Mense hardloop vir borskankerbewustheid

Flukse drawwers het vroeër vandeesmaand byeengekom om bewustheid oor borskanker en borsprosteses te skep. (Foto: verskaf)

Sowat 200 flukse drawwers – oud, jonk, man en vrou – het vroeër vandeesmaand byeengekom om bewustheid oor borskanker en borsprosteses te skep.

Die Girls Rule Run-wedloop het op 12 Augustus by Loftus Park, Pretoria, afgeskop. Hierdie wedloop, wat uit ʼn 5 km- en ʼn 10 km-opsie bestaan het, is die eerste projek wat deur die Vroue in Beweging-projek gefasiliteer is.

Dié vrouebeweging is vroeër vandeesmaand deur Solidariteit Helpende Hand se FroueVonds van stapel gestuur, en dien as ʼn bemagtigingsplatform vir vroue.

“FroueVonds word met opset verkeerd gespel, juis omdat ons leuse behels dat alles nie altyd reg loop nie,” het René Roux, woordvoerder van Helpende Hand en voorsitter van Vroue in Beweging, gesê.

“Vroue in Beweging gaan met behulp van sewentien instellings binne die Solidariteit Beweging poog om vroue te bemagtig. Die doel is om na elke vrou se welstand, opleiding en werk om te sien sodat sy voluit vrou kan wees.”

In samewerking met Sox Footwear en USN, kon dié beweging wedloop-deelnemers met kouse en ʼn verfrissende USN-drankie bederf. Die wedloop het ten bate van FroueVonds se Boesemvriendinne-projek plaasgevind.

“Die Boesemvriendinne-projek verskaf gemaklike, gebreide borsprosteses aan vroue wat hul borste weens borskanker verloor het en nie duur borsrekonstruksie of silikonprosteses kan bekostig nie,” het Roux verduidelik.

Helpende Hand het R60 van elke wedloopinskrywing ontvang, waarmee daar breipakkies gekoop is om na ondersteuners landwyd te stuur. Die inhoud van elke breipakkie is genoeg om twee wolprosteses mee te brei en te stop.

“Ons stuur hierdie breipakkies na plekke soos ons ouetehuise waar ons kranige ouer ondersteuners weer hulle handewerk aanbied om die prosteses te brei, vanwaar ons dan in borskankermaand die prosteses aan Kansa gaan oorhandig. So dit is alles vir die gemeenskap van die gemeenskap,” sê Roux.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.