Kanker beteken nie die lui van begrafnisklokke nie

Jason Kilian, noem homself die “padkaptein.” “Ek het al familie en vriende aan kanker afgestaan en dit is ook waarom ek al vyf keer die rit aangepak het.” Foto: Verskaf.

’n Groep vroue en mans het op hul ysterperde ’n tog van 1 376 kilometer afgelê en by verskeie skole in informele nedersettings aangedoen en hul stories van hoop oor kanker gedeel. Die Ysterbrigade het op 12 Oktober by die Centurion Hospice gestop. Die laaste stop. Vir ander, dalk, die heel laaste. Yolanda Barnard-Lemmer het met dié wat met kanker leef, gesels.

Die gesig wat in die motorfietspieël terugkaats, is vol lagplooie en lewenslyne. Lyne wat die uitgestrekte kankerroete, wat sy die afgelope vyftien jaar kafgedraf het, uitkerf. Haar lippe blerts pienk. ’n Pienk blommetjie versier haar wang. Sy haal haar sonbril af en vat onbewustelik aan haar regterbors. Nou, ná vyf rekonstruktiewe operasies, opgebou tot 34 C-perfeksie.

“Ek is Frieda,” sê sy vir haar spieëlbeeld. “En ek is steeds hier.”

Dan draai Frieda Henning (64) flink om. Die spieël flits haar kort, grys kapsel.

“Ek het ook opgehou om my hare te kleur,” sê sy en klink net soos Griet, die uitbundige, fiktiewe karakter wat die skrywer, Marita van der Vyver geskep het.

“Dit lewe is heeltemal te kort om jou hare te kleur.” Sy vryf oor haar sitvlak, want ná agt dae op haar ysterperd is dáárdie deel van haar anatomie kliphard en bloupers gesit. Haar duime is geknoets van “al die rem trap en petrol gee,” sê sy.

“Ons is steeds hier. Ons almal is hier,” sê sy en wuif vir die ander wat styf-styf van hulle Indian-motorfietse afklim.

“En ek,” sê sy met ’n knipoog, “is die gelukkigste van almal om hier te wees. So amper-amper het ’n fratsongeluk my lewe geëis nadat een van die motorfietsryers op een van die einste Cancervive-ritte, bo-oor my gery het. Ek was bykans 18 dae in die intensiewesorgeenheid. Maar ek het daarna weer op my motorfiets geklim. Dié perd gaan my nie so gou onderkry nie.”

Daar is ryers met borskanker, velkanker, kolonkanker. Swart, bruin en wit. Een van die bestuurshoofde van die bankgroep Absa is daar. Ook die bekende TV-aanbieder en motiveringspreker, Janie du Plessis. Die gemene deler: kanker.

“ ’n Mens leef elke dag met die feit dat die kanker weer kan terugkom. Ons leef met kanker. Een van ons gaan dalk volgende jaar nie meer hier wees nie. “

Dit is al die sesde jaar wat Frieda saam met Cancervive, ’n nieregeringsorganisasie wat hulself ten doel stel om op te voed, te ondersteun en bewusmaking te skep, op haar motorfiets klim en saam met ander “wat met kanker saamleef,” (so noem sy haar mederyers), verskillende roetes oor die hele land volg.

Frieda woon op George in die Oos-Kaap, maar het dié jaar na die noorde gevlieg en saam met sewentien mense meer as 1 300 kilometer afgelê.

Die tog het in Pretoria begin, deur Noordwes en Mpumalanga gedraai en weer in Pretoria geëindig. Hulle het by skole in informele nedersettings aangedoen en leerlinge onderrig in die belangrikheid daarvan om vroeë kankersimptome te herken en behandeling te ondergaan.

Vandag is hul laaste stop by Centurion Hospice waar hulle instandhoudingswerk doen. Dalk is dit simbolies, want by die Hospice lê kankerpasiënte hul laaste skof af.

Naniki Seboni het velkanker oorleef. Foto: Verskaf.

Kanker word net by wit mense gediagnoseer

Daar is ondersteuners soos Jason Kilian wat homself die Padkaptein noem.

“Ek het al familie en vriende aan kanker afgestaan en dit is ook waarom ek al vyf keer die rit aangepak het.”

Hy sit op sy swart ysterperd en vee die sweet van sy voorkop af. Sy gemiddelde spoed is 56,2 km per uur. Hy stop drie keer per dag om praatjies of liefdadigheidsaksies by verskillende skole te lewer. Saans, sat van die lang dag op sy motorfiets, klim hy af, net om douvoordag weer op te staan en weer te ry.

“Daar is ’n mite dat kanker net onder wit mense voorkom,” sê Jason, “Dit is waarom ons ook by skole in informele nedersettings aangedoen het.

“Kanker ken ongelukkig nie velkleur nie. Ons het veral die meisies probeer leer om hul borste te ondersoek, om die tekens van kanker te herken sodat dit gediagnoseer en behandel kan word.

“Ek het baie gedurende hierdie week gehuil; daardie dag toe twee klein dogtertjies – een swart, een wit, aan my kom vasklou en huil het omdat hul mammas aan kanker dood is. Daardie besoek aan die Steve Biko-onkologiesaal. Soveel kinders het kanker. Hoekom Here, het ek gevra, hoekom kry kinders kanker?”

Frieda Henning is steeds hier. Foto: Verskaf.

Geen antwoord

Net soos Frieda geen antwoord kon kry toe borskanker by haar gediagnoseer is toe sy maar 49 jaar oud was nie.

“Ek het altyd gewonder hoekom ek kanker moes kry. Hoekom, Here? Vandag weet ek: om my storie van hoop aan ander te bring.

“Kanker is ook op ’n laat stadium by my gediagnoseer – dit is ook waarom borskanker “skaamkanker” genoem word. Dit kruip weg en bespring jou skielik, soos daardie Bybelse dief in die nag.”

“Nadat my bors verwyder is, was ek skaam. Skaam vir my man. Ek wou nie kaal voor hom verskyn nie. Die letsel het lelik en dik oor my borskas gelê. Hy het my lief en het my ondersteun. Ek wou rekonstruktiewe chirurgie ondergaan – en dit het niks met ydelheid te doen nie. My borste is deel van my vrouwees.”

Frieda en haar mederyer, Ray Cassiem (46) noem borskanker skaamkanker.

“Want jy het nie pyn nie. Die kanker word dikwels eers gediagnoseer as dit die vierde fase bereik het,” sê Ray.

“Dit het met my gebeur. Ek het gehoor ek het net ’n paar maande om te leef. Die kanker het eers na my bors versprei. Die gewas is verwyder – ek hoef gelukkig nie ’n mastektomie ondergaan het nie. Toe dog ek daarna ek is skoon. Ek is kankerloos. Maar kort daarna het die kanker na my borsbeen versprei. Wéér ’n doodsertifikaat.

“Nou is dit al vyf jaar later. Ek het geleer om hiermee saam te leef, maar ek moet erken: ek oefen meer, eet gesonder, lewe groter… want môre is dalk my laaste dag.”

Prostaat- kolon- en borskanker word almal skaamkanker genoem. “Mense is skaam om daaroor te praat. Mense wil mos nie sê hulle het boudkanker nie,” sê Ray met ’n skaterlag.

“Kort nadat my kanker gediagnoseer is, het ek eers in ’n gat van depressie verval. ’n Mens dink vreeslik aan jou eie nietigheid en die onafwendbare: die dood. Ek het egter besluit om te leef. Ek het nog so baie dinge gehad om te doen en ek het besluit om teen die kanker te baklei,” vertel Frieda.

“Ek het ook begin motorfietsry. Ek het ’n rybewys gekry en ’n motorfiets gekoop.”

Frieda glo nie haar kanker gaan verdwyn nie. Dit is daar. En sal altyd wees. Volgende jaar gaan sy weer op haar motorfiets klim en saam met ander kankerlyers die rit van hoop aandurf.

Twee van die vroue in die groep wat ook die rit meegemaak het. Foto: Verskaf.

Die son bak warm en van die motorfietsryers roep na Frieda wat in die skaduwee gesit het.

“Het jy lyf weggesteek?” spot hulle. Hier en daar is ’n spatsel verf op die gesigte.

“Ek steek nie lyf weg nie, skaam julle!”

Sy stap na haar motorfiets, skakel dit aan en die enjin brul.

“Hoeveel oumas kan sê dat hulle hul kleinkinders op ’n breakfast-run neem?”

Ray kyk vinnig na Frieda: “Sien ons mekaar weer volgende jaar?”

“Net God sal weet,” sê sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.