‘Local is lekker’ by nuwe Pta-sentrum

Die Village Walk in Hazelwood in die ooste van Pretoria is nou oop vir die publiek. (Foto: Verskaf)

Atterbury Property, ʼn vooraanstaande Suid-Afrikaanse eiendomsbelegger en ontwikkelaar, het die afgelope naweek die lint geknip by hul jongste projek, genaamd die Village Walk, in Hazelwood in die ooste van Pretoria.

Dié nuwe ontwikkeling en voetgangerspad verbind The Village – ’n eklektiese kos-, drank- en ontspanningsentrum in 16de Straat met The Club-gebied, wat tussen Hazelwood- en Delystraat strek.

Bouwerk aan die Village Walk het in Februarie vanjaar begin.

Benewens maklike toegang en veilige parkering – wat beide groot uitdagings vir besoekers én inwoners van dié besige, kreatiewe distrik veroorsaak het – spog die projek met Europees-geïnspireerde voetgangerstrate propvol nuwe plaaslike winkels en eetplekke.

“Die idee van voetgangerstrate met klein winkels aan weerskante is ʼn antieke beginsel – ideaal vir Pretoria se besonderse klimaat – en staan in sterk kontras met die groter winkelsentrums wat fokus op gereguleerde interne omgewings,” verduidelik Bertus van Sittert, ʼn argitek verbonde aan NEO Architects wat vir die ontwerp van die Village Walk verantwoordelik is.

Daarom is daar juis volgens Van Sittert ook moeite gedoen om te verseker dat die nuwe boetiek restaurante en winkeltjies goed inskakel by die residensiële omgewing, en terselfdertyd vir elke handelsmerk sy eie unieke identiteit skenk.

“Die Village Walk vier die unieke rou straatkultuur van Pretoria, in ʼn nuwe ontwikkeling wat mag voorkom of hy al vir ewig deel is van die stedelike karakter van ons stad.”

Besoekers kan nou by die splinternuwe winkels van bekende plaaslike handelsmerke soos die Me&B-klerereeks, die Burnt Studios-oefenklerereeks en To Be Gift Boxes – die aktrise en sakevrou Leandie du Randt en haar skoonsus, Michelle du Randt, se onderneming – in dié omgewing kan koop.

To Be Gift Boxes is ʼn unieke aanlyn onderneming wat klante toelaat om met ʼn paar klikke pasgemaakte geskenkbokse vol plaaslike bederfies saam te stel en vir hul geliefdes te pos.

Nóú kan hulle dit egter ook self in persoon kom doen.

“Ná die pandemie het ons gesien dat daar tog weer ʼn behoefte by kliënte is om fisies na ʼn winkel toe te gaan en aan goedjies te vat. Ons winkel gee nou vir hulle die volle ervaring en die geleentheid om enkele items te koop, of self ʼn geskenkboks aanmekaar te sit,” verduidelik Leandie.

Die Hartklop-aktrise is ook geweldig trots op die opkoms en positiewe groei van plaaslike handelsmerke en ondernemings in Suid-Afrika.

“Ons is oorweldig deur die ondersteuning wat ons tydens die bekendstelling gekry het, nie net van ons eie vriende en familie nie, maar ook ons mede-entrepreneurs. Natuurlik kan ʼn mens nie so iets aanpak sonder ongelooflike personeel nie. Ons sê nou ‘it takes a village to be’ – want ons is To Be en ons winkel is in die Village,” skerts sy.

“Ek probeer altyd plaaslike besighede ondersteun, so ver ek kan, en ek dink dit wat Atterbury met al hulle ontwikkelings in dié omgewings reggekry het, tot dusver, is merkwaardig. Daar is nou so baie plaaslike handelsmerke by die Village Walk, en dit is ʼn riem onder die hart dat die publiek ook al hoe meer ywerig is om hulle te ondersteun.”

Die Suid-Afrikaanse beeldhouer Angus Taylor se beelde van twee renosterkalfies. (Foto: Verskaf)

Nóg ʼn unieke plaaslike sleutelpunt van die Village Walk-projek is die Suid-Afrikaanse beeldhouer Angus Taylor se beelde van twee renosterkalfies wat in dié ‘dorpie’ se binnehof pronk.

Die Latynse spreekword, Dum spiro spero (“terwyl ek asemhaal, hoop ek”), is saam met die kalfies en ʼn klein fontein geïnstalleer.

“Wat ons stad, land en natuur aanbetref, is dit ʼn mooi samevatting van hoe ons leef. Ons bou, ons probeer dinge beter maak en hoop ons gaan êrens heen daarmee,” het Taylor tydens die opening gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Truman Burbank ·

Geen winkel sentrum is meer aangenaam. Almal bestaan uit klere winkels, onbekostigbare boetieks, koffie winkels wat lekker koffie met eksoties en duur vervang het. En Almal is onbekostigbaar vir die gemiddelde “besoeker”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.