Koppieteefontein: Annie, ’n nuwe hondjie vir ons

Jak de Priester en sy gesin se nuwe Annie. (Foto: Verskaf)

Met ons trek laasjaar Oktober Kaap toe, kon ek nie glo dat een mens (dis nou ek) verantwoordelik is om soveel goed van een plek na ʼn ander plek te vervoer nie. Jare lank se opgaar. En skielik, wanneer ʼn mens die bokse begin pak, raak alles ʼn sentimentele verhaal. Dis dalk die rede hoekom mense sukkel om van iets ontslae te raak. Dis die tyd wat dit in ons lewens verteenwoordig. Ek het bokse gekry met ou Londen tube maps van die jare toe ek in Londen gewoon het, hotel deurkaarte van Sun City, honderde backstage passes en souvenirs van regoor die wêreld. Ou leersakke, beursies – tot my eerste BOB-bankkaart.

Jy het die keuse om van alles ontslae te raak, maar voor jy kan sien is alles weer in bokse gepak, gereed om die volgende 20 jaar van jou lewe jou kaste vol te maak.

Die dag toe ons trek, was dit toe nou regtig die Groot Trek. Karre, scooters, bokse, plante, beelde, klere, skoene, beddens, banke, tafels, duisende goetertjies, twee honde, twee voëls, drie kinders, een vrou. Ek het vir ʼn oomblik gedink: Is dit moontlik dat ek al hierdie dinge gegenereer het?

En so het ʼn nuwe lewe met al ons ou goed in die Wes-Kaap begin.

Die twee honde is ouer as die kinders. Elvis was ʼn geskenk van my aan Michelle op Valentynsdag 2008, op die dag toe ek my Groen Mamba-cd vrygestel het. Elvis se naam was eers Mamba, maar na aanleiding van ʼn liedjie op my cd – Elvis is nie dood nie – het ons hom later “Elvis” herdoop.

Lilo was my skoonma se hondjie wat ons geërf het na haar afsterwe. Sy was dáárdie jare al ouerig. Dalk het sy net ouerig voorgekom omdat sy ouma Bettie se skoothondjie was. Die twee het net televisie gekyk en geslaap, heerlik geëet en in die son gesit. Beste vriende!

So moes arme Lilo by ʼn besige gesin aanpas met avontuurlustige klein kindertjies, twee lawaaimaker kokketiele en ʼn rebelse hond, wat natuurlik sy naam gestand doen: Elvis.

Jare later eindig ons in die Kaap. Nuwe huis. Nuwe omgewing. Dieselfde honde, voëls en kinders.

Elvis was 12 jaar oud, maar nog jonk en rebels genoeg om die nuwe lewe in die Kaap met al vier pote te omhels. Die hardlopery op die strand was vir hom ʼn nuwe hoogtepunt ná sy ingehokte stadslewe in Pretoria. Dalk was dit die lang afstand se ryery, maar Lilo het skielik net oud geraak. Wou nie meer gaan stap nie. Wou nie meer speel nie. Agterlyfie het begin sleep. En so het Lilo se dag ook aangebreek … Net soos souvenirs en ou treinkaartjies wat ʼn storie vertel van ʼn tyd in jou lewe, net só vertel die hond in jou lewe ook ʼn storie. Michelle het maar moeilik gegroet; dit was nog die laaste asem van herinnering aan ouma Bettie.

Die kinders wou dadelik ʼn nuwe hondjie hê. “Asseblief Pappa! Asseblief.” …maar ek het nie kans gesien vir nog ʼn groot verandering in ons dag-tot-dag-bestaan nie.

Die kinders het gesmeek, maar ek het gedink dat, as ek net een lewende wese minder hoef te voer per dag, dit al klaar sal help in hierdie moeilike tye waarin ons leef. Dalk eendag.

Die kinders was nie baie gelukkig met my nie. Ek is ʼn wrede pa, het hulle gesê.

Eendag vertel iemand vir Michelle van ʼn hondjie vir wie ʼn organisasie ʼn aanneemgesin soek. ʼn Morkie.

“Wat is ʼn Morkie?” vra ek.

“’n Kruis tussen ʼn Maltees en ʼn Yorkie,” antwoord Michelle.

“Klink nie reg nie,” sê ek.

“Ek gaan aansoek doen,” sê Michelle.

“Moet mens aansoek doen?” vra ek.

“Ja, hulle soek die perfekte huis vir die hondjie … hulle doen huisbesoek en alles.”

“Ons kinders is te stout. Gelukkig. Die mense sal in hulle spore omdraai,” sê ek.

Michelle vul ʼn vorm op die webtuiste in, sonder my goedkeuring of kennis.

ʼn Paar dae later lui Michelle se foon. Sy stap uit die vertrek, maar ek kan steeds hoor wat sy gesels. Sy praat Engels. Dan hoor ek hoe bevestig sy ʼn tyd vir huisbesoek.

“Is dit wat ek dink?” vra ek toe Michelle klaar gepraat het.

“Ons is een van ʼn moontlike tien huise wat vir die Morkie aansoek gedoen het,” sê sy opgewonde.

“Hulle kom Woensdagoggend tienuur na ons toe.”

“Ag nee,” sê ek.

“Dis nie te sê ons gaan gekies word nie,” troos Michelle my.

Daardie Woensdagoggend is dit asof die dominee kom huisbesoek doen. Almal maak net huis aan die kant. Michelle steek ʼn vanilla kers aan. Elvis se bed word silwerskoon gemaak. Hy het tot ʼn splinternuwe kosbak. Daar is vars blomme op die tafel.

Tien minute voor tien is ons huis silwerskoon. Mija en Michelle het rokke aan, die seuns se hare is netjies in kantpaadjies gekam en kouse opgetrek tot bo. Hulle sit tjoepstil op die bank.

“Hallo Tannie,” groet hulle die dame soos sy die huis binnestap.

Jak de Priester. (Foto: Verskaf)

Almal sit in ʼn ry op die bank, tande spierwit geborsel. Michelle praat net die regte woorde. Die kinders ook. Selfs Elvis werk saam. Ek bekyk my eie gesin. Dis soos ander mense. Almal is stroopsoet en ordentlik. Ek het nog nooit my eie kinders so beleef nie. Selfs ék sou ʼn weeshondjie aan hulle toevertrou.

Die vrou vra om ʼn bietjie rond te kyk.

“Natuurlik,” sê Michelle.

Sy moet net nie ʼn kas oopmaak nie, want dan val daar dalk opgestapelde goed of vuil tekkies uit.

Sy bestudeer alles om die huis. Die hoogte van die heining. Alles.

Amper ʼn uur later groet sy ons. Ek kan sien my kinders kan nie ʼn minuut langer so voorgee nie. Die ware streke wil-wil na vore kom. Ek lag in my mou.

Die dame klim in haar motor. “Ons besoek nog ʼn gesin in Stellenbosch en een in Villiersdorp. Daarna sal ons ʼn besluit neem en jul laat weet,” groet sy.

Toe sy weg is, verval almal dadelik weer in hul slegte gewoontes en dis nie tien minute nie, toe is alles weer deurmekaar en die kinders het ander klere aan.

“Hulle gaan die hond vir julle gee,” sê ek.

“Nee wat…” sê Michelle. “Die dame het genoem dat die Stellenbosch-gesin reeds ʼn ander Morkie het,” troos sy haarself.

“Wel, my gesin het hul beste voetjie voorgesit, te pragtig met die kantpaadjie-hare en al, en die glimlaggies. Hallo Tannie, ja Tannie, nee Tannie.” Te oulik. As sy maar weet!

Die dag lui die foon. Michelle antwoord: “Really? That is excellent news. The kids will be so happy to hear that.

“Hulle het ons gekies!” sê Michelle toe sy die foon neersit.

“Ek het jou gesê,” antwoord ek sonder enige opgewondenheid in my stem.

Die kinders was in ekstase.

Daarna het die proses begin.

Hulle het die volgende dag vir Annie na ons huis toe gebring. Sy was verward. Het van een kant in die erf na ʼn ander kant gehardloop. Sy’t ʼn paar tande vir Elvis gewys en wou op niemand se skoot sit nie. As ons die hek sou oopmaak, sou sy weggehardloop het en ons sou haar nooit weer sien nie.

“Ons gee julle ʼn week. Indien sy nie aanpas nie, sal ons haar weer kom oplaai en ʼn ander huis probeer,” groet die vrou en klim in die motor.

Annie wou niks weet nie. Sy het gegrom vir al wat verbyloop. Sy was koud en vreesbevange. Sy was wild.

“Wat nou gemaak?” vra ek.

“Gee net kans,” sê Michelle.

Dae het verbygegaan. Weke … ʼn Maand. Annie het saam op die strand gaan stap. Sy en Jamie het ver in die see gaan hardloop. Stadig maar seker het Annie rustiger geword, haar wilde oë sagter. Sy het soos ʼn jong meisie haar boude voor Elvis begin swaai. Elvis het skielik ook ʼn bietjie lewe begin kry so op sy oudag.

En soos wat die somer in herfs verander het en die herfs in winter, het Annie ook verander. Miskien ek ook.

Ses maande later wil ons nêrens meer heen gaan sonder Annie nie. Sy is die kinders se grootste maatjie. Sy hardloop op die strand, sy klim saans onder die komberse in as ons gaan slaap. Wanneer ek tuis kom van êrens af, is sy so ongelooflik bly om my te sien. En ek vir haar. Sy wikkel haar lyf van vreugde en opgewondenheid en liefde.

En net so het ons ʼn nuwe lid in ons crazy gesin gekry, wat weer ʼn nuwe era verteenwoordig – ons volgende fase in die Wes-Kaap.

Die weeshondjie het nuwe kleur in ons lewens gebring. Ek dink Annie se vorige lewe was nie so rooskleurig nie; vir lank was sy skugter vir ʼn manlike figuur. Sy was bang vir my. Maar hier waar ek sit en skryf lê sy met haar mooi gesiggie op my skoot, haar snoet in my warm trui ingedruk – true love ek en Annie. Annie het dit nodig gehad … en ek … wel, ek het vir Annie nodig gehad.

In hierdie vreemde tye waarin ons leef met pandemies en verwoesting en finansiële onsekerhede, is daar altyd nog ʼn hondjie wat se liefde onvoorwaardelik is. ʼn Troeteldier wat nie bewus is van alles wat in die wêreld aangaan nie, maar wat sy of haar stertjie swaai wanneer ons by die huis aankom; in moeilike én in goeie tye.

Daarom drink ek vandag ʼn koppie tee op daardie vroue wat elke dag sorg dat ʼn weeshondjie die regte huis kry. ’n Koppie tee op hulle wat na die welsyn van diere in die wêreld kyk. En op jóú wat ʼn goeie huis vir ʼn kwesbare troeteldier bied.

Tot volgende keer!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Harley Davidson ·

Ek kan verkeerd wees maar die hondjie in die foto is a beaver yorkie Google dit.

Toy ·

Ek het dit nou so geniet om te lees, lekker gelag want dit klink so bekend, Jak jy kan iet so goed vertel. Geniet julle nuwe dierekind.

Pine ·

Baie mooi Jak. N ou man met trane in sy oe. Regte Annie met regte gesin. Wonderlik.

Tricea ·

Dankie dat julle Annie so mooi liefhet. Pragtig geskryf, ek het die storie geniet!

Erika ·

Nou ja, so sit ek en lees die stukkie, met yoghurt voor my, en smile van oor tot oor, ek self is trotse mamma van 3 pragtige klein yorkies, waarvan ek een ook aangeneem het, en hy het so gou aangepas in ons (my en die ander twee) se roetine, nou is ons 4 onafskeidbaar. Die 3 is beste maatjies ooit, tot ek die “bederfies” vir hulle wys, dan word tande gewys, en gegrom, en gebrom.

Geniet die woefie, elke yorkie, is so uniek, elkeen het sy of haar eie persoonlikheid, so eie, aan elkeeen, en glo my, ek verruil hulle vir niks of niemand nie!! My lewe draai om my liefie lyfies!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.