Outo-elektrisiëns nou by Sol-Tech opgelei

Studente kan in 2022 vir ʼn outo-elektrisiën-ambagkwalifikasie by Sol-Tech inskryf. (Foto: Sol-Tech)

Sol-Tech se nuwe ambagkwalifikasie in outo-elektries is pas deur die Gehaltebeheerraad vir Ambagte en Beroepe (QCTO) goedgekeur en voornemende studente kan reeds op 10 Oktober vanjaar met hul opleiding begin.

“Die kwalifikasie stel Sol-Tech in staat om nog meer moontlikhede aan studente wat in ʼn ambagsrigting belangstel, te bied. Dit sal verder help om in die enorme tekort aan skaars vaardighede in Suid-Afrika te voorsien,” sê Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech.

Volgens Van Deventer wil dié Afrikaanse beroepskollege jongmense se toekomsdrome deur doelspesifieke opleiding verwesenlik. “Die toevoeging van hierdie kwalifikasie verbreed ons leeraanbod en daardeur kan ons vir nog meer jong Suid-Afrikaners ʼn toekoms in die land verseker.”

Die outo-elektrisiënkwalifikasie is spesifiek ontwikkel met studente in gedagte wat in die instandhouding en herstel van elektriese stelsels en toestelle in voertuie, vragmotors en busse belangstel.

Dit rus studente met kennis en vaardighede toe om foute doeltreffend te diagnoseer en die installering, inspeksie, herstel en instandhouding van elektriese komponente in voertuie te kan uitvoer. Alle ander elektriese toerusting en bykomstighede in voertuie, soos die ligte, teendiefstaleenhede en alarms, lugversorging, sentrale sluitstelsels, CAN-BUS en digitale paneelbord is hierby ingesluit.

Studente wat hierdie kwalifikasie voltooi, gaan dit op die suksesvolle en unieke driefase-model van Sol-Tech doen. Die drie komponente sluit teorie, praktyk en indiensopleiding in en dit vorm belangrike boustene van die studente se skoling.

“Sol-Tech se studente vaar uitstekend in die praktyk; daarvan getuig die statistiek met 94,7% van studente wat suksesvol in die arbeidsmark opgeneem word nadat hulle hul kwalifikasie voltooi het. Ons glo dit sal dieselfde met hierdie kwalifikasie wees,” voeg Van Deventer by.

Dit is die jongste toevoeging tot die ses vakrigtings wat reeds die afgelope paar jaar met groot sukses by Sol-Tech aangebied word. Die ander kwalifikasies is gerig op meulmakers, elektries, dieselwerktuigkundes, pas en draai, gereedskapmakers en sweis.

Vir navrae rakende dié of enige van Sol-Tech se ander kwalifikasies, stuur ʼn e-pos na [email protected].

ʼn Minimum van 10 inskrywings word vereis vir die vierde inname van 2022 wat in Oktober afskop. Indien daar nie genoeg inskrywings op kort kennisgewing ontvang word nie, sal voornemende studente vir die eerste inname van 2023 geoormerk word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.