KidneyKidz maak speel-speel werk van nierprobleme

Dr. Chevon Clark en prof. Errol Gottlich. (Foto: Verskaf)

Hoewel die meeste kinders ʼn slapie vang terwyl hulle soms tot die helfte van die week vir ure aaneen aan ʼn masjien gekoppel is, poog KidneyKidz om hierdie tyd meer opwindend te maak.

Die Nasionale Niersentrum (NRC) maak mediese behandeling vir dié jong pasiëntjies wat van dialise afhanklik is, veel draagliker deur prettige bedrywighede, speletjies en TV-programme deel van ʼn nuwe pediatriese dialise-eenheid te maak.

Dié eenheid spog ook met werkstasies vir ouers sodat besige gesinne hul werkverpligtinge kan voortsit tydens ʼn kind se dialisesessies.

In samewerking met die sentrum, wat 71 nierdialise-eenhede oor Suid-Afrika heen bedryf, het prof. Errol Gottlich die KidneyKidz-eenheid by Rochester Place in Sandton gestig.

Die sentrum, wat 71 toegewyde dialise-eenhede landwyd bedryf, probeer om die behoeftes van pediatriese nierpasiënte in ʼn gesingesentreerde, versorgende omgewing te vervul. Die eenheid bied chroniese hemodialise, peritoneale dialise en ʼn mobiele akutesorgspan vir akute terapieë in hospitale.

“Kinders kan ʼn kliniese omgewing soms nogal intimiderend vind en daarom het ons ʼn eenheid geskep spesifiek ingerig volgens hoe pediatriese nierpasiënte die ruimte sal benut,” sê dr. Chevon Clark, uitvoerende hoof van die NRC.

“Ons het ook probeer om dit so verwelkomend as moontlik vir kinders en hul gesinne te maak, met vriendelike, pediatries opgeleide personeel.”

Kinders benodig dikwels twee tot drie dialisesessies per week, waarvan elk sessie tot vier uur kan duur.

“Dit is baie tyd in enige gesin se besige skedule. Ons probeer dus om hierdie eenheid ʼn soort tuiste weg van die huis af te maak,” sê Gottlich.

“Baie kinders slaap gewoonlik tydens dialisesessies, maar vir dié wat nie elke keer kan slaap nie, het ons allerlei aktiwiteite, speletjies en TV-programme gereed om hulle te help om die tyd te verwyl. Ons het ook verversings en werkstasies vir familielede.”

ʼn Multidissiplinêre span sien na pasiënte se mediese en chirurgiese behoeftes om en toegang tot ʼn  dieetkundige is ook geredelik beskikbaar.

ʼn Nuwe aanlyn platform in die eenheid stel ook spesialiste, verpleegpersoneel en ander gesondheidsorgpraktisyns in staat om maklik toegang tot elkeen van hul pasiënte se inligting te bekom en dit na te gaan. Die stelsel teken outomaties tersaaklike kliniese data, sowel as mediese notas en bykomende inligting aan, wat op afstand deur ʼn mobiele toestel beskikbaar is.

“Al die data word op die NRC se databasis gelaai, wat verseker dat die sorg wat verskaf word, ooreenstem met beste praktyk en gerig is daarop om die beste moontlike uitkomste vir al ons pasiënte te bied,” sê Gottlich.

Gottlich en sy span se nimmereindigende pogings om kinders te help, het beteken vier van die sentrum se KidneyKidz-pasiënte het binne ʼn maand nieroorplantings gekry – en dit lyk of al vier operasies suksesvol was en die kinders nie meer van dialise afhanklik sal wees nie.

“Baie mense dink dat niersiekte net vir ouer mense ʼn bekommernis is, maar kinders en volwassenes kan aan nierversaking ly, met dialise wat ʼn noodsaaklike deel van die lewe vir daardie gesinne word,” sê hy.

“Pediatriese dialise is ʼn seldsame mediese vereiste, met slegs vyf tot tien nuwe gevalle per miljoen kinders. Die niere is ʼn noodsaaklike deel van ʼn mens se stelsel wat bloed suiwer en die nodige balans in ons liggaam handhaaf. Wanneer die niere nie hierdie funksie kan vervul nie, benodig die persoon gereelde dialise om gifstowwe kunsmatig uit hul liggaam te verwyder.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.