Stigting wil gesinne met spesiale behoeftes steun

hannes-viljoen-947-fietswedren-2018

Hannes Viljoen op sy fiets in die VSA besig om voor te berei vir die plaaslike 94.7-fietswedren. Foto: Facebook.

Hannes Viljoen, stigter van die Brain Child-stigting wat deesdae in die VSA woon, gaan vanjaar weer aan die 94.7-fietswedren deelneem om op dié manier hoop vir gesinne met spesiale behoeftes te bring.

Hy keer in November terug na Suid-Afrika om aan die fietswedren deel te neem as deel van sy bewusmakingsveldtog. Hy het verlede jaar ook die wedren aangepak. Vanjaar word hy deur ʼn span van 65 ryers en ʼn “backabuddy”-veldtog begelei.

Viljoen wil ook vanjaar probeer om die Brain Child-stigting se aanlyn ondersteuningsprogram en netwerk aan meer Suid-Afrikaners bekend te stel.

Viljoen en sy vrou, Jana, het vier kinders, met drie van dié kroos wat spesiale behoeftes het. Kyna het op 13 maande ʼn pediatriese beroerte gehad wat haar ʼn hemipleeg gemaak het, verlam aan die een kant van haar lyfie. Gian, hul tweede oudste seun, is met Down se sindroom gediagnoseer en Leo is op die outistiese spektrum. Abigale is ʼn normale agtjarige dogtertjie.

Die Brain Child-stigting fokus aan die een kant op die Hope for the future-ondersteuningsnetwerk, waar mense met dié soort uitdagings hul stories kan vertel. “Ons het reeds ʼn netwerk in Suid-Afrika met 225 gesinne wat tans deel van die netwerk vorm. Ons noem onself ʼn “tribe” en ons hou weekliks ʼn vergadering met Zoom om ouers wat deur dieselfde soort uitdagings in die gesig gestaar word bymekaar uit te bring en te ondersteun.”

Viljoen verduidelik dat die jaar se veldtog daarop gemik gaan wees om meer ouers te betrek en die ouers uit hul afsondering te kry. “Wanneer ʼn kind met spesiale behoeftes gediagnoseer word, is dit dikwels ʼn traumatiese ervaring vir die ouers. Hulle word depressief en voel daar is geen hoop nie en geen toekoms nie.”

Hy sê die Brain Child-stigting wil vir die ouers die gereedskap gee om die glorie in die gebrokenheid van hul kinders te sien. “Ons mandaat van die Here is om ʼn nuwe standaard oor hoe gemeenskappe dié gesinne moet ondersteun en behandel, daar te stel. Ons roeping is om versoening te doen, so ons gebruik die geleentheid wat ons het om na ouers te kom om hulle te versoen met die Here, met hulself, met hul kinders en die gemeenskap.”

Benewens die ondersteuningsnetwerk werk die Brain Child-stigting ook saam met die Family Hope Centre (FHC), ʼn organisasie wat daarop toegespits is om kinders met breinbeserings en neuro-ontwikkelingsversteurings te help. Dit vorm deel van die tweede been van die stigting se program, onder die Truth for the now-banier.

Dié program fokus op die wetenskap wat gepaardgaan met kinders met spesiale behoeftes. “My kind het nie outisme nie, hy het ʼn breinbesering. Dis hoe ek dit genees, met terapie wat op wetenskap gebaseer is.”

Jana, Kyna, Leo, Abigale, Hannes en Gian geniet die wintersneeu in die VSA. Foto: Verskaf.

Viljoen en sy gesin het reeds in 2010 na die VSA verhuis om die FHC se ontwikkelingsprogramme vir hulle kinders te volg. Hulle het sedertdien ongelooflike resultate gesien en ook verbetering in hul kinders se ontwikkeling.

Pippie Kruger, die brandslagoffertjie wat baie Suid-Afrikaners se harte aangegryp het, het in 2017 FHC-terapie ondergaan met die Brain Child-stigting se steun. Pippie se ma, Anice, het verlede jaar ook aan die 94.7-wedren namens die Brain Child Fund deelgeneem.

“Ons fokus nie net op die ouers nie, maar op terapeute, hospitaalsusters en dokters wat die gesinne behandel, en ook die gemeenskappe om hulle. Hierdie ouers moet weet hulle is nie alleen nie, daar is mense wat wil help.” In die program leer ouers en terapeute nuwe tegnieke aan om kinders te behandel. Terapeute verwerf 24 CPD-punte as hulle die kursus bywoon.

Viljoen verduidelik dat die terapie wat deur die FHC aangebied word, hand aan hand gaan met die ondersteuningsnetwerk. “Deur die ouers, wat eensgesind is, die geleentheid te gee om mekaar te ondersteun gee hulle nooit op hulle kinders nie en is hulle meer intensief betrokke met die terapie-tegnieke. Sonder hierdie ondersteuningsnetwerk sien baie ouers nie kans om so iets aan te pak nie.

“Wanneer daar versoening en genesing is, leer ons die ouers ook om vier ondersteuningspanne te bou, een vir geestelike gesondheid, een vir emosionele ondersteuning, ʼn fisieke bystand span en ʼn finansiële span. Dis ʼn holistiese benadering.”

Vanjaar gaan Viljoen kursusse as deel van ʼn bewusmakingsveldtog in Durban, Prieska en Johannesburg aanbied. “Ons is ook besig om ʼn veldtog van stapel te stuur in Nelspruit, Kaapstad, Somerset-Wes, George, Pretoria, Durban en Johannesburg om wat ons ʼn skaapherder-ma noem in elke dorp te identifiseer, wat ons dan met ʼn terapeut kan verbind om deurlopend die kursusse aan te bied en die ondersteuningsnetwerk te bou.

“Dit is uit daardie behoefte dat ons doen wat ons doen. Die ouers is alleen. Ek en my vrou het soms net op genade gesteun, maar ons behoud was dat ons nooit gelyk platgeslaan was nie. As ek op moedverloor se vlakte was, was sy oukei en so het ons afgewissel.”

Die Brain Child-stigting het onlangs ʼn prysuitdeling vir Suid-Afrikaanse gesinne wat deur die terapie gewerk het en uitsonderlike verbetering getoon het, gehou. By dié geleentheid is sertifikate van verbetering in breinfunksie en vordering op die gebied van mobiliteit wat in die voorafgaande ses maande bereik is, uitgedeel.

Een gesin van Oudtshoorn was naby aan moed verloor. Hul seun is met outisme gediagnoseer en het jare lank met sensoriese en tas-kwessies gesukkel. Hy het ook ʼn lae spiertonus gehad. “Ons kon nêrens met hom gaan nie; hy kon nie reuke of klanke hanteer nie en sy optrede het gemaak dat ons amper in afsondering begin leef het,” het die ma, wat verkies om anoniem te bly, gesê.

Nadat hulle die terapiekursus wat deur die Brain Child-stigting aangebied word toegepas het, kon hulle vir die eerste keer in jare na ʼn verjaardagpartytjie gaan. Hier het die gesin se seun nie net klanke en reuke hanteer nie, maar het hy ook sosiaal met ander kinders verkeer. “Hy het selfs op ʼn kameel gery!” het die ma vertel.

Dit is egter net een van die talle suksesverhale wat die stigting tot dusver beleef het. “Ons visie is dat daar oor vyf jaar van nou af ʼn ondersteuningsnetwerk reg oor die wêreld sal wees, waar mense verstaan en bereid is om te luister. Ons wil mense wys dat hulle nie net die simptome nie, maar die oorsaak, moet behandel.”

Viljoen sal van 13 tot 25 November in Suid-Afrika wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.