Leerders leer nog volstoom danksy krisisfonds

‘n Paar van die leerders wat klasse ontvang het by die Skoleondersteuningsentrum se Wolkskool. (Foto: Verskaf.)

Goeiemôre, ek is ʼn matriekleerling en wil net dankie sê vir Wolkskool se hulp en ondersteuning tydens hierdie tydperk van inperking. Dankie aan elke onderwyser wat moeite doen met elke les. Julle het nie ʼn idee hoe baie dit help nie! Groete, Glendi Vorster.

Só lui een van die talle boodskappe wat die Wolkskool onlangs ontvang het van leerders wat tans by dié onderrigplatform baat. Danksy ʼn skenking van die Solidariteit-krisisfonds kan die Wolkskool vir die res van die jaar hul lesse gratis vir die meer as 116 000 leerders en 1 800 onderwysers wat daarvoor geregistreer is, aanbied.

Die Wolkskool is ʼn inisiatief van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en bied ʼn platform met lesse in videoformaat, aflaaibare werkboeke en aanlyn assessering wat leerders in hul eie tyd, vanaf enige plek en teen hul eie pas kan deurwerk. Die gestruktureerde kurrikulum wat gevolg word, dek die KABV-sillabus volledig.  Ouers word ook oor die leerder se vordering ingelig en ontvang assesseringsresultate per e-pos.

Sedert die begin van die inperking het die Wolkskool daarop gefokus om Afrikaanse kinders met hul skoolwerk te help, verduidelik Valentyn van der Merwe, hoof van innovasie by die SOS.

“Ons het van die begin van die inperking af elke dag regstreekse lesse aangebied vir matrikulante in die agt grootste vakke, naamlik Afrikaans, Engels, Wiskunde, Wiskundige Geletterdheid, Fisiese Wetenskap, Lewenswetenskap, Besigheidstudies en Rekeningkunde.”

Die regstreekse uitsendings is vir 40 skooldae lank daagliks uitgesaai, tot 29 Mei, en sal weer voor die graad 12-eindeksamen hervat word.

“Ons dogter is besig om die matriekklasse op Wolkskool by te woon. Ek wil graag ons grootste waardering uitspreek vir die puik diens wat julle aan ons kinders lewer! Julle onderwysers is uit die boonste rakke! Monika sal vanjaar goed afsluit met die eindeksamen en dit is grotendeels te danke aan Wolkskool se lesse. Weereens baie dankie aan julle almal,” skryf Annemarie Theiss aan die Wolkskool se personeel.

Voor die inperking het Wolkskool uit vier dosente, een navorser en twee assesseerders bestaan, maar het weens die groot aanvraag nog ʼn dosent en 35 konsultante wat inhoud genereer, bygekry.

“Sonder die skenking uit die Solidariteit-krisisfonds sou dit beslis nie moontlik gewees het nie. Ons begroting het drasties verhoog. Dink maar aan uitgawes soos bandwydte, bedienerkoste, vervaardiging van inhoud, redigering van inhoud, en toerusting wat benodig word. Ons is bly Solidariteit kon dit moontlik maak,” sê Van der Merwe.

Die onderrigplatform fokus tans op die vakke waar die grootste behoefte is en bied inhoud van grondslagfase tot matriek. Die vakke wat nog nie aangebied word nie, word tans ontwikkel en behoort binne die volgende jaar gereed te wees. Van der Merwe voeg by dat, met die bestaande inhoud van meer as 4 000 videolesse, die Wolkskool ʼn uitstekende basis bied om vlakke van leer by leerders na nuwe hoogtes te neem.

Judie Lyon skryf: “Duisende dankies aan Wolkskool en al sy onderwysers. Julle is die heel beste. Dankie dat julle vir ons matrieks help in die tyd van nood.”

Die Wolkskool is nou GRATIS tot die einde van die jaar

Weens die druk op huishoudings en skole wat aangevuur is deur die Covid-19-pandemie, het die Solidariteit Beweging besluit om Die Wolkskool tot aan die einde van die jaar GRATIS beskikbaar te stel vir alle leerders en skole.

Posted by Skoleondersteuningsentrum SOS on Tuesday, June 23, 2020

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.