Katelyn se wens vir Kersfees

kinders_gesels_woorde_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Ek wil so graag net kan lees, maar lees by lig, nie by kerslig nie. Ek wil so graag elke dag ten minste een keer eet. Ek wil so graag nie elke dag bang wees om huis toe te stap nie; die mans in die pad maak my bang en hulle skree vir my woorde wat my laat weghardloop. Ek wil so graag my eie kamer hê, want ek word nou groot en dit maak my baie ongemaklik om my kamer met my ma én broer te deel. Ek wil so graag soos my maats net kan hokkie oefen en koor sing en nie altyd maak of ek nie wil nie.

“Ek wonder of daar ooit genoeg geld sal wees sodat ek ook eendag kan proe hoe ʼn lekker koffie smaak en ruik hoe vars gebakte brood ruik. Ek wonder of daar ooit ʼn plek sal wees waar ek kan dans en sing en vir Jesus bid sonder dat ander mense my heeltyd steur. Ek wonder of ek ooit gaan gelukkig wees …”

Hierdie vrae is nie veronderstel om deur ʼn elfjarige meisie se gedagtes te dwaal nie. Dit voel soos ʼn smagting na goed wat vir my kind vanselfsprekend is. Maar dit is nie die geval in klein kaalvoet-Katelyn se lewe nie. Haar wens om ʼn bietjie nader aan normaliteit te wees, is hartverskeurend.

Wanneer ek in Katelyn oë kyk en luister hoe sy wens sy het ʼn plekkie om te behoort, weet ek dat sy ons nodig het; ek weet dat sy gehelp kan word.

Katelyn se soeke na veiligheid, privaatheid, ʼn tuiste en fisieke welstand is iets waarmee ons kan help, iets waarmee ons móét help. Katelyn laat my dink aan duisende ander dogters en seuns wat ook hierdie wens het. Duisende ander kinders wat net wil kind wees en nie wil bang of onseker wees oor die lewe nie. My sesjarige vra nie hierdie vrae nie; die wense op haar Kersfeeslysie lyk anders. En juis daarom maak dit my hart nog seerder, want klein Katelyn begeer iets wat sy eintlik moet hê.

Dit is nie baie gevra nie … Sy sien mos by haar ander maatjies dat dit normaal is.

Verder vertel Katelyn dat sy nie regtig baie maatjies het nie; die maatjies spot haar omdat sy nie soos hulle alles kan doen, eet of wees nie. Sy huil tussendeur omdat sy nie elke aand soos die ander meisies in haar klas kan bad nie en omdat hulle haar daaroor terg.

Terwyl Katelyn praat, begin sy ook sing: “Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer. Skenk ons ʼn helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.” Iewers moet daar tog ʼn goeie invloed in haar lewe wees, iemand wat vir haar van Liewe Jesus leer. Dit bring weer vir my hoop.

Foto: loilamtan/pixabay.com

Katelyn se mamma se aansoek vir koshuisverblyf vir haar dogter is deur die Bemagtig-ʼn-kind-projek goedgekeur. Sy kan nou lees by ʼn lig in haar kamer in ʼn koshuis naby haar skool waar sy nie meer hoef bang te wees vir die mans langs die pad nie en waar sy elke dag drie keer kan eet. Haar mamma werk steeds hard, maar haar gedagtes kan ook tot rus kom omdat sy in haar hart weet haar Katelyn is veilig. Veilig tussen haar maatjies in die koshuis en by die koor- en hokkie-oefening; sy hoef nie meer te maak of sy aan niks wil deelneem nie. Die Bemagtig ʼn Kind-fonds help haar mamma om ʼn bruggie te bou terwyl sy werk daaraan om haar en haar kinders se omstandighede te verbeter deur haar aansoek vir ondersteuning met koshuisverblyf van Katelyn goed te keur.

Dankie aan Solidariteit Helpende Hand se Bemagtig-ʼn-kind-projek wat kinders soos Katelyn se wense vir duisende ander kinders ook waar maak.

“Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue oue taal. Kyk, selfs die nagtelike swye vertel die ou verhaal. Kersfees kom, Kersfees kom – gee aan God die eer. Skenk ons ʼn helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.”

Jy kan help

As jy ander kinders soos Katelyn wil help en ondersteun, besoek gerus www.bemagtignkind.co.za en vat hande met Solidariteit Helpende Hand se Bemagtig-ʼn-kind-projek. As ons as gemeenskap in geloof saamstaan, kan ons berge versit vir hierdie kinders. Katelyn se verhaal het juis so goed geëindig omdat mense soos jy wat nou hier lees, besluit het om hand op te steek, hand uit te steek, en ʼn verskil te maak.

René Roux is adjunk- uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand

bemagtig-n-kind.jpg

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ann ·

Sjoe. Dis beslis nie te veel gevra vir ‘n elfjarige meisie nie. Wonderlik dat sy gehelp kon word!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.