Luister: 500kPerDay-inisiatief voed kinders met ‘breinkos’

Foto ter illustrasie. (Foto: Pixabay)

Nie net beoog die 500kPerDay-inisiatief om soveel moontlik honger magies te voed nie, hulle wil graag die kinders voed met die nodige breinkos om die beste van elke geleentheid te kan maak.

“As dit kom by gratis kos gee vir kinders, is dit vir ons verskriklik belangrik dat ons die regte kos gee.”

Só sê Dawie de Villiers, die stigter en direkteur van Finovate Amplified en skepper van die 500kPerDay-inisiatief.

De Villiers, wat jare lank deel van die gewilde musiekgroep Navi Redd was, staan nou aan die stuur van ’n bemarkingsorganisasie (Finovate Amplified) in die Paarl. In September verlede jaar het sy paaie met Outside the Bowl Africa in Wellington gekruis en só is die 500kPerDay-inisiatief op die been gebring.

Outside the Bowl Africa se droom om 500 000 kinders per dag teen 2025 te voed, en die gehalte kos wat hulle aan die kinders uitdeel, is wat De Villiers aanvanklik opgewonde gemaak het om deel van die projek te word.

Hy het ook nie op hom laat wag om die projek ʼn bietjie aan te vuur nie.

“Ons doel is om teen die einde van hierdie jaar 500 000 kinders per dag kos te kan gee.”

Dié inisiatief het reeds sukses behaal met die voed van kinders landswyd.

“Die kosverskaffers wat ons gebruik, soos Outside the Bowl Africa, voed reeds 130 000 kinders ’n dag.”

Bekendes soos Early B, DJ Ready D, Jak de Priester, Joshua na die Reën, Chané Grobler, Calvin Reef, Mel du Bois, Mel Rock Lizzo, Irvin van der Merwe, Dean Smith, Magriet Groenewald en die TikTok-ster Iam Roberto, het intussen ook onderneem om dié projek te ondersteun.

Een van die redes vir die projek se sukses is die gewilligheid van groot, korporatiewe sakeondernemings wat intussen ook deel daarvan geword het.

’n Voorbeeld van só ’n onderneming is Earthly Tandepasta, ʼn omgewingsvriendelike vervaardiger, wat tandepasta in tabletvorm maak. In Mei vanjaar het hulle aangekondig dat hulle R2 van elke Earthly-produk wat verkoop word aan die 500kPerDay-inisiatief sal skenk.

Earthly Tandepasta het die noodsaaklikheid van mondhigiëne onder behoeftige kinders geïdentifiseer en die besluit geneem om ’n daadwerklike verskil in dié kinders se lewens te maak.

“Jy het geen water nodig om jou tande mee te borsel nie. Die eienaar het gesê dat hy nie net wil kos skenk vir elke tablet wat verkoop word nie, maar ook van hierdie tablette met elke ete.”

Hy benadruk dat kinders wat sterf van honger nie noodwendig op daardie tragiese manier doodgaan omdat daar bloot net nie kos beskikbaar is nie. Baie van dié kinders het nog nooit in hul lewens tande geborsel nie en sukkel met tandverrotting.

Hulle kán dus dikwels net nie meer eet nie.

“Ons wil graag hê dat elke kind met ’n vol magie en ’n skoon mond kan gaan slaap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

miche ·

Dis ‘n Wonderlike inisiatief waarvoor ek ongelooflik baie respek en bewondering het.
Nou moet mense net ook geleer word om nie ‘n klomp kinders te maak wat hul nie Kan versorg en voer nie. (Ek besef egter dat enige een van ons se lewensomstandighede enige tyd drasties Kan verander).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.