Radiostasie help met tuiste vir 100 hawelose katte

Foto ter illustrasie. (Foto: Guillermo Latorre/Unsplash)

Byna eenhonderd verwaarloosde katte gaan binnekort ‘n nuwe tuiste kry danksy die vrygewige ingryping van die Johannesburgse radiostasie, HOT 102.7FM.

Dié radiostasie gaan R70 000 van R8,9 miljoen wat sy welsynsinisiatief, Hot Cares, ingesamel het, skenk aan die Roodepoort Krugersdorp-dierebeskermingsvereniging (DBV) in Gauteng om ʼn broodnodige hawe vir ʼn magdom katte, wat onlangs deur dié DBV gered is, te bou.

Volgens Annica Duffey, ʼn DBV-inspekteer, is dié katte in haaglike omstandighede by ʼn eiendom in Muldersdrift naby Krugersdorp gevind.

Sy verduidelik dat beide straat- én huiskatte in geslote vertrekke gevind is, met katvullisbakke wat oorloop en katkos wat oor die vloer gestrooi was. Party was selfs in hokke toegesluit terwyl ander onder kaste en beddens met vuil beddegoed weggekruip het.

Annica Duffey, ʼn DBV-inspekteer, en Bunny Majaja van HOT 102.7FM. (Foto: Verskaf)

“Die plek was ongelooflik vuil en was duidelik vir dae lank nie skoongemaak nie, en die reuk was net ongelooflik en oorweldigend. Dit was net ‘n aaklige ding om te sien,” meen Duffey.

Al die katte is gekonfiskeer en in die sorg van die Roodepoort Krugersdorp DBV geneem.

Hulle is daarna deur ‘n veearts ondersoek, en word tans deur dié DBV versorg en behandel vir ʼn aantal siektes, onder meer kat-vigs, leukemie, tandvleissiekte en velprobleme.

Die Roodepoort Krugersdorp DBV is een van die oudstes in die land en maak hoofsaaklik staat op skenkings om hulle dagtake te doen. Dít is waarom Hot Cares besluit het om ʼn helpende hand, oftewel ʼn helpende poot, na die DBV uit te reik.

Die radiostasie sal die driefase-benadering tot die oprig van ‘n spesiale “kat hawe” by die Roodepoort Krugersdorp DBV ten volle befonds. (Foto: Verskaf)

Volgens Lloyd Madurai, besturende direkteur van HOT 102.7FM, streef Hot Cares daarna om ‘n betekenisvolle verskil in vier sleutelgebiede van hul plaaslike gemeenskap te maak: humanitêr, medies, opvoedkundig én dierewelsyn.

Die Hot Cares-fonds word ook aangewend om sopkombuise, kleuterskole en entrepreneurs uit informele nedersettings te ondersteun.

Die radiostasie sal dus die driefase-benadering tot die oprig van ‘n spesiale “kat hawe” by die Roodepoort Krugersdorp DBV ten volle befonds.

“Dit is hoekom hierdie storie soveel aanklank by ons vind, want dit is presies hoe HOT 102.7FM en Hot Cares ’n wesenlike verskil maak. Die lot van hierdie arme diere het ons diep geraak, en ons is verheug om ’n rol te kan speel om hul lewens aansienlik te verbeter.”

Hawelose man wil ook diere help

Die Kaap die Goeie Hoop-DBV in Kaapstad het Maandag in ʼn Facebook-plasing geskryf dat ʼn hawelose man hul tak se aannemingsbestuurder voorgekeer het om hulle te bedank vir die werk wat hulle vir diere doen.

(Foto: Cape of Good Hope SPCA/Facebook)

Volgens die DBV het die man sy laaste R5 oorhandig en gesê hy hoop sy klein bydrae kan help om ʼn verskil te maak.

Dié man, wat net as Marius geïdentifiseer word, het ook sy wens gedeel om eendag ‘n veilige tuiste te vind sodat hy ‘n hond van sy eie kan besit.

“Marius se storie is ’n herinnering daaraan dat ons almal, selfs te midde van moeilike tye, maniere kan vind om terug te gee en ‘n verskil te maak. Sy onbaatsugtigheid en vrygewigheid is eienskappe waarna ons almal kan streef, en ons hoop dat sy storie ander sal inspireer om dieselfde te doen. Dit beklemtoon ook die belangrikheid van troeteldiere: hoe hulle liefde ander kan laat voel dat hulle ook êrens hoort.

“Om ’n troeteldier te besit kan veral vir individue soos Marius waardevol wees, mense wat dalk nie baie ander bronne van emosionele ondersteuning het nie,” het die DBV oor dié unieke individu se skenking geskryf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sandra ·

Baie mooi inspirerende storie Hot 102.7 FM. Sal voortaan na julle op my radio toep luister om te sien watter projekte julle volgende doen.

Debbie ·

Waarom kan daai geld nie gaan vir al die honger kindertjies nie? Daar is baie plakkers kampe met ons mensies in

Madelein ·

Dankie Hot 102.7 fm vir julle.onbaatsugtige diens. Daar is genoeg ander instansies wat ook na kinders se welstand kyk. Diere is NIE minder belangrik as mense nie!

Elmarie ·

Dankie Hot Cares. Arme diere wat nie kan praat nie. Sou net wou weet hoe op aarde die arme katte by daardie “gevangenis” gekom het. Skande dat mense so wreed kan wees. Dankie ook aan Marius, jy is ‘n wonderlike voorbeeld vir derduisende

Celia ·

BAIE DANKIE Hot 102.7 FM. Mag God julle seen om nog meer kosbare honde en katte te help asook diere beskerming verenigings wat R0 van regering kry.

En Debbie, dai kommentaar is die rede waarom ek so lief is vir weerloos diere en soms net niks van mense hou nie.

Die betrokke radio stasie het baie projekte waarvan hierdie net 1 is. Hul help mense en diere en dis wat so fantasties is.

Well done.

Ronel ·

Is dit nou nie die mooiste berig en storie wat ons in ‘n lang tyd gelees het nie? Dit maak my hart so warm – ek huil sommer vir die res van die dag! Wonderlik dat daar nog mense is wat omgee vir diere, veral in vandag se tyd. Mooi so Hot 102.7 FM. Julle het ‘n “mooi hart”!

Eugene ·

Wel gedaan, die diere kan nie hulself help nie. Debbie jy moet liewer wegbly van diere af want jy is presies hoekom ek 3 aanneem katte en geen mense behalwe my vrou in my huis het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.