Tekkies en Toks vir ons kinders se toekoms

Vlok Cilliers (Foto: Verskaf/Helpende Hand)

Deur Vlok Cilliers

Children are the only future the human race has. Children only ask for love, time and attention.

Kinders lê my na aan die hart en hulle vra nie baie nie. As ons dit nie ons verantwoordelikheid maak om na hulle om te sien en ’n beter toekoms te gee nie, wie anders gaan dit dan doen?

Daarom het ek en my VlokSkop Stigting saam met Morné Steyn besluit om hande met Helpende Hand te vat om die Tekkies & Toks-projek van stapel te stuur. Ons wil met hierdie projek ’n omvangryke verskil maak in ons land, ons omgewing, binne in ons gemeenskap en kinders sodoende help, opvoed en oplei.

Ons gaan nie net skoene aan hul voete sit nie, maar, meer belangrik, op ander vlakke positiewe bydraes tot ons kinders maak. Ons wil probeer om kinders op ’n geestelike vlak te help, maar ook emosioneel en liggaamlik. Hierdie aspekte gaan almal hand aan hand met mekaar.

In die tye waarin ons tans leef met hierdie Covid-19-pandemie, word mense en soveel meer kinders geïsoleer van hul maats en ons almal weet hoe belangrik dit vir kinders is om sosiaal te verkeer.

Dus, met hierdie veldtog wil ons kinders weer hoop gee, hulle weer in hulself laat glo, selfvertroue kweek, en hulle leer dat vandag se besluite môre se planne beïnvloed. Ons wil kinders help om weer hul drome na te jaag.

Ons as mense is nie gemaak om alleen te wees nie en veral as jou vryheid weggeneem word en jy is geïsoleer, raak dit net al hoe moeiliker om deur elke dag te kom.

Daarom gaan ons ’n daadwerklike verskil maak in ons toekoms, met ander woorde ons kinders, en hulle weer hoop gee.

Onthou, kinders vra nie om in die wêreld te wees nie, al wat hulle vra is liefde, aandag en tyd. Kom ons gee dit vir hulle met hierdie projek.

  • Lesers wat dié projek wil ondersteun, kan www.tekkiesentoks.co.za besoek om uit te vind hoe om ’n verskil te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.