Studiefonds ʼn reddingsboei vir aspirantjoernalis

Argieffoto (Foto: Maroela Media)

Die afgelope week het sosialemediaplatforms gegons ter voorbereiding en viering van Taaldag wat vandag (14 Augustus) herdenk word.

Party organisasies keer terug na die wortels van Afrikaans met paneelbesprekings oor die toe en nou van die taal, terwyl ander weer beraadslaag oor die behoud van Afrikaans. Tussen die ernstige gesprekke deur neem sosialemediagebruikers gretig aan “Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord”-peilings op Facebook deel met woorde soos “verruklik”, “klopdisselboom” en “Tweebuffelsmeteenskootmorsdoodgeskietfontein” wat boaan die gewildheidsleer staan.

Marianne Pouwels, ontvanger van Maroela Media se studiefonds en eerstejaarstudent by Akademia, skaar haar by die groep hoopvolles wat onwrikbaar glo dat Afrikaans ʼn kanniedood is. Op Taaldag deel sy dié boodskap oor haar moedertaal:

“Ek dink die toekoms van Afrikaans is niks minder nie as rooskleurig en opwindend. Dit is belangrik om te onthou dat alle tale groei of krimp in reaksie op kulturele veranderinge en die mate van agting wat die samelewing daarvoor het. Solank as wat Afrikaans deel is van ons kultuur (wat na my mening vir altyd sal wees) sal dit tot in lengte van dae nog voortbestaan.”

Net soos wat Afrikaans deel van ʼn kultuur is, was dit ook nog altyd ʼn integrale deel van Marianne se lewe. Sy sê juis dat klein Marianne ʼn babbelkous was en dat die ryk woordeskat een van haar gunstelingaspekte van Afrikaans is.

“Van die dag dat ek gebore is, praat ek my familie se ore van hulle koppe af. My ma sê ek praat selfs in my slaap,” skerts sy.

“Ek dink ʼn groot rede waarom ek so lief vir Afrikaans is, is juis omdat daar ʼn skatkis vol woorde is wat net so lekker oor ʼn mens se tong rol en na my mening kry min ander tale dit reg.”

Marianne Pouwels is die ontvanger van Maroela Media se studiefonds en eerstejaarstudent by Akademia. (Foto: Verskaf)

Marianne is een van die eerste studente wat vanjaar vir Akademia se BA-graad (Kommunikasie en Joernalistiek) ingeskryf het. Sy is ook die eerste student aan wie Maroela Media se studiefonds toegeken is. Die fonds is in 2020 bekendgestel en is spesifiek vir studente wat joernalistiek wil studeer, maar wat nie tersiêre studie kan bekostig nie.

As die oudste kind van vier, is die studiefonds vir Marianne van onskatbare waarde. Sy het nog altyd geweet dat sy wou skryf, maar was nie seker of en hoe haar droom verwesenlik sou word nie. Terwyl ander matrikulante dalk nog oor hul studie en loopbaan kopgekrap het, het Pouwels net één loopbaanrigting voor oë gehad en sy was vasbeslote om dié pad in Afrikaans te stap.

“Baie min mense weet presies wat hulle wil studeer, maar ek het nooit getwyfel nie,” verklap sy. Volgens Marianne kom haar liefde vir taal al van kleins af en sy kan die dag waarop sy haar liefde vir skryf ontdek het, onthou asof dit gister was.

“Ek was in graad drie en het in daardie jaar aan ʼn landwye kompetisie deelgeneem waarvoor jy jou eie boek moes skryf. Ek was verskriklik opgewonde en het weke daaraan gewerk. Hoewel ek in daardie stadium ongelooflik trots was op die eindproduk, lag ek nou lekker vir myself wanneer ek dit lees.”

Marianne het die derde plek verower en het net daar besef dat sy haar passie gevind het en dat dit is wat sy vir die res van haar lewe wou doen.

Die droom het nooit vervaag of soos modegiere ná ʼn jaar of wat verdwyn nie. Toe sy van die studiefonds hoor, het sy dadelik ingeskryf, maar nie regtig verwag dat sy in aanmerking sou kom nie.

“Ek was in ekstase, maar terselfdertyd senuweeagtig en opgewonde. Sonder die finansiering dink ek nie ek sou kon doen wat ek doen nie. Hierdie beurs is die sleutel tot my toekoms en ek sal selfs sê my gelukkigheid ook,” sê Marianne.

Akademia bied uitnemende opleiding en opvoeding van hoogstaande gehalte aan Afrikaanse studente wat graag in hulle moedertaal wil studeer. Marianne sê Akademia gee vir haar die hoop dat die behoefte aan onderrig in Afrikaans nooit sal weggaan nie.

“Die feit dat ek in my moedertaal kan studeer, is bitter spesiaal. Ek dink die blote feit dat Akademia bestaan, is ʼn goeie voorbeeld dat daar altyd ʼn behoefte aan onderrig in Afrikaans sal wees,” meen sy.

Marianne vertel verder met groot opgewondenheid dat dié instelling ook in ander terreine van haar studentelewe ʼn tuiskoms bied.

“Ek het aan die begin van die jaar ʼn paar vriendinne ontmoet wat intussen baie na aan my geword het. Ek kan nie eens begin om te beskryf hoe wonderlik Akademia is nie.

“Hier is ʼn gevoel van familie en ek voel belangriker as net ʼn nommer. Al my dosente ken my by die naam en ek het ʼn goeie verhouding met hulle. Ek is absoluut versot op wat ek studeer.”

Maroela Media het ook met dr. Alé Steyn, programkoördineerder vir kommunikasie en joernalistiek by Akademia, gesels en by haar uitgevind hoe dit met die eerste studente gaan wat hulle vir hierdie graad ingeskryf het.

Studente op Akademia se Centurion-kampus, gereed om klas by te woon. (Foto: Verskaf)

“Die Covid-19-pandemie het talle uitdagings vir studente landwyd gebied, maar wat wonderlik is by Akademia in geheel is dat klasse ononderbroke voortgegaan het. Ek kan met soveel oortuiging sê dat dit goed gaan met ons studente.”

Volgens Steyn is dié klein groepie studente hardwerkend en toegewyd. “Ek ervaar ʼn gevoel van entoesiasme onder hulle en dit is wonderlik om te sien hoe elkeen nou in die tweede semester begin om sy of haar voete te vind,” sê sy.

Afrikaans vorm deurgaans die hoeksteen van die opleiding wat kommunikasie- en joernalistiekstudente ontvang, sê Steyn. Daarmee saam word hulle nie net gelei om ʼn basiese stel vaardighede te ontwikkel nie; hulle word ook goed opgelei om in ʼn digitale omgewing te funksioneer en verantwoordelik, sinvol en doelgerig binne bepaalde kontekste met digitale media om te gaan.

Voornemende studente het reeds begin om vir dié graad in te skryf en sover lyk 2022 se studentegetalle belowend. Steyn sê sy sien uit na volgende jaar en na die pad wat sy en haar span saam met hierdie studente gaan stap.

Terwyl Afrikaans voortdurend in die spervuur beland en die toekomsbeeld somber blyk te wees, gaan Akademia ongesteurd voort om ʼn nuwe tuiskoms vir Afrikaanse studente te bou. Met die vooruitsig van nuwe kwalifikasies, ʼn dinamiese studentegemeenskap wat goed op dreef is en blink toekomsmoontlikhede wat wink, is dit heel duidelik dat Afrikaans nie aan’t uitsterf is nie.

Steyn, wat self vir ʼn tydperk in die buiteland gebly het, wys daarop dat Afrikaans altyd in aanvraag sal wees.

“Daar is tog iets lekkers daarin om in jou moedertaal bedien te word. En of jy nou hier in Suid-Afrika of elders in die wêreld is, bied dit ʼn soort tuiskoms om byvoorbeeld die nuus in jou eie taal te lees.”

  • Voornemende studente wat volgende jaar vir Akademia se BA-graad (Kommunikasie en Joernalistiek) wil inskryf, word uitgenooi om die opedag op 4 September by te woon. Daar is beperkte sitplekke per sessie beskikbaar. Besprekings vir hierdie sessies word op Akademia se webblad

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Waar gaan sy eendag werk kry? Weet sy van regstellende aksie en BEE? Ek het later maar gelieg op my CV deur te sê ek het niks op universiteit bereik nie. Ek was moeg van hoor dat my grade my laat oorgekwalifiseerd lyk of dat ek verkeerd gekwalifiseerd is. Lieg op my CV, deur aan te dui dat ek “dom” is, het sowaar vir my uiteindelik ordentlike werk gegee.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.