Triomfkliniek vier Doktersdag met lasertoerusting

Van Links na regs: Jana Wilbers (Atterbury Trust), sr Lynnette de Jager (Operation Healing Hands), dr. Tommie Swart, Jackie Britton (Operation Healing Hands), dr. Gerhard Herbst, Hannon Bothma, dr. Willi Sieling, dr. Marc Roscher, Ananja Koen (Atterbury Trust), dr. Gerhard Botha, sr. Wilna van den Heever, Deane’ Sealie (Atterbury Trust). (Foto: Verskaf)

Internasionale Doktersdag is hierdie jaar op 30 Maart gevier. Dié dag word wêreldwyd gebruik om dokters vir hul mediese dienste aan pasiënte te bedank en om op die belangrike rol van professionele medici in die gemeenskap te fokus.

Doktersdag was vanjaar besonder spesiaal vir Triomfkliniek, Atterbury Trust se gemeenskapsfasiliteit wat sedert 2014 uitmuntende gratis mediese sorg met waardigheid aan die behoeftige mense van Pretoria-Wes verskaf.

Dié kliniek het met ʼn skenking van gespesialiseerde lasertoerusting nuwe hoop aan mense met littekens of brandwonde gebied.

Dr. Marc Roscher, ʼn wêreldbekende plastiese chirurg, het hierdie toerusting van R1,5 miljoen geskenk. Op Internasionale Doktersdag is dit amptelik tydens ʼn funksie by die kliniek in Vom Hagen‑straat, Pretoria-Wes, oorhandig.

Verskeie dokters en ander belanghebbendes van Triomfkliniek het die dag saam met media, borge en vriende van Atterbury Trust bygewoon.

“Onlangse gevalle van brandwonde en littekens van pasiënte het my aandag gevestig op die gebrek aan ʼn spesialiskliniek in die omgewing wat hierdie soort behandeling bied,” sê Roscher.

Littekens kan verskeie vorme aanneem, onder andere oor-pigmentasie of gebrek aan pigmentasie, verdikking, keloïed-vorming en sogenaamde atrofiese littekens.

Roscher sê verder dat die behandeling van littekens ʼn nuwe veld in die mediese en estetiese wêreld geword het. Spesialisdokters (gewoonlik dermatoloë) kan met laser- en ligbehandeling, gespesialiseerde inspuitings en afrondingsprosedures, die meeste gewone brandwonde verwyder, of minstens dramaties verbeter, verduidelik Roscher.

Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, is opgewonde oor die uitbreidingsmoontlikhede wat die lasertoerusting vir pasiënte by Triomfkliniek inhou.

“Ons is dankbaar dat Roscher, een van die pioniers agter die stigting van die kliniek amper agt jaar gelede, steeds so betrokke is en hierdie noemenswaardige skenking aan die kliniek gemaak het.

“Dit beteken ons kan nou hoogs gespesialiseerde velbehandeling aan ons gemeenskap bied, alles in ʼn gemaklike omgewing en ʼn atmosfeer van waardigheid.”

Volgens Hulme het die span vrywilligerdokters reeds bykans 4 500 behoeftige pasiënte by Triomf gehelp. “Ons is hoopvol dat soveel meer mense genesing deur hierdie bykomende dienste sal ontvang.”

Die Triomfkliniek-span gaan eersdaags die nuwe litteken-kliniek onder leiding van ʼn kundige groep dermatoloë bekendstel. Dié diens sal aan alle pasiënte met littekens beskikbaar gestel word. Die moontlikheid om betalende pasiënte by Triomfkliniek se littekenkliniek te akkommodeer, word ook ondersoek. Hierdie inkomste sal aangewend word om ander dienste aan behoeftige pasiënte verder te subsidieer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Chantel ·

So wonder ek nou my myself, hoekom maak ons nie ‘n ophef oor ons dokters soos wat daar oor die “nursing” gemaak word nie. Hulle is immers ook mos belangrik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.