Omgee help leemte van afwesige pa’s vul

Jaco van Schalkwyk (middel), saam met Johan Woest (links) en Francois Joubert (regs), twee van TCC se MENtors. (Foto: Elize Perrin)

Deur Elize Perrin

“Ek het met ʼn afwesige pa groot geword en dit het groot uitdagings in my lewe veroorsaak.” Aan die woord is Jaco van Schalkwyk, stigter van The Character Company (TCC), ʼn organisasie sonder winsbejag, wat daarna streef om jong seuns leiding te gee om goeie, verantwoordbare mans te word.

Die behoefte

Die gemis na ʼn teenwoordige, betrokke pa het die behoefte in Jaco se hart laat groei om jong seuns in ʼn soortgelyke situasie te ondersteun.

“Ek is ʼn geliefde seun van die Allerhoogste, maar as gevolg van ʼn afwesige pa het hierdie identiteit eers laat in my lewe wortel geskiet,” vertel hy. “Ek het ʼn passie om identiteit in jong seuns vas te lê. Ek het besef dat, met die Here se genade, ek die voorreg kan hê om my uitdagings en gebrokenheid te gebruik om vir seuns en mans bewuswording te bring oor hulle waarde en identiteit.”

Die hartseer van die situasie is dat navorsing toon dat meer as 60% van kinders in Suid-Afrika die lewenspad sonder ʼn pa aan hul sy moet stap. Dis kinders sonder ʼn pa langs die sportveld, by kultuurgeleenthede, en by oueraande. Maak nie saak wat die aktiwiteit is nie, hierdie kinders voel die gemis.

Die redes vir afwesige pa’s verskil; van die pa’s is fisiese teenwoordig, maar emosioneel afwesig. Ander kinders het ʼn pa aan die dood afgestaan, ander weet nie waar hul pa’s is nie en nog ʼn aantal kinders het min kontak met hulle pa’s. Sommige kinders het slegs naweek-pa’s aangesien laasgenoemde elders werk en hulle dan net naweke tuis is, moeg gewerk is en net wil rus.

Alhoewel daar altyd ʼn uitsondering kan wees, blyk dit dat die meeste kinders met betrokke pa’s op alle terreine beter presteer as kinders met afwesige pa’s.

Tot en met vyfjarige ouderdom word aanvaar dat die ma die belangrikste persoon in ʼn kind se lewe is. Daarna verander die situasie en neem ʼn pa die belangrikste plek in sy kind se lewe in. Dit duur tot ongeveer tienjarige ouderdom.

Mans wat omgee

Stilword tydens ʼn kampgeleentheid. (Foto verskaf)

Tans deel sestig mans, en nog vyftien wat tans deur TCC se inname proses gaan, Jaco se passie en dien as MENtors vir die ongeveer tweehonderd en vyftig seuns wat ʼn pa in hulle lewe mis.

Betroubaarheid, beskikbaarheid en opleibaarheid is belangrike eienskappe vir ʼn MENtor. Hierdie mans bied weekliks vrywillig MENtorskap aan die seuns en so ontvang laasgenoemde leiding van positiewe manlike rolmodelle.

“Hierdie manne sien weekliks elkeen ʼn groepie seuns en stap ʼn pad saam met hulle soos hulle grootword,” sê Jaco.

Behalwe vir die genoemde sessies, is pret ook deel van die program met naweekuitstappies en kampe wat onderneem word.

Die organisasie vier vanjaar reeds ʼn dekade waarin hulle jong seuns se hande kon vat en ʼn pad saam met hulle stap.

“Ons grootste uitdaging is by verre die tekort aan MENtors,” sê Jaco. “Ons het ʼn waglys van seuns wat behoefte het om deel te raak van ons program, maar die gebrek aan toewyding onder mans in ons land maak dat ons baie van hierdie seuns nie kan help nie.”

Boogskiet is een van die aktiwiteite waaraan seuns kon deelneem as deel van die program. (Foto verskaf)

Ten spyte van die uitdagings is Jaco en die ander MENtors se betrokkenheid by die seuns baie bevredigend.

“Die grootste bevrediging is om te sien hoe hierdie seuns grootword en ontwikkel in mans wat regtig die rol van gesonde mans en pa’s kan inneem,” sê hy. “Elke seun is ʼn suksesstorie. Ons het hierdie jaar ons eerste seun wat uit die skool is en ten spyte van sy studies nog steeds sy mentorsessies bywoon. Hy is ook tans besig om self opgelei te word as junior MENtor in ons program.”

Op ʼn vraag oor wat die prosedure is indien ʼn MENtor, om watter rede ook al, nie verder deel van die program kan wees nie, antwoord Jaco dat dit jammer is wanneer so iets gebeur.

“Ons probeer om seker te maak dat dit so min as moontlik gebeur,” sê hy, “maar dit bly ʼn uitdaging. Ons eerste stap is om altyd te kyk of ons nie die seuns in ʼn ander groep kan akkommodeer nie of dalk ʼn nuwe MENtor in hulle area het wat kan instaan. Ons verbreek nooit die verhouding nie. Die seuns kry nog steeds die geleentheid om kampe en aktiwiteite by te woon.”

Die pad vorentoe

Die probleem van afwesige pa’s is ongelukkig nie iets wat oornag gaan verander nie.

“Ons ervaring is dat soveel as vier uit vyf seuns nie ʼn positiewe manlike rolmodel in hulle lewens het nie. Dit lei tot groot uitdagings in ons gemeenskappe,” vertel Jaco. Volgens hom is geslagsgebaseerde geweld, korrupsie, rassisme, selfmoord en alkoholmisbruik uitvloeisels van hierdie probleem.

“In elke gemeenskap is daar seuns wat desperaat is om net te weet dat iemand genoeg omgee om saam met hulle te stap, om sin te maak van die uitdagings wat hulle in die oë moet kyk. Ons, as mans, het die vermoë om dit te doen. Al wat nodig is, is om ons hande op te steek en vorentoe te tree vir die volgende generasie.”

Jaco voel ernstig daaroor dat mans nie kan aanhou om hul rug op kinders te draai en net weg te stap nie.

“Dit is tyd dat ons nader stap en begin om verandering te bewerkstellig,” sê hy.

Die seuns luister aandagtig na ʼn mentor tydens ʼn kamp. (Foto verskaf)

Alhoewel TCC net mans as MENtors gebruik, is daar vroue wat betrokke is by kampreëlings en administrasie. ʼn Ma is ook betrokke by ʼn program, wat verlede jaar begin is, met die idee om met fondsinsameling en netwerkgeleenthede te help.

Jaco wys daarop dat die TCC tans die enigste organisasie in die land is wat langtermyn mentorskap vir seuns doen. Hy doen ʼn beroep op mans om in hulle gemeenskappe met TCC hande te vat en ʼn verskil in jongmanne se lewens te maak.

Hy nooi ook belangstellendes uit om TCC se webwerf te besoek by www.thecharactercompany.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Blikkies ·

Baie Dankie. Dit is ‘n baie goeie idee. Baie mans, ek inkluis sou kon doen met bietjie leiding en mentorskap. Ek kon beslis minder foute gemaak het, maar moes op die harde manier leer en jou foute self regmaak en leer daaruit. Gelukkig darem nie aan die verkerde kant van die gereg nie. ‘n seun het ‘n Pa nodig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.