SA jeug skroom nie om beenmurgskenkers te word

SA-jonges skroom nie om beenmurgskenkers te word nie. (Foto: Hannah Busing/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse beenmurgregister (SABMR) het ʼn beroep op lede van die publiek gedoen om jong mense se voorbeeld te volg en te registreer om beenmurgskenkers te word.

Sedert die beenmurgskenkerouderdom in Oktober verlede jaar tot 16 verlaag is, het meer as 3 000 Suid-Afrikaanse jong mense tussen 16 en 35 jaar oud geregistreer om skenkers te word.

Maroela Media het vroeër berig dat dít danksy onlangse veranderinge in wetgewing en vooruitgang op die gebied van stamselskenkingregisters toelaatbaar geword het. Voorheen moes tieners gewag het tot hulle 18 jaar oud is om by die SABMR aan te sluit.

Suid-Afrika is ook die tweede land ná die Verenigde Koninkryk (VK) wat dié skuif gemaak het.

“Terwyl Suid-Afrika Jeugmaand vier, wil ons jong mense prys wat optree om beenmurgskenkers te word. Dit is ʼn beduidende teken dat die jeug van vandag baie meer filantropies ingestel is,” sê Nadia Chalkley, hoof van skenkerwerwing vir die SABMR.

Sy sê die grootste deel van die jeugregistrasies volg danksy werwingsgeleenthede wat by skole en universiteitskampusse gehou is nadat Covid-19-beperkings opgehef is.

“Studente in die groot metropole, waar die meeste van ons skenkerpogings gekonsentreer was, was so ontvanklik vir ons boodskap en dit het ons die geleentheid gegee om baie van die mites rakende die beenmurgskenkingproses reg te stel.”

Sy voeg by dat vandag se jonges gretig is om betrokke te raak by die wêreld om hulle en ʼn dryfveer vir verandering wil wees.

“Hulle wil nie wag totdat hulle ouer is om ʼn verskil te maak nie – al is hulle nie in ʼn posisie om finansieel te gee nie, wil hulle op ander maniere gee.”

Daar is volgens Chalkley sowat 200 pasiënte wat op enige gegewe tydstip vir ʼn beenmurgoorplanting wag. Boonop is die kans om ʼn gepaste skenker te vind een uit 100 000.

Verder sal slegs 30% van die mense wat bloedstamselle benodig ʼn pasmaat in hul familie vind, die ander 70% van die pasiënte moet op vrywilligers staatmaak. Dit is ook dikwels makliker om ʼn geskikte skenker van dieselfde etniese groep as die pasiënt te vind.

Volgens Chalkley is skenkergetalle onder mense van Europese herkoms dikwels groter as dié van ander etniese groepe. Daarom is die waarskynlikheid vir ʼn geskikte skenker selfs laer vir bruin en swart pasiënte.

Sy verduidelik dat die registrasieproses egter uiters eenvoudig is.

Belangstellendes hoef net ʼn aanlyn gesondheidsgeskiedenisvraelys in te vul en ʼn wangdeppermonster by ʼn kliniek te gee. Daar kan ook ʼn toestel gratis na jou huis gestuur word.

“Sodra jy geregistreer is, word jou inligting in die Suid-Afrikaanse skenkerdatabasis ingevoer en jou wangdepper gaan na ʼn geakkrediteerde toetslaboratorium. Jou depper word getoets en die resultate word dan na die SABMR-databasis opgelaai. Dit is die eerste stap om genesing vir iemand te bied wat aan ʼn lewensbedreigende bloedversteuring ly en daar is geen groter geskenk as om iemand die geskenk van lewe te gee nie.”

Die SABMR se doelwit is om teen einde Junie nog 1 000 skenkers aan te meld.

As jy tussen 16 en 45 jaar oud is en jy wil ʼn skenker word, maak kontak met die SABMR by [email protected] of besoek hul webwerf hier om te registreer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.