Laaste kans om gasvrou by dié spogtee te wees

Die aktrise en sangeres Bibi du Preez. (Foto: Facebook/Bibi du Preez)

Gasvroue (óf gashere) wat graag nog ʼn tafel vir die Kankervereniging van Suid-Afrika (KANSA) se jaarlikse spogtee wil bespreek, moet gou spring.

Daar is slegs enkele tafels beskikbaar vir dié geleentheid wat op 25 Oktober by die Heartfelt-arena in Pretoria plaasvind.

Dié spogtee, met die tema Denim en Diamante, poog om bewusmaking te kweek en geld in te samel vir kankerslagoffers en hul geliefdes wat deur die siekte geraak word.

Dit het deur die jare ook bekendgeword vir die gashere en -vroue se kreatiwiteit en toewyding, wat jaarliks net groter en beter word.

Gasvroue van die KANSA-spogtee het jaarliks die kans om hulle eie stempel op die geleentheid af te druk deur hul tafels te versier en dek. ʼn Tafel bestaan ​​uit tien sitplekke wat neerkom op ʼn totale skenking van R2 500 of R250 vir ʼn sitplek aan ʼn tafel.

Onafhanklike beoordelaars evalueer elke tafel op grond van ʼn stel kriteria en beoordeling vind die vorige aand op 24 Oktober plaas. ʼn Verskeidenheid van pryse vir die kreatiefste tafels kan in verskillende kategorieë gewen word.

Gaste kan ook uitsien na hartroerende verhale en heerlike vermaak.

Bibi du Preez, aktrise, komediant en sangeres, en die sanger Fanus Pienaar sal vanjaar vir vermaak sorg, terwyl Naniki Seboni, ʼn kankeroorwinnaar, en Elijah Basebelele se inspirerende verhale ook deur die loop van die program gedeel word.

“KANSA is uit-en-uit daar om ʼn verskil in die gemeenskap te maak deur navorsing, opvoeding en ondersteuning. Sonder geleenthede soos hierdie sal dit nie vir ons moontlik wees om hierdie belangrike werk te doen nie,” het Anita Snyders, KANSA se nasionale volhoubaarheidsbestuurder, vroeër aan Maroela Media oor die spogtee gesê.

  • Tree met Anita Snyders van KANSA in verbinding by 012 329 3036 of 083 633 5798 om meer inligting te verkry of om vir vanjaar se tee te registreer. Jy kan ook ʼn e-pos stuur na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.