Koppieteefontein: Old Spice om ’n vreemde wêreld beter te maak

Jak de Priester (Foto: Maroela Media)

Ek staan in ’n Clicks-winkel en bekyk die verskillende kannetjies deodorant vir mans. Ek is alleen in Clicks. Dis vroeg in die oggend en daar is nog geen ander kliënte nie. Net ek, soekend na iets wat lekker ruik.

Gemasker staan ek en kyk na die verskeidenheid wat uitgestal staan op die rakke. Dis dag 100 en iets van lockdown en op hierdie spesifieke oomblik, in Clicks, voel ek skielik ’n groeiende verlange. Ek verlang na my broer. Sy naam was Francois.

Die lockdown is soos die golwe van ’n rowwe see. Dit sluk maklik jou emosies in… en as ’n stroom jou eers vat, is dit moeilik om net uit te swem. Jy voel soms sand onder jou toonpunte, dan slinger jy weer regs en links en dan skielik, net voordat jy dink jy gaan verdrink, is jy weer vlak genoeg om uit te loop. Moeg en dankbaar dat die stroom jou nie tot in die diep, genadelose see gesleep het nie. Jy kyk na Bo en sê dankie jy’s nog hier.

Vandag kan ek die stroom voel. Maar ek is nog veilig. Dis nog relatief laagwater, maar my gedagtes peuter met herinneringe aan my enigste bloedbroer.

Desember 1995 is hy oorlede aan melanoomkanker. Ek onthou dit soos gister. Ek was ’n eerstejaarstudent op Tukkies en hy ’n derdejaarstudent op Potchefstroom. Hy was 21 ek was 19.

Ek het lanklaas so ’n duidelike beeld gehad van hom. ’n Mens leer om saam te leef met die afsterwe van ’n geliefde. Tyd is ál geneesmiddel. Ek kan skielik sy stem hoor as ek mooi terugdink. Hoe dit geklink het wanneer hy met my gesels. Die kannetjies deodorant staan doodstil voor my. My oë soek vir ’n special vir lekkerruikgoed, maar my gedagtes is in die vlakwater van die rowwe see.

Ek wonder of hy uit die hemel sien hoe vreemd die wêreld is, dink ek by myself.

Ek kyk na die deodorant. Die laaste lekkerruikgoed wat hy gedra het, was Old Spice. Old Spice was populêr in daardie dae. Wanneer ek Old Spice ruik, dan dink ek aan hom. Ek het ná sy dood in 1995 sy laaste botteltjie geërf. Dit was nog so ’n wit botteltjie onthou ek, met so ’n snaakse klein doppie op. After Shave. My gedagtes is nou reeds kniehoogte in die seewater.

Meteens het ek so ’n oorweldigende verlange na hom, dat ek besluit om die Old Spice te koop. Ek spuit ’n toetslopie op my pols. Ja… dis my broer. Hy was so anders as ek, al het ons baie dieselfde gelyk – twee witkopseuntjies. Hy was tegnies aangelê. Hy kon dinge bou en regmaak, was lief vir houtwerk en tegniese tekene.  Houtwerk en tegniese tekene was vir my op skool ’n vreesaanjaende ervaring. Ek was nog altyd meer kunstig. Hou van woorde en tale en toneelspeel en musiek.

Ek wandel nog deur twee gange in Clicks en onthou skielik daar’s ’n virus in die omtrek. Ek betaal vir die kannetjie Old Spice en spuit sommer in die kar reeds daarvan aan net om vir ’n oomblik my broer weer te ruik. Die reuk van Old Spice bring ’n paar emosies soos ek huis toe ry, maar ek glimlag toe ek op die highway klim en skielik my broer se Datsun-bakkie onthou.

Die volgende oggend word ek wakker. Ek maak my oë stadig oop. Dis Saterdagoggend. Saterdag voel weer soos Saterdag. Dalk oordat die kinders nie homeschooling hoef te kry nie. Homeschooling bring sy eie uitdagings, daarom voel Saterdae weer soos Saterdae, want my vrou Michelle hoef nie vandag haar humeur te verloor en die kinders te smeek om saam te werk nie.

Dis Saterdag. Geen skool nie. Almal slaap nog. Ek besluit om saggies op te staan en Michelle te verras met ’n koppie tee in die bed. Ek soek die sleuteltjie van die Trellidor-hek wat ons kamers skei van die res van die huis. Dit lê altyd langs die bed, maar ek vind dit nie op sy normale plek nie.

Ek maak later vir Michelle wakker. “Weet jy waar is die hek se sleutel?” vra ek.

Sy vat-vat langs die bed op die tafeltjie, maar voel geen sleutel nie.

“Is dit nie in ’n baadjie se sak nie?” vra sy.

“Al oral gesoek,” antwoord ek.

Later is al die kinders ook wakker. Almal soek die sleuteltjie. Ons kan fisiek nie in die kombuis en res van die huis ingaan sonder die sleuteltjie nie. Ons is vasgevang. Ingeperk! Asof ons nie reeds ingeperk genoeg is nie. Ons kan nie tee maak nie.

“Ek’ s honger,” sê Mija.

Chaos! Uitgesluit. Ingeperk.

“Wie het laaste die sleuteltjie gehad?”

“Nie ek nie! Nie ek nie!” pleit almal onskuldig.

Gelukkig het die hoofslaapkamer ’n deur na die agterste tuin, maar dit help niks, behalwe dat ons deur die vensters kan loer of ons nie die sleutel per ongeluk in die kombuis gelos het en toe die sekuriteitshekke toegestoot het nie.

Ná ’n uur se frustrasie besluit ek dat die enigste manier om binne-in die kombuis te kom, sal wees as ek ’n venster breek en dan ons jongste kind van 5 jaar deur die gebreekte ruit se opening laat klim en die sleutel binne die kombuis soek.

Ná ’n gesoek het ek ’n baksteen uit die tuin gekry en met ’n handdoek toegevou. Ek het nog nooit in my lewe ’n venster gebreek nie. Om nie eens te dink aan die feit dat ek die venster weer sal moet vervang nie. Ten duurste!

Ek stamp-stamp so effens met die baksteen teen die ruit. Dis te erg vir my. Ek maak my oë toe en stamp nog bietjie harder, maar niks breek nie. Ek sal force moet gebruik. Ek probeer moed bymekaarskraap. Haal diep asem. Dalk moet ek net gou my buurman bel.

‘n Advertensie vir Old Spice uit ‘n tydskrif van 1975. (Foto: Creative Brands Magazine.)

Hy is ’n man van staal. Hy kan enige iets doen. Ek wil nog eendag ’n boek skryf met die titel “How to be a real man.” En die boek sal net oor hom gaan. Hy is ’n ingenieur by Anglo. Het ’n vrou en 4 kinders. Hy voorsien in al hul behoeftes. Hy help arm mense. Hy los vir my elke nou en dan ’n bottel wyn voor ons hek gedurende lockdown. Hy weet hoe om ’n groen swembad weer blou te kry. Hy koop vir mense wat sukkel, kos. Hy betaal soms vreemde mense se huispaaiement in moeilike tye. Hy maak ’n dak reg wat lek. Hy gee ’n finansiële bydrae aan sy skoonouers elke maand en vir sy skoonma ’n motorkar. Hy leer al die kinders in die straat goeie maniere. Hy antwoord sy foon wanneer mens hom bel en hy bel terug as hy nie kan antwoord nie. Hy bring ons hond, Elvis huis toe, wanneer ons hond in die straat wandel. Hy braai beter as Jan Braai. Hy kan ’n vuur aansteek sonder Blitz en hy kry omtrent nooit koud nie.  Ensovoorts, ensovoorts, ensovoorts. Al hierdie bogenoemde dinge weet hy wat nie eers ek weet nie. Hy doen goeie dade sonder dat enige iemand daarvan weet.

Met die baksteen in my hand besluit ek dat ek hom dalk moet bel en hoor hoe breek mens ’n venster.

Ek bel hom. Hy antwoord soos gewoonlik.

“Wat doen jy so vroeg op ’n lieflike Saterdagoggend?” vra ek vriendelik en meelewend.

Hy en sy vrou lê snoesig in die bed en kyk ’n fliek. So romanties soos net hy kan wees.

“Jammer ek pla,” sê ek. Weet jy hoe om ’n venster te breek?

“Hoekom wil jy ’n venster breek?” vra hy geduldig.

Ek verduidelik die situasie. Soos ek dit vertel, besef ek hoe dom dit klink.

“Nee wag, ek’s op pad,” antwoord hy.

Vyf minute later is hy daar met ’n stok, ’n boor, ’n hakkie, ’n lead en ’n glimlag. Ons wonderlike buurvrou alleen in die bed. Sy pause die fliek… en haarself.

Hy assesseer die situasie. Hy boor ’n gat in ’n wit stok. Hy voer ’n stuk blou draad deur die stok. Hy ontwerp daar ’n ding wat lyk of jy ’n gevaarlike slang kan vang.  Ons stap na die Trellidor-hek wat keer dat ons die kombuis kan binnegaan. Ek hou ’n liggie sodat hy kan sien. Die ontegniese ou hou altyd net die liggie. Hy maak ’n agterdeur oop in 5 minute. Hy klim oor ’n muurtjie. Ses minute later kook die ketel in ons kombuis.

Dankie tog ek het nie die ruit gebreek nie.

En toe besef ek weer watse goddelike seën dit is om goeie vriende te hê. Vriende wat altyd daar is vir jou en jy vir hulle. Dis priceless. Die aande om ’n vuur. Die bottels rooiwyn. Die geselskap. Hoe sou ons die lockdown kon oorleef sonder vriendskappe? Al is dit oor Zoom of met WhatsApp-oproepe of ’n bottel wyn by die hek of ’n boodskap, of ’n koek. Of ’n koppie tee so nou en dan. Geld kan dit nie koop nie.

Maak kontak. Want my vriende het my ook nodig, net om te hoor hoe dit gaan. ’n Oproep, net om te sê ons almal suffer saam! Ons kla ’n bietjie, ons huil ’n bietjie, ons lag ’n bietjie. Saam. Dan sal ons deur hierdie vreemde tye kan kom, selfs kan inbreek in jou eie huis!

“Wil julle McDonalds hê?” vra my buurman nadat hy die hek oopgesluit het. Ek gaan gou ry om vir ons kinders te koop, ek bring sommer vir julle ook.”

“Dankie,” sê ek.

“Dis geen moeite nie,” antwoord hy, terwyl hy sy boor en gereedskap bymekaarmaak.

Skielik kry ek die reuk van deodorant.

“Watse onderarmsprei het jy aan?” vra ek.

“Ek weet nie, iets wat my vrou vir my gegee het,” antwoord hy.

En vir ’n oomblik kon ek sweer ek ruik Old Spice!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Linq ·

Hoe verlang ek nou … wat ‘n mooi beskrywing. Old Spice seker die populerste by verre. Dink aan ons oupas wat al lankal in die hemel is en pa wat ver bly …

Anoniem ·

Ja nee Linq dit bring virseker baie herinneringe terug want my oorlede pa het ook Old Spice gebruik en ja ek kon nie help om hartseer te raak nie. Hy is oorlede in 1976.

Reinier ·

Lekker lag ek nou (en ‘n knop in my keel) vir hierdie storie wat jy vertel Jak.Al het jy dan nou volgens jouself 2 linkerhande bly jy ‘n LEGEND as dit kom by dit wat jy doen!!!Ons mis jou shows man!!!

John ·

Ag man! ek het nou gehoop daai sleuteltjie het tussen die bed en die bedkassie gelê na die lang gesukkel….
Ek het nou die verhaal geniet…..en in my kas is die einste OLD SPICE wit bottel met die snaakste proppie

Martin ·

My pa is op 6 Februarie 2016 oorlede op 66 aan motor-neuron. Dit was n jaar van hel. Ek het mou nog so n wit botteltjie Old Spice wat syne was. Wanneer ek verlang en dit word weer seer dan maak ek dit oop, ruik daaraan en dan is alles weer beter. Die seer is steeds daar. Dit maak dit net meer draaglik. Soos n rofie oor n stukkende plek. Ek sit dit nooit aan nie. Ek is te bang eendag is dit op en dan is my pa vir altyd weg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.