Nuwe tuiste vir Centurion-mark

Meer as 3 000 mense het die tweede Centurion-gemeenskapsmark by Doxa Deo-gemeente in Raslouw besoek. (Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media)

Die Centurion-gemeenskapsmark, wat binnekort vir die derde keer aangebied word, word nou ʼn familiemark en kry ʼn splinternuwe tuiste by die Voortrekkermonument.

“Driné de Bruyn se oorspronklike droom met die gemeenskapsmark is steeds dieselfde: om vir die entrepreneurs van Centurion ʼn plek te gee waar hulle hul handgemaakte produkte kan uitstal en verkoop om so ʼn inkomste te verdien.

“Die plan is egter om hierdie mark weekliks van 2 Oktober op die terrein van die monument aan te bied, sodat ons entrepreneurs op ʼn gereelde basis hulle produkte aan die publiek kan bied,” sê Leandie Bräsler, bestuurder van AfriForum-jeugleierskapontwikkeling en ambassadeur vir dié mark. Bräsler is ook ʼn sangeres en sal tydens die mark sing.

De Bruyn het op 26 Maart vir die eerste keer haar tuin oopgegooi vir ʼn gemeenskapsmark en meer as 1 200 mense het die 60 stalletjie daardie aand kom besoek.

“Ek het vroeër vanjaar besef ons gemeenskap kry swaar onder die inperkingsmaatreëls. Veral entrepreneurs kon nie meer by die publiek uitkom soos in die verlede nie,” het De Bruyn aan Maroela Media gesê.

De Bruyn, ʼn haarkapper van beroep en stigter van die niewinsgewende organisasie Time 2 Thrive, het ernstig oor die saak gebid. Sy sê God het vir haar die idee van die mark gestuur. Boonop moes dit op 26 Maart aangebied word, presies ʼn jaar nadat die inperkingstyd afgekondig is.

Die eerste Centurion-gemeenskapsmark, wat in Maart vanjaar gehou is, word nou met ‘n derde mark opgevolg. Die mark se doel is om plaaslike entrepreneurs ‘n hupstoot te gee. (Foto: Verskaf)

Sedertdien is die mark met groot sukses ʼn tweede keer in Junie by die Doxa Deo-gemeente in Raslouw aangebied. Bräsler sê die tweede mark is deur meer as 3 000 mense bygewoon. Die derde mark is daarna weer uitgestel nadat strenger inperkingsmaatreëls vir die derde vlaag van die Covid-19-pandemie aangekondig is.

“Ons hoop om in Oktober nog meer mense voor 14:00 by die mark te ontvang. AfriForum Sport gaan ook ʼn heerlike pretwedloop die oggend aanbied en Dapper Media sal sangers reël wat gedurende die dag sal sorg vir heerlike vermaak.

“Kraal Uitgewers se kinderboekafdeling gaan die jongspan met ʼn hele paar boekvoorlesings besig hou.”

Maak dus jou dagboek skoon en kom kuier by die Centurion-familiemark op Saterdag 2 Oktober. Die mark bied honderde stalletjies, wat spog met alles van houtspeelgoed, kledingstukke, badbomme, tuinplante en talle ander tuisgemaakte produkte. Daar is ook heerlike tuisgebak en stalletjies met eet- en drinkgoed.

  • Ruan Josh tree om 09:00 en Adam Tas om 12:00 by die mark op.
  • Vir meer inligting of om stalletjies te bespreek bel Driné de Bruyn by 083 279 9942 of Retha Slabber by 082 872 9774.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.