Stem en wen: Help kies Maroela se Winterbruid

Afrikaanse meisies maak die mooiste bruide – dis nou maar gewis!

Maroela Media gaan met elke seisoen ʼn seisoenebruid aankondig en aan die einde van die jaar gaan ons lesers ook die geleentheid kry om die Bruid van die Jaar aan te wys.

Ons het vanjaar reeds ʼn Somerbruid en ʼn Herfsbruid aangewys.

Paartjies wat tussen Junie 2023 en Augustus 2023 getrou het, het vir die Winterbruid in aanmerking gekom.

Uit honderde inskrywings moes ʼn beoordelaarspaneel behoorlik kopkrap! Ons het die top-10 Winterbruide saamgestel en nou wil ons by julle, ons lesers, hoor watter een van dié mooie bruide as die Winterbruid aangewys moet word en uiteindelik deurdring na die finale ronde as Maroela se Bruid van die Jaar.

Ons gaan deur die loop van die jaar ook nog ʼn Lentebruid (September – November 2023) aanwys. Hou dus Maroela dop as jy wil seker maak jy skryf vir dié opwindende kompetisie in!

Wat kan jy wen?

Twee gelukkige Maroela-lesers, wat aan die stemmery vir die Winterbruid deelneem, staan die kans om elkeen ʼn Will & Jacob-horlosie te wen. Dié horlosies kos R2 572,00 elk.

Die twee gelukkige wenners sal elkeen van die webwerf https://will-jacob.com/ kan kies watter horlosie hulle graag wil hê.

Stem vir jou gunsteling uit die Winterbruid-finaliste en kom in aanmerking vir dié wonderlike prys. Jy het kans tot 27 September 2023 om vir jou gunsteling te stem.

Will & Jacob-horlosies: ʼn Samesmelting van luukse en bekostigbaarheid

’n Boeiende samesmelting van luukse en bekostigbaarheid het op die Suid-Afrikaanse horlosietoneel aangebreek met die bekendstelling van Will & Jacob-horlosies, reguit uit Europa. Hierdie horlosiehandelsmerk bevat die tydlose essensie van Europese vakmanskap terwyl dit ‘n dapper stelling van styl maak wat by almal aanklank vind.

Will & Jacob-horlosies is op 25 April vir die Suid-Afrikaanse mark tydens ʼn eksklusiewe geleentheid in Pretoria bekendgestel. Die geleentheid is bygewoon deur bekende persoonlikhede, beïnvloeders, kunstenaars en modelle en het die handelsmerk se verbintenis tot estetika en elegansie weerspieël.

Wian en Jaco Smith-Venter, die ontwerpers agter die handelsmerk, het hierdie reis aangepak met ʼn gedeelde aspirasie: om horlosies te skep wat luuksheid uitstraal sonder die onbetaalbare prysetiket. Dié egpaar, wat pas ‘n babadogtertjie gehad het, sê dat die handelsmerk ʼn spesiale persoonlike betekenis vir hulle inhou. “Ons is mal oor luukse items, maar dit is gewoonlik te duur. Ons wou ’n bekostigbare horlosie skep wat steeds stylvol is omdat ons voel almal verdien daardie tipe luukse,” het Jaco verduidelik.

Will & Jacob-horlosies word gekenmerk deur hul uitsonderlike gehalte, minimalistiese ontwerp en gewaagde elemente, wat kompromislose styl en gemak verseker.

“Ons horlosies is nie net bekostigbaar nie, maar ook kwaliteitstukke wat baie gemaklik is om te dra.”

Die horlosies het reeds aandag getrek vir hul tydlose elegansie en noukeurige vakmanskap. Elke horlosie weerspieël die toewyding van sy ontwerpers tot uitnemendheid, en omhels beide moderne estetika en die kuns van horlosiemaak.

Will & Jacob-horlosies

Met ʼn Europese bekendstelling wat volgende maand in Amsterdam geskeduleer is, het Will & Jacob-horlosies hul dankbaarheid uitgespreek vir die ondersteuning wat hulle ontvang het, en erken dat deursettingsvermoë die sleutel tot hul sukses was. “As jy dit kan droom, kan jy dit doen, maar net deur volharding,” het Wian aangeraai.

Will & Jacob-horlosies is gereed om die luukse horlosielandskap te herdefinieer en die harte vas te vang van diegene wat beide uitstekende ontwerp en bekostigbaarheid waardeer.

Terwyl die handelsmerk sy internasionale reis aanpak, bly dit diep gewortel in sy Suid-Afrikaanse oorsprong. Met ʼn fokus op kwaliteit en elegansie, is elke horlosie ‘n bewys van die handelsmerk se verbintenis tot uitnemendheid. Vir meer inligting besoek: https://will-jacob.com/

Hier is die top-10 Winterbruide

Die uiteindelike wenner van ons Winterbruid-kompetisie wen twee nagte vir twee persone wat deel by Zimbali Lodge (insluitend ontbyt) naby Ballito aan die noordkus van KwaZulu-Natal met die komplimente van Dream Hotels and Resorts.

Antoinette du Plessis

Antoinette du Plessis

Antoinette en Déan du Plessis van Heidelberg (Gauteng) het op 23 Junie 2023 by The Stone Cellar getrou.

“Ek en Déan ken mekaar al sewe jaar lank en het nie lank uitgegaan voor hy die groot vraag gevra het nie. Ons dag het ʼn hele paar foute en draaie gehad. Ons het die oggend opgestaan met baie mis en gevriesde pype, ons platejoggie was baie vreemd en my rok het geskeur en is reggemaak met vislyn omdat ons nie naald en garing in die hande kon kry nie (haha!). Ons dag was egter gevul met soveel liefde. Ons albei is wintermense en wou ʼn warm gevoel by ons troue geskep het – met lekker sop en baie rooiwyn dink ek het ons dit perfek reggekry. Ons vriende het tot die vroeë oggendure met ‘n luidspreker, rooiwyn en oorskiet malvapoeding in die plaashuis gekuier. Daar is eintlik nie woorde om hierdie dag op te som en te beskryf nie. Nie net het ek aan my lewensmaat ewige trou beloof nie, maar elke gas wat teenwoordig was, het dit in oorvloed saam met ons gevier.”

Melindi Hattingh

Melindi Hattingh

Melindi en CJ Hattingh van Kroonstad het op 24 Junie 2023 by die Mariendal Wedding Venue getrou.

“Ons het op ʼn plaas in die Vrystaat se vlaktes getrou. Ons seremonie was in die veld tussen die goue gras en ons onthaal in die skuur, opgemaak met liggies en rustic dekor om te pas. Ons aardse groen skakerings saam met leer, hout en eenvoud het die afronding van ons troue perfek gemaak. Ons het in die koue Vrystaat ʼn koffiekroeg en die beste boetiekbrouery in Kroonstad se stylvolle bier en jenewer gehad vir ons gaste. Ons voorgereg het van ons gunstelingtipes ‘straatkosse’ ingesluit. Dit was ʼn treffer. Die meel op die dansvloer saam met ons platejoggie en die kosbare mense in ons lewe het ons spesiale dag mooi afgesluit.”

Carla Luus

Carla Luus

Carla en Wessel Luus van Pretoria het op 15 Julie 2023 by Kuthaba Bush Lodge getrou.

“Ons kry nie genoeg van die bos nie, toe trou ons maar vir ‘n hele naweek in die bos! Kameelperde is van nou af ons ‘soul animal’, want toe ons in die Krugerwildtuin verloof geraak het, het kameelperde nader gekom asof hulle ons kom gelukwens. By die troue, terwyl ons foto’s geneem het, het kameelperde weer uit die bos gekom en vir ons kom gelukwens en ons wonderlike agtergrond gedeel vir foto’s. Ons het in Freedom of Movement-vellies getrou (natuurlik, want ons is mos op ‘n plaas), en ons strooijonkers en strooimeisies het ook vellies aangehad. Minimalistiese tafeldekor met proteas, bloekomblare en kersies het die prentjie afgerond.”

Nadia Theart

Nadia Theart

Nadia en Andrico Theart van Brackenfell het op 17 Junie 2023 by Langkloof Roses getrou.

“Dit was ongelooflik! Die dag het begin met onophoudelike reën, maar alles was skoon en kalm en ek het dadelik geweet die dag is hier waarvoor ons so lank gebid het. Ek is bedien met ʼn lekker groot plaasontbyt in my bed voor al die pamperlang terwyl die bruidegom ontbyt saam met die gaste geniet het. Ek het geen strooimeisies gehad nie, dit was net my ma en dit was nog meer spesiaal, omrede ek die enigste kind is. Tydens die grimering en hare het die tyd vinnig gevlieg en voor ek my oë kon uitvee was dit tyd vir aantrek en ons ‘first touch’ waar ons ʼn gebed vir ons troudag gedoen het. Op daardie oomblik het dit gestormreën en was dit net seëninge en trane van blydskap. Die oomblik toe die groot houtdeure oopskuif en ek en my pa afstap en ons mekaar sien, was al die senuwees verby. Ná die seremonie het ons gaste heerlike kos en drankies geniet terwyl ons golden moments gehad het vir foto’s. Die res van die tyd het ons saam met ons gaste fees gevier. Alles was perfek op tyd tot die reën en God se genade.”

Mila Coetzee

Mila Coetzee

Mila en Franco Coetzee van Johannesburg het op 10 Junie 2023 by Memoire Wedding & Function Venue in Muldersdrift getrou.

“Dit was ons perfekte droomdag gevul met ʼn wipplank van oorweldigende emosies op soveel vlakke … ʼn Dag vol liefde, lag en trane van vreugde, en die byna tasbare teenwoordigheid van God. Dit was ons sprokiesverhaal, gevul met warm winterskleure en geure, wat waar geword het.”

Natasha Lourens

Natasha Lourens

Natasha en Konstant Lourens van Brackenfell het op 24 Junie 2023 by Asara Wine Estate in Stellenbosch getrou.

“Wanneer ek terugdink aan my en Konstant se troue herinner dit my aan ʼn pragtige belofte van God wat vervul en nagekom is. Terwyl ons die troue beplan het, het almal vir ons gesê om elke oomblik te geniet. Sielkundig was ons voorbereid dat daar wel uitdagings kon wees, maar toe ons nie vir skoonma of skoonsus tydens die diens in die kerk sien nadat ons hulle nog die oggend voor kerk diens gesien het nie, het dinge nogal paniekerig begin raak voor die kansel. Meer hieroor later! Die kerkdiens is waargeneem deur pastoor Johan de Beer van CE Cape Town North. Ek het die kerk binnegestap op die liedjie “Freely” van Loverworld Singers. Ons het 150 gaste by die kerk gehad en vir die onthaal was daar 80 gaste. O ja! Skoonma en skoonsus was per ongeluk toegesluit by die gastehuis waar al die vroue gereed gemaak het vir die troue voor die tyd maar het betyds uitgekom om nie die kerkdiens heeltemal mis te loop nie.”

Rézaan Jordaan

Rézaan Jordaan

Rézaan en Heinrich Jordaan van Welkom het op 15 Julie 2023 by die Uitsig Boutique Hotel getrou.

“Ons troudag is sonder twyfel een van ons kosbaarste herinneringe! Ons verlang terug na die oomblik toe ons mekaar vir die eerste keer voor die kansel gesien het. Ons herinner onsself daagliks aan die boodskap van die predikant: ‘Enige gelukkige huwelik vra ‘n egskeiding van jouself. Dit is nie meer ek nie, maar ons.’

“Ons ouers se opgewonde gesigte toe hulle besef dat hulle amptelik nog ‘n kind bygekry het, sal ons vir altyd bybly. Ons het besef dat ‘n doelgerigte strooinooi wondere kan verrig met ‘n bos Woolies-tulpe en dat ‘n rampspoedige ruiker ‘n kleinigheid is. Die strooijonkers kan perfek in een woord opgesom word: Ysters!

“Ons glo vas dat ons vir die res van ons lewens op pampoenkoekies en skaapspit sal kan oorleef. Ons glimlag breed oor die glase en dansvloer wat die hele aand vol was en lag uit ons maag as ons terugdink aan die seremoniemeester se opmerkings.

“Ons klink ‘n glasie op familie wat vir ons lief is en vriende wat ons sonder ophou ondersteun! #JoligJordaan”

Thoné Martinson

Thoné Martinson

Thoné en Tehan Martinson van Tsumeb, Namibië het op 12 Augustus by die Welgelegen Cherry Estate getrou.

“Ons dag het tussen die asemrowende Oos-Vrystaatse Drakenberge afgespeel. Ons het getrou met die berge en dam in die agtergrond. Dit was ʼn lekker plattelandse troue met net die beste gaste, wat elke oomblik van die dag saam met ons geniet het.”

Isabel Morgan

Isabel Morgan

Isabel en Marcel Morgan van Rustenburg het op 8 Julie 2023 by Doringrant Wedding Venue & Guest Farm getrou.

“ʼn Perfekte winter-Bosveld-bruilof gevul met soveel liefde, geluk en feesviering saam met ons familie en vriende. Die Here het ons gespaar vir mekaar en geseën met mekaar. Ons het nog altyd gedroom van ʼn tradisionele Bosveldtroue en op 8 Julie het ons droom waar geword. ‘n Afrika-sonsondergang met wild in die agtergrond, ʼn sjerrie op die stoep, pampoenkoekies op die spyskaart en lekker sokkietreffers om die aand mee af te sluit.”

Elizke Kilian

Elizke Kilian

Elizke en Morné Kilian van Gqeberha (Port Elizabeth) het op 1 Julie 2023 by The Plantation in Sardiniabaai getrou.

“Ek is die oggend wakker gemaak met ʼn videoboodskap van my bruidegom, wat hy die vorige dag reeds opgeneem het by ons spesiale plekkie by die see. Ek het met trane in my oë vir Jesus dankie gesê dat Hy ons tot hier gebring het, en dat ek ʼn bruid kon wees. Deur al die haarsproei, grimering, en parfuum het ek en Morné vir oulaas ʼn liefdesbriefie as ongetroudes vir mekaar gegee. My pappa is sewe jaar terug oorlede, maar ek was nie alleen nie. My liefste skoonpa het my kom optel in ons troukar, en my dierbare mamma kon my hand vashou terwyl ek na my bruidegom stap: die liefde van my lewe, my eerste en enigste liefde, my Mornétjie. Ná die diens in die kapel, en al die toesprake, trane, koek sny, eerste dans, en soentjies, kan ons werklik getuig dat ons troudag ʼn dag was waar Jesus verheerlik is. Die liefde wat ons vir Hom het, en die liefde wat ons vir mekaar het, was so sigbaar, en ons prys Hom daarvoor, want dit was al wat ons wou hê: ʼn dag waar die liefde gevier kon word.”

Stem nou

Die kompetisie het gesluit.

Bepalings en voorwaardes

  • Die sluitingsdatum om vir die Winterbruid te stem is 27 September 2023 om 23:45.
  • Die twee wenners van die Will & Jacob-horlosies sal lukraak uit alle stemme gekies word.
  • Die beoordelaars se beslissing is finaal en geen korrespondensie sal daaroor gevoer word nie.
  • As jy aan die stemmery deelneem, stem jy in dat jou naam op Maroela Media se webwerf bekendgemaak mag word indien jy as een van die wenners van die Will & Jacob-horlosies aangewys word.
  • Maroela Media kan nie aanspreeklikheid aanvaar as jou inskrywing vir een of ander tegniese rede ons nie betyds bereik nie.
  • Die prys(e) kan nie vir kontant omgeruil word nie.
  • Maroela Media sal elkeen van die wenners telefonies en per e-pos kontak.
  • Indien jy nie van ons hoor nie, kan jy aanvaar dat jy nie een van die wenners is nie.
  • Inskrywings vir die Lentebruid sal plaasvind tussen September en November 2023. Inligting en inskrywingsvorms hiervoor sal deur die loop van die jaar op Maroela Media bekendgemaak word. Jy kan ook Maroela Media se Bruid van die Jaar-blad dophou.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.