‘Saam kan ons die wêreld ’n beter plek maak’

Jeanine Roux (Foto verskaf)

Deur Yolanda Wessels

Jeanine Roux glo kinders is wonderwerke. Dié dat sy besluit om haar studies op onderwys, sielkunde en vroeë kinderintervensie toe te spits. Uiteindelik het haar passie gelei tot die opening van ʼn leerondersteuningskool in Bredasdorp in die Wes-Kaap.

Jeanine is in Pretoria gebore en het in Port Elizabeth grootgeword as die jongste kind, met ʼn veel ouer halfbroer en -suster. “Dit was meestal maar net ek tuis, so ek is die baba van die familie. Ek was nog altyd ʼn boekwurm en verslind nou nog enige boek waarop ek my hande kan lê.” Ná skool het Jeanine BEd, BA Hons. (Psig.) en MA (Psig.) (navorsing) in Stellenbosch gaan studeer. Sy het ook kursusse voltooi in onderrigemetodologie, benadering tot outisme, speelterapie, behandeling van trauma en om met getraumatiseerde kinders te werk. Dit het alles baie handig te pas gekom toe sy in 2019 na Bredasdorp verhuis het.

“Ek is ʼn regte huishen en my familie is vir my baie belangrik. My ma, Ilna, is kreatief en outentiek. My pa, Pieter, is pragmaties, toegewyd en my grootste ondersteuner. Hulle het ons geleer om op te staan vir waarin ons glo en dat ons enigiets kan bereik waarop ons onsself toespits.” Met haar nuwe avontuur is Jeanine baie dankbaar vir die ondersteuning van haar ouers. Sy studeer, werk voltyds en is mamma van ʼn vyftien maande oue seuntjie, Daniel. “Die kleinding het my om sy pinkie gedraai. Ek is so dankbaar vir die hulp en liefde van my ouers, ongeag van watter mal avontuur ek besluit om aan te pak.”

Iets wat sy beslis nodig het met die Khula-leersentrum wat hulle onlangs geopen het: Die droom van twee onderwysers met ʼn passie vir kinders, perde en sterk koffie. “Ek het besef daar is ʼn definitiewe nood in ons gemeenskap vir ʼn individueel-ontwikkelde opvoedkundige ondersteuningsopsie, in ʼn klein groepie-opset, om kinders te help. Ek en Hilde Reeders, ook ʼn grondslagfase-onderwyseres, het besluit om hierdie lewenslange droom te omskep in ʼn werklike leerondersteuningsentrum in Bredasdorp.” Haar onderwysondervinding in dié dorp het haar laat besef dat daar ʼn groot behoefte is vir leerondersteuning aan leerders buite hoofstroom-onderrig. Hulle sou nooit vooraf kon weet hoe groot die behoefte aan sulke tipe ondersteuning werklik is nie. “In Januarie 2020 was ons gelukkig om te kon sê ons het vyf voltydse leerders. Vandag het ons 35 kinders vanaf graad R tot 8, met vyf voltydse onderwysers.”

By Khula bied hulle opvoedkundige ondersteuningsdienste aan tuisleerders met die gebruik van IMPAQ se produkte en dienste. IMPAQ is ʼn CAPS-gebaseerde kurrikulum wat voorsiening maak vir ʼn akademiese raamwerk wat toelaat dat elke leerder teen sy of haar eie tempo kan werk. “Dit is veral geskik vir leerders wat ʼn bietjie meer intensiewe akademiese ondersteuning benodig. Ons leersentrum maak voorsiening vir alle leerders, ook vir dié wat haakplekke ondervind in die leerproses.” Khula akkommodeer leerders met apraksie, disleksie, ADD/ADHD, ontwikkelingsvertragings, sensoriese prosessering versteuring en lae-ondersteuning outisme. “Ek glo kinders is magiese wonderwerke en elkeen wat oor my pad kom, laat ʼn voetspoor op my hart. Hoe langer ek met kinders werk, hoe meer glo ek dat hulle die vermoë het om in jou hart te sien en intrinsiek wéét by wie hulle kan veilig voel.”

‘n Kykie na ‘n klaskamer by Khula-leersentrum. (Foto verskaf)

By Khula gaan Jeanine, Hilde, Elsabé Potgieter, Madelaine Pretorius en Velicia Farmer van krag tot krag. Hulle is bevoorreg om met ʼn baie diverse groep intelligente, kreatiewe en lawwe omgee-kinders te werk, wat daagliks aan hul bewys dat liefde en empatie werklik die vermoë het om die wêreld te verander. “Hierdie kinders is ʼn konstante herinnering van hoe lief ek is vir wat ek doen en hoe trots ek is om ʼn onderwyser te wees. Ek is seker ons almal kan getuig van die vernederende grappies en aanmerkings wat daar oor onderwysers gemaak word, van hoe maklik ons werk is. Op ʼn tyd was dit juis hierdie verspotte aanmerkings wat my begeerte aangevuur het om verder te studeer. My redenasie was dat as ek ʼn sielkundige ook is, en nie net ʼn onderwyser nie, my professionele opinie mos meer gewig sou dra. Maar vandag weet ek ongetwyfeld dat, ongeag van enige grade of titels wat ek verwerf, ek altyd eerste ʼn onderwyser in hart en siel sal wees.”

Behalwe vir haar werk by Khula, is Jeanine ook ʼn ontwikkelingskonsultant by Jeanine Roux Consulting, waar sy gesinne bystaan met ouerskapstrategieë, die ontwikkeling en implementering van gedragsplanne tuis of by die skool en die skep van individuele opvoedkundige planne om kinders in die klaskamer te ondersteun. “Ek is tans ook besig om my meestersgraad in vroeë kinderontwikkeling te voltooi deur die Universiteit van Pretoria. Ek beoog ook om in die toekoms my MEd-graad in sielkunde te verwerf en te kwalifiseer as ʼn opvoedkundige sielkundige. Ek wil ook graag in die nabye toekoms my MBA in gesondheidsleierskap deur die Universiteit van Stellenbosch voltooi.” Buiten Jeanine se studies, hoop sy om Khula te vestig as ʼn voorloper van inklusiewe opvoedkunde deur die voorsiening van ʼn kopieerbare alternatiewe opvoedkundige model, wat bekostigbaar en toeganklik is vir elke kind in die Overberg wat dit benodig.

Jeanine is as Mail and Guardian se 200 Young South Africans benoem. Dit is ʼn eer wat haar te beurt geval het as ʼn jong Suid-Afrikaner wat ʼn positiewe impak in haar gemeenskap maak.

(Foto verskaf)

Met die opregtheid wat slegs ʼn kind kan hê, wou ʼn klein dogtertjie met poniesterte en strikkies eendag president word om die wêreld ʼn beter plek te maak. “Ek het nie meer poniesterte nie, maar ek glo steeds dat ek die wêreld kan verander (nadat ek my koffie gehad het!). Intussen gaan ek elke avontuur wat oor my pad kom geniet! Ek deel graag ʼn aanhaling en my leuse uit my gunsteling-gedig, “Poem for South African Women” deur June Jordan:

And who will join this standing up and the ones who stood without sweet company will sing and sing back into the mountains and if necessary, even under the sea we are the ones we have been waiting for”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Antie Sarie ·

Terwyl daar soveel dinge is wat mense verdeel sal niks hierdie wereld n beter plek kan maak. Ras, gelowe, seksuele orientasies (waarvan daar klaarblyklik nou meer as n honderd is ens. . Sterkte.

Pietertjie ·

Dit help die leerders ongelooflik baie as hulle volgens vermoëns geskei word, en elke groep dan volgens hulle behoeftes hanteer word. Ek praat van ONDERVINDING.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.