SA-lugrederye begin jaar op hoë noot

Lift en Disney het in 2023 kragte saamgesnoer vir ‘n prettige vakansieveldtog. (Foto: Verskaf)

Die plaaslike lugrederye Lift en FlySafair het die jaar op hoë note begin.

Die Globes Brands Magazine (GBM) het Lift as die beste nuwe lugdienshandelsmerk vir 2023 by hul 11de jaarlikse handelsmerktoekenningsgeleentheid bestempel.

Dié tydskrif, bekend as ʼn toonaangewende handelsmerkpublikasie, hou jaarliks ​​die Global Brand Awards-toekenningsgeleentheid om maatskappye wat hulself met uitsonderlike diens en ʼn unieke visie onderskei, in die kollig te plaas.

Meer as 18 000 maatskappye is vanjaar deur ʼn eksterne navorsingspan geëvalueer om die wenners te bepaal.

Volgens GBM het Lift se “innovasie, gehalte, handelsmerkinisiatiewe en die verskaffing van ʼn kenmerkende en innoverende lugredery-ervaring in Suid-Afrika” hul bo ander laat uitstyg.

FlySafair se Boeing 737 het verlede jaar oor Ellispark gevlieg voor ‘n Sprinbok-rugbywedstryd. (Foto: Verskaf)

“Lift se prestasie is ʼn bewys van ons uitsonderlike span en die wêreldklasdiens wat ons in die dinamiese lugrederybedryf bied. Ons is uiters trots om die toekennings as ʼn nuweling in die bedryf te wen,” het Jonathan Ayache, uitvoerende hoof van Lift oor hul prestasie gesê.

Die lugredery het in Desember 2020 vir die eerste keer sy vlerke gesprei en is bekend vir hul buigbare model en die toelaat van passasiers om vlugte 24-uur voor die tyd teen geen bykomende koste of boetes te verander.

In hul byna drie jaar het Lift ʼn geskiedkundige handelsooreenkoms met Disney gesluit, ʼn besigheidsklaspakket begin verskaf en selfs regstreekse musiekoptredes deur bekendes soos Zolani Mahola van die groep Freshly Ground vir passasiers tydens vlugte aangebied.

Die Suid-Afrikaanse lugredery, FlySafair het vroeër in Januarie ʼn internasionale eerbewys vir sy stiptelikheid gewen.

Safair het tweede plek vir “beste aankomsprestasie” gewen in ʼn ontleding deur die internasionale lugvaartdata-en-ontledingsmaatskappy, Cirium.

ʼn Vlug word as betyds bestempel wanneer dit binne 15 minute na die geskeduleerde hekaankoms by die lughawe arriveer.

Die Omaanse lugredery, Omain Air, het die eerste plek behaal, terwyl die Minneapolis St. Paul Internasionale Lughawe in die VSA die toekenning vir beste lughawe ontvang het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.