Niks stuit vir Minke wat swemrekords inryg

Die 18-jarige Minke Janse van Rensburg is Suid-Afrika se downsindroom swemsensasie van George in die Wes-Kaap. (Foto verskaf)

Deur Maretha Botes

Daar is ʼn Engelse gesegde wat lui: “limitation lives only in our minds”. Die 18-jarige Minke Janse van Rensburg, Suid-Afrika se downsindroom swemsensasie van George in die Wes-Kaap, is ʼn lewende bewys dat dié sê-ding in die kol is. Behalwe dat Minke, ʼn swemmer met downsindroom, die afgelope paar jaar goue medaljes én rekords inryg soos vleis op ʼn sosatiestokkie, is sy vroeër vanjaar as Suid-Afrika se gestremde sportvrou van die jaar aangewys.

Minke is die enigste vroueswemmer sedert die ontstaan van die Downsindroom Internasionale Swemorganisasie (DSISO) 20 jaar gelede, wat as juniorswemmer (16 jaar en jonger) reeds talle wêreldrekords kon inpalm. Sy hou tans die 25 m- en 50 m-vryslag downsindroom wêreldrekords in die kortbad (25 m) en hoop om die 100 m-wêreldrekord (kortbad) te breek. In die langbad (50 m) hou sy die 50 m- en 100 m-downsindroom-wêreldrekords.

Minke was maar 13 toe sy aan haar heel eerste Wêreldkampioenskap in Kanada deelgeneem het. Haar droom is om Suid-Afrika tydens die 2028 Paralimpiese Spele in Los Angeles te verteenwoordig. Intussen oefen sy haar hart uit vir volgende jaar se tweede Trisome Spele wat in Maart in Antalya, Turkye plaasvind.

Minke in aksie. (Foto verskaf)

Haar ouers, Hennie (55) en Aletta (55), sê dit is vir hulle ʼn voorreg en vreugde om Minke te kan ondersteun en haar te help om haar swemdroom uit te leef. Sy het ook ʼn 27-jarige broer, Henko, wat een van haar grootste ondersteuners is.

“Sy is absoluut doelgerig en leef vir haar swem,” vertel Hennie. “Sy oefen meer as wat daar van haar verwag word en vra dikwels om ook op naweke swembad toe te gaan om te oefen. Ons Minke is ʼn sportvrou deur en deur.”

Hennie vertel sy dogter is ʼn reuse-aanhanger van Tatjana Schoenmaker en Lara van Niekerk en het hulle ook al ontmoet by byeenkomste. “Dit is vir haar die lekkerste ding om te staan en kyk hoe dié professionele swemmers opwarm en deelneem. Sy neem fyn waar wat hulle doen, en pas dit dan toe in haar eie oefentyd.

“Smiddae na skool wil sy reguit swembad toe, al is dit nog nie haar oefentyd nie,” sê Hennie. Dit is wanneer sy kyk hoe die jonger swemmers oefen. “Sy hou hulle fyn dop en tel foute op wat sy dan met haar afrigter bespreek. Die wonderlike hiervan is dat sy dan haarself korrigeer en haar eie foute ook regmaak.”

Minke oefen deesdae saam met die Fish Eagle Aquatics-klub in George, by afrigter Franna Vorster. Haar swemtalent is sewe jaar gelede vir die eerste keer raakgesien deur Sybeth Hughes, wat haar terapeut was by die Carpe Diem skool vir verstandelik en fisiek gestremde mense.

Sybeth het drie spesiale eienskappe by Minke raakgesien: Minke is uiters kompeterend van aard, dis vir haar vreeslik lekker wanneer daar hard gewerk word en die ander rondom haar begin uitsak, sy gee geweldig aandag aan detail en sy is ʼn absolute aanhouer.

“Jy verduidelik ʼn ding een keer vir haar en dan snap sy,” sê Hennie. “As sy onseker is sal sy vra, maar sy leer vreeslik vinnig die fyner tegniek aan. En dit is waarmee Sybeth begin werk en baie sukses reeds tóé daarmee bereik het. Minke was van kleins af versot op water, maar toe sy die eerste keer presteer en erkenning kry daarvoor ontwikkel sy in ʼn absolute swemmasjien. Sy wil net daardie erkenning kry. En daar het ons geleer elke kind het ʼn behoefte aan erkenning. As jy wil hê jou kind moet presteer moet jy net daar wees. Jy moet net daardie thumbs up wys.”

Hennie sê hulle grootste uitdaging tot dusver was die feit dat die Suid-Afrikaanse Sportvereniging vir Intellektueel Gestremdes (SASA-II) met ʼn klomp skuld sit en dit internasionale deelname belemmer.

Daarom kan SASA-II nie met internasionale liggame affilieer nie. Dit was ook die rede dat Minke se wêreldrekords so byna nié geregistreer kon word nie. Om hierdie hekkie te oorkom het Hennie en ʼn paar ouers van ander Downsindroom-sportlui besluit om Downsindroom Sport Suid-Afrika, ʼn organisasie sonder winsbejag, te stig en dit met die Downsindroom Internasionale Swem Organisasie (DSISO) te affilieer.

Op dié manier kan gestremde swemmers se wêreldrekords nou betyds geregistreer word. Deur die organisasie wil hy ook ʼn wyer bewusmaking van Downsindroom skep, asook geld insamel vir internasionale deelname, nie net vir Minke nie, maar ook ander swemmers en selfs swemspanne wat internasionaal sou kon deelneem.

“Ons is opgewonde oor wat die toekoms vir Minke inhou. Sy sal nie vir altyd kan swem nie, maar ons ondersteun haar hierin vir solank sy kan en wil,” sê hy.

  • Indien jy meer inligting wil hê oor Downsindroom Sport Suid-Afrika, kan jy vir Hennie ʼn e-pos by [email protected] stuur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.