Kruietuin by Voortrekkermonument uitgebrei

Allan Tait (links) en Markus van Staden (regs) besig met aanplantings in die kruietuin van die Voortrekkermonument. (Foto verskaf)

Kliproos, wilderoosmaryn en wildeals is van die medisinale plante wat nou by die kruietuin in die blombeddings by die walaer van die Voortrekkermonument aangeplant is.

Allan Tait, tuinboukundige by die monument, het ná ʼn maand lange deeglike navorsing en beplanning Donderdag nog medisinale plante en kruie by die bestaande tuin gevoeg om dit ʼn nuwe baadjie te gee. Hy is bygestaan deur Markus van Staden wat tans met ʼn internskap by die Voortrekkermonument besig is.

“Hierdie tuin verteenwoordig die medisinale plante wat die Voortrekkers langs die pad teëgekom en gebruik het. Ons wil vir toeriste die ervaring bied om aan hierdie plante te vat en ruik, en hulle in te dink hoe dit in daardie tyd gebruik is,” het Allan gesê.

Maroela Media het in 2021 berig oor die kruietuin se amptelike opening. Suurvytjies, wildedagga, kankerbos en wildeknoffel het toe vir die eerste keer op Lentedag in die walaer se blombeddings gepronk. Hierdie soort geneeskragtige plante wat vir heling gebruik kan word, was nog altyd ʼn deel van die Afrikanerkultuur en nou kan hulle opnuut weer wortelskiet om die tradisie te laat voortleef.

Prof. Kobus Eloff, ʼn plantbiochemikus, het die monument destyds bygestaan om te verseker dat die plante wat aangeplant word, goed daar sal aard en medisinale waarde het.

Tait en Van Staden plant die eerste kliproosplant. (Foto verskaf)

Volgens Tait is die jongste plante gekies omdat dit goed in Pretoria se klimaat aard. Die Voortrekkermonument het die volgende plante en kruie geplant:

  • Pelargonium sidoides, ook bekend as kliproos, wat vir verkoues, brongitis en respiratoriese infeksies gebruik is.
  • Eriocephalus africanus, ook bekend as wilderoosmaryn, wat algemeen gebruik is om die spysvertering- en die respiratoriese stelsel te ondersteun.
  • Lessertia frutescens, ook bekend as Karoo-kankerbos, is gebruik om griep, asma, tering, lewerprobleme, aambeie en inflammasie te behandel.
  • Artemisia afra, ook bekend as wildeals, is gebruik vir hoes, verkoues en malaria.
  • Lippia javanica, ook genoem fever tea, is gebruik vir koors, wonde, diarree, borspyne en brongitis.
  • Agathosma ovata, kluitjieskraal in volksmond, ook bekend as boegoe, is gebruik vir die behandeling van nierversaking, borspyne en hoes.

“Hierdie tuin is ʼn vertoonvenster van medisinale plante voor die monument. Mense kan daaraan ruik en daarna kyk, maar nie pluk nie. Ons beplan om by die Pionierswerf later ʼn medisinale tuin op te rig, waar ons mense prakties kan wys hoe hierdie plante gereedgemaak en gebruik is,” vertel Tait.

Die Voortrekkermonument wil elkeen wat die perseel besoek, graag uitnooi om ook Suid-Afrika se inheemse plantspesies en kruie te bewonder. Elke plant op die Voortrekkermonumentterrein is inheems en hou verband met plante wat op die Groot Trek teëgekom is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.