sal sorg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elmarie ·

Ek bewonder elke liewe mens wat PROBEER om self iets te doen. Sterkte vir jou en dankie Solidariteit vir wat julle doen

Maria M S ·

Jaco, na my mening, is jy n held! Baie dankie vir die lewensles wat jy vir so baie wat hierdie berig lees, geleer het. Daar is ALTYD n plan te maak, met GOD se hulp en lyding.
Baie dankbaar saam met julle dat jy weer kon begin werk en geld verdien om vir jou gesin te sorg. Baie sterkte!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.