Video: Boks help om weggooi-babas te red

Mientjie en Wouter Prozesky by die ‘Baby Saver’-reddingsboks. (Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

“Julle gaan ʼn minibus vol kinders hê. Nie jou eie kinders nie, maar kinders wie jy gaan liefhê soos jou eie. God sal sorg.”

Dít is die woorde wat twaalf jaar gelede oor Mientjie en Wouter Prozesky se lewens uitgespreek is. Woorde wat vandag in die gange van elke Rock of Hope-huis van bewaring weerklink.

Rock of Hope is twaalf jaar gelede deur die Prozesky-egpaar van stapel gestuur. Dié organisasie het by die egpaar se huis in Pretoria ontstaan, en het in die tussentyd  na vyf ander huise uitgebrei. Daar is tans vier in Pretoria, en een in Middelburg. Daar is ook enkele huishoudings wat een baba op ʼn slag inneem.

“Ons wou ʼn organisasie open wat voel soos ʼn huis, nie ʼn kinderhuis nie. Die kinders moet weet dat dit hulle tuiste is,” het Mientjie aan Maroela Media verduidelik.

(Foto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Rock of Hope het pas sy heel eerste “Baby Saver”-boks bekend gestel. Dié boks is in die muur van Wouter en Mientjie se huis in Magalieskruin, in die noorde van Pretoria, ingebou. Dit dien as ʼn veilige opsie vir ʼn ma of pa om hulle baba te los, wanneer hulle voel hulle kan nie na die baba omsien nie.

Die deur van dié boks maak na buite oop, en is met komberse en ʼn sagte matrassie toegerus. Daar is ʼn alarmstelsel geïnstalleer wat geaktiveer word wanneer die drukplaat onder die matras geaktiveer word, met ander woorde, wanneer ʼn babatjie daarop geplaas word. Mientjie en Wouter ontvang dan elkeen ʼn oproep, wat soos ʼn sirene klink, om hulle in kennis te stel dat daar ʼn baba in die boks geplaas is.

“Daar gaan sowat 3 000 babas ʼn jaar dood weens verwaarlosing,” vertel Mientjie.

“Dit is vir ons ʼn groot ding om op dié manier ʼn verskil te kan maak, sodat daar minder kinders weens verwaarlosing sterf.”

Mientjie en Wouter droom al sedert hulle Rock of Hope se deure twaalf jaar gelede geopen het, om só ʼn boks te installeer.

Daar is ʼn rits prosesse wat met dié boks gepaard gaan, en het ʼn jaar geneem om eindelik ingerig en bekendgestel te word. Wouter en Mientjie beplan reeds om nog ʼn bababoks by een van die ander Rock of Hope-tuistes in Pretoria in te rig.

Daar is al 242 kinders deur Wouter en Mientjie se hande. Die hoeveelheid kinders wat deur die ander huise onder die Rock of Hope-vaandel versorg is, wissel van 10 tot 130.

Mientjie en Wouter nooi mense uit om by die organisasie betrokke te raak. Daar is altyd plek vir vrywilligers, vertel Mientjie, en daar is veral nood vir doeke, melk en waspoeier, aangesien daar daagliks twaalf bondels wasgoed in die huis gewas word.

“Dit maak nie saak hoe groot of hoe klein jou betrokkenheid is nie. Alles wat jy in jou eie huis gebruik, gebruik ons 20 keer soveel.”

Vir meer inligting oor Rock of Hope, besoek hierdie webwerf.

Kyk na die opening van Rock of Hope se eerste Baby Saver-reddingsboks hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.