Sakpas kreatiewe dienste vir kleiner ondernemings

(Foto: Homajob/ Unsplash)

ETIKET en Sum of 21 het onlangs SmallBiz.Rocks bekendgestel. Dié nuwe organisasie is geskep om klein en mediumgrootte sakeondernemings (KMO’s) by te staan met handelsmerkontwikkeling en bemarking.

Die inisiatief sal KMO’s help om hul handelsmerk en teikenmarkte uit te brei. Een van die grootste doelwitte van SmallBiz.Rocks is om werk te skep, wat op sy beurt sal lei tot die groei en ontwikkeling van die ekonomie.

Janhendrik Oosthuizen, groepshoof van visiebestuur, het aan Maroela Media benadruk dat KMO’s ’n belangrike rol in die herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie speel.

“Ons het besef dat werkloosheid in Suid-Afrika toeneem en dat al hoe meer mense hul eie sakeondernemings op die been bring. Ons het ook besef die kleiner sakeondernemings het gewoonlik die grootste behoefte aan kreatiewe dienste soos bemarkings- en advertensiedienste. Dit is gewoonlik ook die segment wat dit nie kan bekostig nie en daarom het ons SmallBiz.Rocks op die been gebring.”

Oosthuizen het verder verduidelik dat die dienste van SmallBiz.Rocks se bekostigbaarheid geskik sal wees vir KMO’s wat hul oë op uitbreiding rig.

“Dit is werklik iets om na die mark toe te bring wat bekostigbaar is vir kleiner sakeondernemings en om hulle te help om hul stories saam te stel. As ek sê stories, bedoel ek die bepaling van wie en wat hulle is en wat hulle uniek in die mark maak.”

Dié nuwe inisiatief fokus op strategiese handelsmerkplasing om te verseker dat elke KMO se storie van uniekheid vertel word.

ETIKET en Sum of 21 is al langer as 14 jaar as kreatiewe agentskap doenig. “Ons het al met meer as 200 KMO’s sake gedoen en terselfdertyd saam met die grootste handelsmerke in die land gewerk. Ons weet dus hoe om die kundigheid van ’n groot handelsmerk te verpak in ’n oplossing wat ’n KMO se denke en werkswyses pas.”

SmallBiz.Rocks bied vyf pakkette vir KMO’s aan. Omdat dié ondernemings heelwat in grootte en ingewikkeldheid kan verskil, kan ’n KMO die pakket kies wat die ondernemings se spesifieke behoeftes pas. SmallBiz.Rocks bied ook sakpas pakkette aan vir ondernemings wat hul eie pakket wil saamstel. Met elke pakket ontvang die KMO ’n aantal maandelikse krediete wat dan aangewend word om bemarkingsmateriaal met verloop van tyd saam te stel.

Lesers wat graag meer te wete wil kom oor SmallBiz.Rocks kan gerus die webwerf besoek.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.