Pretorius-standbeelde kry nuwe baadjies

v.l.n.r. Daan Pretorius, Dirk Oegema, James Bogle, Barry Müller en Melissa Lindeque. (Foto: verskaf)

Die restourasie van Andries Pretorius en MW Pretorius se standbeelde in Pretoria is Sondag op die herdenking van Andries Pretorius se sterfdag onthul.

Dié onthulling is deur die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die Suid-Afrikaanse Museum Federasie (SAMF) en die Tshwane-metroraad behartig. Die letters wat op die standbeelde pryk, was die fokus van die restourasie, aangesien dit deur die jare beskadig of gesteel is.

“Dit is vandag ’n unieke verskynsel om te sien hoe die plaaslike owerhede en die privaatsektor hande vat vir ’n gemeenskaplike doel, veral vir Afrikaner-erfenisbewaring. Dit is vir die FAK ’n voorreg om saam met die SAMF en die metroraad hande te vat om hierdie letters op die Pretorius-standbeelde te vervang,” het Barry Müller, kultuurnetwerkkoördineerder van die FAK Noordelike provinsies, gesê.

(Foto: verskaf)

Daan Pretorius, ’n afstammeling van Andries Pretorius, het geld geskenk om die letters te restoureer en het ook die onthulling bygewoon. Hy is ook betrokke by skoonmaakaksies by die Heldeakker, waar Andries Pretorius begrawe is.

“Toe ek sien hoe die letters op hierdie standbeeld gevandaliseer word, het ek net gevoel ons moet dit regmaak. Dit kan nie so bly nie,” het Pretorius gesê.

Lede van Graaff-Reinet se FAK-kultuurnetwerk het vroeër vandeesweek byeengekom vir ʼn kranslegging by die Andries Pretorius-monument in die Kamdebo Nasionale Park net buite dié dorp.

(Foto: verskaf)

“Wat vir my uitstaan van Andries Pretorius, was dat hy daadwerklik reageer het toe die trekkers leierloos was, in omstandighede wat hopeloos gelyk het. Leiers van hierdie kaliber is vandag nie net vir ons voorbeelde om na te streef nie, maar ook wat ons nodig het,” het Elizma Smith, FAK-kultuurkoördineerder van die Kaapprovinsies gesê.

Müller het verder verduidelik dat Andries Pretorius die Voortrekkerleier was wat tydens die Slag van Bloedrivier die Gelofte voorgestel het, terwyl MW Pretorius een van die leiers was wat Pretoria tot stand gebring het.

“Dit is so belangrik om nie te vergeet wat hierdie geskiedkundige figure vir ons gedoen het en die pad wat hulle vir ons gebaan het nie. Hierdie mense het ’n enorme impak gemaak op die landskap van Suid-Afrika,” het Müller gesê.

“Vir die FAK is dit altyd belangrik om vir ons geskiedkundige helde en leiers die erkenning te gee wat hulle toekom. Dit is tyd dat ons ʼn bietjie hierdie beelde in ere herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.