Van verbeelding na verhaal: Omskep jou storie in ‘n boek

Argieffoto (Foto: Mohamed Hassan/Pixabay)

Broei daar al vir jare ʼn storie in jou kop wat jy graag op papier wil vasvang? Dan is Skryfnet se inleidende skryfkursus, Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns, die oplossing waarna jy soek.

Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns, wat vanaf 24 Julie 2023 vir die sewende keer aangebied word, duur agt weke en fokus op die skryf van verhalende prosa in die vorm van die kortverhaal. Die beginsels en tegnieke wat deelnemers in hierdie kursus aanleer, kan toegepas word op verhalende prosa in enige genre – soos romans, jeugverhale, romanses of novelles.

Hierdie praktiese en inleidende kursus bestaan uit agt leergedeeltes (wat weekliks op kursusgangers se eie tyd deurgewerk word) met notas, video’s, praktiese opdragte, aanvullende leermateriaal en regstreekse aanlyn-sessies.

Die kursus is ontwikkel deur die bekroonde Afrikaanse skrywer prof. Hans du Plessis en word gefasiliteer deur die gesoute boekeredakteur en manuskripontwikkelaar Charlene Hougaard.

Die fasiliteerder lei die deelnemers om die inhoud en vaardighede te bemeester en gee ook weekliks terugvoer op praktiese werkstukke. Deelnemers kan ook enige tyd met mekaar gesels op die platform se kletskamer.

Deelnemers moet reeds ʼn eerste weergawe van ʼn kortverhaal gereed hê waneer hulle vir die kursus inskryf, omdat daar deur die loop van die agt weke daarop gefokus word om hierdie weergawe te verbeter aan die hand van die teorie en die fasiliteerder se terugvoer.

Na afloop van hierdie kursus sal deelnemers toegerus wees met die teoretiese kennis en praktiese vaardighede om ʼn eie verhaal te beplan, skryf en ontleed. Hulle sal ook kan spog met ʼn afgeronde kortverhaal en ʼn sertifikaat van Skryfnet.

Louise Buys het al een van dié kursusse bygewoon. Kyk bietjie wat sy te sê het:

Wat op aarde het Novak Djokovic en skryf met mekaar te doen? Luister gerus na terugvoer van Louise Buys wat Skryfnet se "Inleiding tot kreatiewe skryfkuns"-kursusse voltooi het. Jy kan ook jou skryfdrome bewaarheid! Loer hier: https://winkel.akademia.ac.za/product/inleiding-tot-kreatiewe-skryfkuns/

Posted by Maroela Media on Monday, July 3, 2023

Die kenners

Die geliefde Afrikaanse skrywer prof. Hans du Plessis het in 1978 gedebuteer met sy digbundel Kleinwild. Sedertdien het hy meer as 160 publikasies – waaronder akademiese artikels en boeke, ses digbundels, drie jeugromans en vier romans – die lig laat sien. Sy jongste roman, Die Inkommers, het in 2022 verskyn. Du Plessis het al verskeie pryse en toekennings vir sy werk ontvang, onder meer die ATKV-kinderboekprys en ʼn erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns.

Hy is reeds sedert 1985 betrokke by skryfkurssuse wat die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereeniging (ATKV) in samewerking met die Noordwes-Universiteit aanbied; hy was ook die eerste direkteur toe die ATKV-skryfskool in 1990 gestig is. Hy en sy vrou, Magdaleen, woon op Potchefstroom.

Charlene Hougaard het haar uitgewersloopbaan in 1989 by Via Afrika begin, waar sy aanvanklik prosa en poësie in Afrikatale uitgee. Met die implementering van Kurrikulum 2005 fokus sy op die uitgee van skoolhandboeke. Haar loopbaan by LAPA Uitgewers begin in 2005 in die algemene niefiksie-afdeling. Daarna werk sy in die vrouefokus-afdeling wat later deel word van die fiksie-afdeling. In 2019 besluit sy om ʼn vryskuttaalpraktisyn te word en spits haar toe op die redigering van manuskripte asook manuskripontwikkeling. Sy help ook sedert 2006 met die aanbieding van die ATKV Skryfskool vir liefdesverhale (Lenteskool) en het ook al by die Herfsskool opgetree.

Bespreek nou jou plek!

Jy kan uit een van twee opsies kies wanneer jy jou plek bespreek:

  1. Betaal ʼn eenmalige bedrag van R3 200 vir die agt weke kursus. Klik hier om jou plek te bespreek.
  1. Bespreek vir Inleiding tot Kreatiewe Skryfkuns én enige ander kursus van jou keuse (binne twaalf maande vanaf betaling) en kry R800 afslag. Klik hier om van die spesiale aanbod gebruik te maak.

Inskrywings vir hierdie kursus sluit op 20 Julie 2023.

Besoek Skryfnet se webblad vir meer inligting en antwoorde op gereelde vrae.

Skryfnet is ʼn projek deur Maroela Media en Akademia.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.