Kansa hou weer teepartytjie ten bate van kankerlyers

Foto ter illustrasie. (Foto: TeaCora Rooibos/Unsplash)

“Na twee jaar van virtuele geleenthede, is ons uiters opgewonde om weer saam met geliefdes, vriende en kollegas bymekaar te kom, nie net om tyd saam deur te bring nie, maar ook om ons harte oop te maak deur die stryd teen kanker te ondersteun.”

Só sê Anita Snyders, volhoubaarheidsbestuurder van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), oor die nuus dat die vereniging se jaarlikse Cuppa for Cansa-geleentheid vir die eerste keer in twee jaar nie meer in  ʼn virtuele formaat aangebied hoef te word nie.

Maroela Media het vroeër berig dat dié vereniging, wat verlede jaar sy 90ste bestaansjaar gevier het, sedert 1931 ontwikkel en gegroei het danksy talle vennootskappe, donasies en die toegewyde deursettingsvermoë van lede van die Suid-Afrikaanse gemeenskap.

Cuppa for Cansa is een van Kansa se verskeie inisiatiewe en dien as ’n geldinsamelingsprojek vir die organisasie om die uiters nodige siftingstoetse soos borsondersoeke en papsmere in die onderskeie gebiede waar hulle betrokke is, te doen.

Volgens Snyders het vanjaar se tema – “Tyd om saam hart te vat” – ook ’n dieper betekenis om die belangrikheid en krag van samesyn te verteenwoordig. “Kanker is nie ’n siekte wat alleen beveg moet word nie. Kankerpasiënte, geliefdes én versorgers het ons ondersteuning en aanmoediging nodig.”

Snyders verduidelik voorts dat dit ook maklik vir individue of sakeondernemings is om as gasheer vir dié geleentheid op te tree.

Belangstellendes kan op die Kansa-webwerf registreer of ʼn e-pos na [email protected] stuur, waarna ʼn streekpersoneellid verdere besonderhede oor die geleentheid sal deurgee.

Dié betrokke personeellid sal dan alle aspekte, waaronder die bespreking en bevestiging van die datum, gassprekers, uitnodigings en relevante bemarkingsmateriaal, verder saam met die gasheer hanteer.

Snyders voeg by dat gashere selfs hul eie tema kan kies óf Cuppa gebruik om ’n spesiale dag te vier, byvoorbeeld deur ’n “Verjaardag Cuppa” of “Vrouedag Cuppa” aan te bied.

Five Roses is vanjaar ook die hoofborg van die geleentheid en verskaf tee vir elke geleentheid. Daar is verder ook ʼn beperkte aantal Cuppa vir Kansa-produkte te koop, onder andere Cuppa-bekers wat in vier pragkleure beskikbaar is.

“Dit is maklik om te verstaan waarom Cuppa een van die hoogtepunte op die Kansa-kalender is, aangesien dit mense op ’n prettige manier bymekaar bring en hulle die geleentheid bied om te inspireer en ’n verskil te maak aan diegene wat deur kanker geraak word. Ons hoop almal sal hul plaaslike Cuppa-byeenkomste vanjaar ondersteun,” sluit Snyders af.

Vir meer inligting, kontak Lucy Balona, hoof van bemarking en kommunikasie by Kansa, by [email protected].

  • Die berig is gewysig sedert plasing – Red.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Piet

Baie dankie dat jy die spelfout uitgewys het. Dit is reggestel en behoort binnekort reg in die opskrif te vertoon.

Groetnis
Esté Meyer Jansen namens Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.