Ontsporing van geskiedkundige Whiskeytrein só herdenk

Mark Walkden, Kobie Stroh, Gys Stroh en Jan-Danie Malan tydens die jaarlikse Whiskeytrein-skyngeveg by Val, naby Heidelberg. (Foto: Verskaf)

In Desember 1900, tydens die Anglo-Boereoorlog, het die Boere, onder leiding van kommandant Fanie Buys, ʼn Britse spoorlyn opgeblaas wat tot die ontsporing van ʼn voorradetrein gelei het.

Dié trein, bekend as die Whiskeytrein, se naam kom van die voorraad wat daarop vervoer is, en die feesvieringe wat ná die ontsporing tussen Boer en Brit gevolg het.

Op Saterdag 16 April het die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) se Vaal-Kultuurnetwerk aan die jaarlikse Whiskeytrein-skyngeveg by Val, naby Heidelberg, deelgeneem.

Behalwe dat dit dié netwerk se eerste deelname aan die herdenkingsgeleentheid is, het hulle ook vir groot opwinding gesorg met hulle bydrae om die skyngeveg se toneelspel te verbeter.

Die skyngeveg het afgespeel ná afloop van ʼn parade, wat op die oorspronklike terrein gehou is waar die Whiskeytrein ontspoor het. Volgens oorlewering het die Boere die trein se lokomotief opgeblaas, daarna ingeklim en die whiskey-voorraad met die Britse troepe gedeel. Die ontsporing het geen sterftes tot gevolg gehad nie, en daar is agterna gesing, gedans en selfs ʼn troue gehou.

Die skare is deur die skyngeveg vermaak en die deelnemers het sommige vryhede geneem en die geskiedenis effens verdraai tot die skare se vermaak. Só het drie lede van die Vaal-Kultuurnetwerk, wat as Britse soldate deelgeneem het, vir dramatiese effek tydens die skyngeveg gesterf.

Die Dundee Diehards vanuit Natal het wapens en uniforms vir die geleentheid voorsien. Vic Hanke, die organiseerder van die Boere wat aan die skyngeveg deelgeneem het, het die perderuiters aangespoor om ʼn prentjiemooi gesig te skep.

Rita Brits, die eienaar van die Val Hotel, het haar oor die jare beywer om die Val Hotel in ʼn welkome hawe vir moeë reisigers te omskep, en die Val Hotel as ʼn erfenisterrein te verklaar. Dit is iets wat sy onlangs vermag het met die inhuldiging van Val Hotel as historiese vergaderplek van generaal Botha.

Stuur ʼn e-pos aan Jan-Danie Malan na [email protected] indien jy graag by so kultuurnetwerk betrokke wil raak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.