Om te netwerk met die kerk

Hannes Noëth (Foto: Verskaf)

Die afgelope twee Covid-jare het omtrent op elke liewe terrein van ons menswees aan ons samelewing geruk en pluk. Ons moes met al hierdie uitdagings spreekwoordelik die bul by die horings pak en vorentoe gaan, ongeag hoe dit om ons gaan. Ons het baie dinge beleef – rondom ons, onder ons en in ons.

Rondom ons is ons hele hok vol gemaksones geskud. Wat ons geken het, het verander. Ons moes aanpas en verandering het deel van ons lewens geword.

Onder ons het onsekerheid op baie vlakke van ons menswees ingetree. Daar was debatte oor die virus, oor die inentings, oor die erns of nie-erns van die saak, en oor die hantering al dan nie van voorsorgmaatreëls. Vriende het vyande geword en vyande vriende. Antwoorde het ontbreek en ons is meer dikwels dom gelaat as met antwoorde.

In ons was dit verbasend hoe ’n mens gebuk gegaan het onder innerlike spanning, trauma en seer.

Juis daarom hou Solidariteit Helpende Hand op 23 Februarie 2022 ons Helpende Kerke Kongres. In al hierdie dinge rondom ons, onder ons en in ons is dit die kerk wat deur al die eeue die stabiele gemene deler bly. Dít ongeag die tydgees, uitdagings, virusse en onsekerhede. Daarom is dit vanselfsprekend dat die kerk ʼn sleutelrol speel in die herstel van gemeenskappe. Die kerk het uiteraard ʼn baie spesiale roeping; dit is wyd en diep. Daarom het elke gelowige en gemeenskap juis in hierdie tyd die kerk as struktuur, maar ook die kerk van Christus, nodig.

Gemeenskappe moet herstel

Dit is nodig dat gemeenskappe nou herstel van al die veranderinge en ontwrigting wat deur die krisistyd meegebring is. By Solidariteit Helpende Hand glo ons in gemeenskapskrag – gemeenskappe wat sterk genoeg is om vir hulself verantwoordelikheid te neem om kragtig vorentoe te gaan en voorspoed te verseker. Twee woorde wat ons dikwels gebruik, is “strukture” en “volhoubaarheid”. In 2021 in die middel van die Covid-krisis het ons juis sterk groei beleef omdat mense al meer die waarde besef van strukture wat nie afhanklik is van een mens of groepie nie, maar wat gefundeerd aangepak word deur ’n span met ʼn plan. By Helpende Hand weet ons dat netwerkverhoudings in gemeenskappe die belangrikste is om saam vorentoe te gaan. Daarom het ons in 2021 die 100-punt‑gemeenskapsherstelplan bekendgestel. Deel van hierdie herstelplan is om met gemeenskapstrukture te skakel en netwerke te bou – netwerke waarin die kerk ʼn kernrol speel.

Doel van die kongres

Die doel van Helpende Hand se Helpende Kerke Kongres is:

  • om die kerk se rol en taak te bevestig en te beklemtoon in tye waarin daar soms (geregverdig of ongeregverdig) baie negatief na kerke verwys word en gemeentes soms self onseker is oor hulle eie rol in die gemeenskap;
  • om met mekaar te praat oor wat werk en wat nie werk nie, om mekaar te help en te ondersteun deur saam te dink en beplan om saam vorentoe te gaan;
  • om netwerke te vestig waarin en waaruit gemeenskappe sterk en selfstandig kan ontwikkel sodat hulle kragtig kan vorentoe gaan; en
  • om hulpbronne, wat altyd beperk is, verantwoordelik en met sorg te bestuur en uit te deel tot voordeel van die gemeenskap en sonder om mense al meer afhanklik te maak.

Wie is ter sprake?

Helpende Hand nooi graag verskillende gemeentes en verskillende groepe in gemeentes en gemeenskappe om betrokke te raak by ons Helpende Kerke-beweging. Ons het lankal geleer ons kan nie alles alleen doen nie en ons wil ook nie. Ons het die ander gemeenskapsorganisasies nodig, en in besonder ook die kerk. Waar ons met kerke saamwerk, is dit net soveel makliker om in ʼn gemeenskap se behoeftes te voorsien. Daarom nooi ons almal uit wat geroepe voel om ʼn verskil in die gemeenskap te maak, en in besonder dan deur met mekaar te skakel en te netwerk. Van Helpende Hand se kant af bevestig ons: Daar bestaan nie iets soos ’n Helpende Hand-kerk nie. Ons is of het nie gemeentes nie en wil ook nie ’n gemeente hê of wees nie. Die doel van ons Helpende Kerke-projek is om hande te vat met kerke en saam vorentoe te stap. Daar is soveel mooi waarin ons kan deel en soveel geleenthede om mekaar by te staan. Laat ons dit sonder huiwering doen.

Die kerk speel inderdaad ʼn integrale rol in die samelewing; niemand sal dit ooit kan verander nie en niemand mag dit geringskat nie. Helpende Hand speel ook reeds ʼn integrale rol in gemeenskapsontwikkeling, daarom is netwerkaksie tussen Helpende Hand en die kerke in die gemeenskap so belangrik. Ons bou etlike jare reeds bande met kerke, gemeentes, denominasies en kerkverbande, en ons wil graag daarmee voortgaan.

Wanneer ons op 23 Februarie 2022 bymekaarkom vir ons Helpende Kerke Kongres wil ons juis fokus op gemeenskappe in geloof. Ons wil saam dink oor die maatskaplike en geestelike versorging van almal in die gemeenskap, en ons wil hoor van kerke se betrokkenheid by kinderhuise, bejaardes, die jeug, gesinne, persone met gestremdhede en gemeenskapsorganisasies. Ons wil hoor wat die kerk se toekomsverwagtinge is sodat ons mekaar kan opbou. So maak ons ons gemeenskappe sterker.

Rondom ons, onder ons en in ons kan baie onsekerhede wees, maar wanneer ons saam met hart, krag en hoop vorentoe gaan, bou ons sterk gemeenskappe met volhoubare strukture. Ons wil en kan dit nie sonder die kerk doen nie.

Meer oor die skrywer: Hannes Noëth

Hannes Noëth is die uitvoerende hoof van Solidariteit Helpende Hand. Hy is ook die skrywer van die boek Depressie: Struikelblok of uitdaging? en skryf dikwels rubrieke vir verskeie publikasies.

Deel van: Goeie nuus, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Althes ·

Dis ñ baie goeie inisiatief.
Solidariteit en sy afdelings doen enorme goeie werk in ons land en daarvoor kan ons net dankie sê.
Ek is ñ trotse lid en dra ook by by Helpende Hand wanneer ek finansieël kan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.